|
Petri Jooste se eerste jeugroman, Nag van die nonnetjie-uil
(1986), het in 1986 onder die naam Petri Prinsloo verskyn. Dit is
egter met As alles anders was (1991) en Wanneer die musiek
ophou (1992) wat sy haar vestig as skrywer van jeugromans.
Henk Kruger, hoofkarakter van As alles anders was, is die
soort ou waaroor elke skoolmeisie droom. Sy veilige wêreld
word onderstebo gekeer wanneer 'n vreemdeling, wat ontstellend baie
na hom lyk, hulle lewens binnekom.
In teenstelling met bogenoemde verhaal, is die hoofkarakter van
Wanneer die musiek ophou, 'n rebel wat reeds vir die tweede
maal in graad 11 is, gereeld alkohol misbruik en in 'n seksuele
verhouding met 'n ouer meisie betrokke is. As straf het Jannes se
pa hom verbied om weer kitaar te speel vir die rockgroep, Kaleidoscope,
en die verhouding tussen Jannes en sy ouers versleg verder. Dan
verdwyn sy beste vriend en kort voor lank moet Jannes belangrike
besluite neem oor lojaliteit en eerlikheid.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Nag van die nonnetjie-uil (1986)
- As alles anders was (1991)
- Wanneer die musiek ophou (1992)
|