|
Marita
van der Vyver is ’n gebore Kapenaar. Sy was op laerskool in Bellville
en Welgemoed, en op hoërskool in Menlopark en Nelspruit. Haar matriekjaar,
1975, was ook die Afrikaanse Eeufeesjaar. In ’n landwye kompetisie
vir matriekleerlinge het sy met haar vroeg ontwikkelde woordgevoeligheid
’n studiebeurs vir vier jaar losgedig. Sy is na Stellenbosch, waar
sy in 1978 ’n B.A. verwerf het. In 1979 het sy honneurs in joernalistiek
verwerf, en ’n paar jaar later, as deeltydse student, ’n meestersgraad
in joernalistiek met ’n tesis oor die vrou in die Afrikaanse pers.
Ná
universiteit het sy ’n jaar oorsee gewerk, onder andere as au pair
in die suide van Frankryk en as skottelgoedwasser in Londen. “Reis
doen baie meer vir my siel as ingevoerde rome vir my gesig,” het
sy in ’n onderhoud gesê.
Met
haar terugkeer het sy as verslaggewer by Die Burger gewerk,
as kopieskrywer by Leserskring, en daarna as artikelskrywer
by Sarie. In 1987 het sy vryskut begin werk om meer tyd vir skryf
te hê.
Haar
jeugverhaal Van Jou Jas (1982) is bekroon met ’n beginnersprys
in ’n wedstryd van Tafelberg en Sarie. Haar volgende twee jeugboeke,
Tien vir ’n vriend (1987) en Eenkantkind (1991) was
albei Sanlam-finaliste, en laasgenoemde is bekroon met die ATKV-prys
vir Jeuglektuur.
Haar
eerste roman vir volwassenes, Griet skryf ’n sprokie, het
in 1992 verskyn en was ’n blitsverkoper. Marita was ’n sensasie
— sy was op die radio, die TV en in haas elke publikasie, van Die
Kerkbode tot Scope. Die roman is bekroon met die ATKV-prys,
die M-Net-boekprys en die Eugène Marais-prys. Dit is wêreldwyd vertaal,
o.m. in Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans, Spaans, Sweeds,
Tsjeggies, en selfs in Chinees en Hebreeus. In 1997 is dit as toneelstuk
tydens die Klein Karoo Kunstefees opgevoer, en daar is sprake van
’n rolprent.
Marita
se volgende roman, Dinge van ’n kind (1994), was ’n inisiasieroman
oor tieners se grootword in die jare sewentig; ’n boek oor die begin
van vrouwees en die verlies van onskuld op seksuele, politieke en
morele vlak. Traumatiese gebeure soos die grensdood van ’n vriend,
selfmoord, dwelms en ’n tienerswangerskap vorm deel van die intrige.
Dit was ’n baanbrekerboek wat die grens tussen jeugboek en volwasse
fiksie verskuif het.
In
1997 is haar eerste boek vir jong kinders, Olinosters op die
dak (Human & Rousseau), met die Tienie Holloway-medalje vir
kinderlektuur bekroon. In dié jaar het sy ook die Internasionale
Beurs van die Stigting vir Skeppende Kunste gewen, wat haar in staat
gestel het om aan die International Writing Program van die Universiteit
van Iowa in die VSA deel te neem.
Terwyl
sy aan Wegkomkans gewerk het, het sy langer as ’n jaar in
’n idilliese Middeleeuse dorpie in Provence, Frankryk, gewoon. Sy
het die roman in Suid-Afrika voltooi. Wegkomkans is reeds
aangekoop deur Amerikaanse en Britse uitgewers. In 1999 het sy haar
in Frankryk gevestig. Deesdae woon sy en haar Franse man, Alain,
en hulle vier kinders op 'n klein dorpie in Provence
In
2001 publiseer sy Griet kom weer, wat reeds in Engels, Hollands
en Duits vertaal is, en in 2002 weer 'n jeugboek, Die ongelooflike
avonture van Hanna Hoekom, wat bekroon is met die tweejaarlikse
Sanlamprys vir Jeugfiksie en aangewys is as IBBY (International
Board on Books for Young People) se "Afrikaans Honour Book" vir
2004. Dis haar eerste jeugroman wat in Engels vertaal word. Hanna
Hoekom is na 'n film verwerk.
Haar
volgende volwasse roman, Vergenoeg, is reeds voor publikasie
in Oktober 2003 deur 'n Duitse uitgewer aangekoop.
Die
prenteboek, Mia se Ma, het in 2005 by Tafelberg verskyn.
Die mooiste sprokies van Grimm (Illustrasies Piet Grobler),
Human & Rousseau, 2010. Marita het haar persoonlike gunstelinge
onder die broers Grimm se sprokies gekies - die bekendstes, natuurlik,
maar ook sommige minder bekendes en selfs onbekendes - om te vertaal,
af te stof en op te poets.
Rimpelstories: Boomklim, Kagiso Education, 2004;
Rimpelstories: Die simpel dinge wat mense mis, Kagiso Education,
2004
Marita se webtuiste: http://www.maritavandervyver.info/index.html
|