|
Maria Magdalena de Jongh is gebore op 1 Maart 1953. Sy word groot
in die Sandveld en gaan skool op Tzaarskuil en Suurfontein op plaasskole,
en matrikuleer aan die Aurora Hoërskool. Sy behaal 'n BA-graad
aan Stellenbosch en 'n honneurs in Engels aan Unisa. Sy bestudeer
ook Filosofie en Kunsgeskiedenis. Sy skryf sedert haar kinderdae.
Marietjie de Jongh is 'n onderwyseres. Sy het een seun en het al
op Kennhardt, Villiersdorp, Worcester, Richmond en Somerset-Oos
gebly. Sy verower die Alba Bouwerprys in 1992.
Marietjie de Jongh skryf slegs kinderboeke, en meestal fantasieverhale.
Tandkitaar (1981) is 'n vrolike fantasie op rym vir kleuters.
De Jongh en die illustreerder, Cora Coetzee, werk hier vir die eerste
keer saam. Die verhaal word vertel van die heks wat haar enigste
tand uitbyt op die kniekop van 'n hings en dan haar bes doen om
'n nuttige funksie vir die tand uit te dink. Niky Daly illustreer
Moeilikheid met Jan (1983), nog 'n rymverhaal vir kleuters.
Ons beleef hoe pampoensaad op 'n baie verbeeldingryke seuntjie sy
vuil kop begin groei en hoe hy radikaal krimp en groei as hy om
die beurt te min en te veel eet.
Nog 'n prenteboek op rym is Goeie maniere en ander plesiere
(1987). 'n Seuntjie gaan eet vir die eerste keer saam met sy familie
in 'n restaurant en kry die geleentheid om sy ma se lesse in goeie
maniere toe te pas. Hoewel 'n volwasse man die enigste karakter
in die die prenteboek Die man met die gaatjie in sy trui (1983)
is, steek 'n man met sy uitsonderlike lang neus 'n gaatjie in sy
trui. Ten spyte daarvan dat 'n vlooi hom byt, 'n by hom steek en
dit bitterkoud word, vergeet hy om die gat reg te maak.
Met Bietjie-kier en die man in die Karoo (1991) woon 'n
bo-aardse wese met bo-aardse vermoëns woon agter die son en
loer van bo af aarde toe. Hy sien mense wat dans, maar ook oorlog
maak. Hy kies dan om te bly in die landstreek sonder mense, die
Karoo. In Braam en die engel (1991) word 'n spesiale streeksengel
aangestel vir die streek van Wale. Die engel moes keer dat die mense
van ellende vergaan. In die sanderige dorpie, Anker, is daar net
een uur per dag wat 'n stormwind nie waai nie. In daardie uur moet
die mense inderhaas die berge stof uitvee. Dié mistroostige
mense het verleer om te lag. Die engel, Hnnereik is onbeholpe, hy
val uiteindelik van die skooldak af om op sy sitvlak te lande te
kom. Braam is ook nog 'n buitestaander omdat hy, tot sy pleegma,
se konsternasie, begin skaterlag. Haar histeriese reaksie veroorsaak
dat Braam wegloop van Anker.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Tandkitaar (1981)
- Moeilikheid met Jan (1983)
- Die man met die gaatjie in sy trui (1983)
- Goeie maniere en ander plesiere (1987)
- Bietjie-kier en die man in die Karoo (1991)
- Braam en die engel (1991)
Sy verower die Alba Bouwerprys in 1992.
|