|
Lulu Latsky was die eerste vrou wat in 1930 'n doktorsgraad in
Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Haar
ongeveer 50 boeke vir kinders getuig almal van haar intense belangstelling
in die diereryk. Titels soos Diertjies en hul giertjies (1937),
Verhaaltjies uit die dierelewe (1939) en Soveel diere
soveel dinge (1960) verraai haar kennis oor 'n groot verskeidenheid
insekte, voëls, seediere, soogdiere en reptiele. Ook diere
wat nie inheems aan Suid-Afrika is nie, vorm soms die tema, soos
in Bere gaan te kere (1941), Oupa Bewer (1940) en
Tannie Tydsaam (1949) waarin sy luidier bekyk. Met haar populêr-wetenskaplike
werke is sy een van die eerste kampvegters vir natuurbewaring.
In die reeks Kennis vir almal was sy die redaktrise van
die afdeling vir Natuurstudie. Sy skryf self nege titels
in die reeks oor onderwerpe soos dierekommunikasie (Dieretaal
- 1945), eetgewoontes en die voedselketting (Die wêreld
is honger - 1948), kamoeflering (Oëverblindery -
1945) en die spinnekop (Spinnekopstreke - 1943).
Al Latsky se kinderboeke is geïllustreer, dikwels deur A.J.D.
Meiring. Heelwat van haar kinderverhale het eers in Die Jongspan
of Brandwag verskyn. Die voorwoord tot haar roman Die
martelgang (1941) wil kennis oor tuberkulose so oordra dat kinders
dit sal verstaan. Latsky skryf ook enkele Christelike verhale waaronder
Vrede en vreugde op aarde (1941).
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Diertjies en hul giertjies (1937)
- Verhaaltjies uit die dierelewe (1939)
- Bere gaan te kere (1941)
- Oupa Bewer (1940)
- Vrede en vreugde op aarde (1941)
- Die martelgang (1941)
- Bollie gered (1943)
- Spinnekopstreke (1943)
- Dieretaal (1945)
- Kleinbaas Eina (1945)
- Oëverblindery (1945)
- Die wêreld is honger (1948)
- Tannie Tydsaam (1949)
- Soveel diere soveel dinge (1960)
|