|
Marietjie van Rooyen
het haar skoolloopbaan in 1962 op Petrusburg in die Vrystaat voltooi en in 1965
die graad BA aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat behaal. Haar
loopbaan as joernalis en taalredigeerder het begin in Port Elizabeth by Die Oosterlig,
die destydse susterskoerant van Die Burger, en is voortgesit by die Vaderland
in Johannesburg waar sy as rubriekskrywer begin spesialiseer het. In
1970 sluit sy by die redaksie van Sarie aan ná die publikasie van haar
eerste twee kortverhale. Benewens joernalistieke werk van wyd uiteenlopende aard,
het sy altesaam agt jaar rubrieke vir Sarie geskryf - die sogenaamde agterbladrubrieke.
Sy was ook vier jaar lank Pretoriase redakteur van Sarie. In
1982 verskyn haar bundel essays, Riet Aleen, by Tafelberg Uitgewers. Sedertdien
het sy sowat sestien kortverhale en essays gepubliseer wat in verskeie bundels
opgeneem is, soos Kortgolf wat in sy vyfde drukoplaag is (uitgegee deur
J.P. van der Walt en Seuns). Vrede op Aarde, Goue Fluit my Storie is Uit
(almal by Tafelberg Uitgewers) en Goue Eeu Stories, Sarie se Mooiste Liefdesverhale
en 50 Goue Agterblaaie (by Human & Rousseau). Sedert 1990 skryf
sy heeltyds en doen vryskutvertaal- en redigeerwerk. In
1994 verskyn haar eerste jeugroman, Die Vyfletterwoord, by Tafelberg Uitgewers
wat nou in sy derde drukoplaag is, en ook voorgeskryf is vir leerders in graad
10 in Wes-Kaapland en in graad 12 in KwaZulu-Natal. In 1997 verskyn Drie Maande
in Mei, ook by Tafelberg Uitgewers. Sedert
omstreeks 1980 het sy sowat vyftien boeke vertaal, onder meer, Kom ons Maak
Musiek, Waarom gebeur Slegte Dinge met Goeie Mense? en drie boeke uit
die Goosebumps-reeks (oftewel Grillers) van R. Stine, almal by Tafelberg Uitgewers. Publikasies:
- 1992:
Riet-alleen
(Tafelberg)
- 1994:
Die Vyfletterwoord (Tafelberg)
- 1997:
Drie Maande in Mei (Tafelberg)
|