|
Pieter Willem Grobbelaar is op Kersdag in Bloemfontein gebore.
Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein in
1947. Hierna behaal hy die BA-graad en 'n MA-graad (1974) aan die
Universiteit van Bloemfontein. In 1981 verwerf hy 'n doktorsgraad
in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy werk as joernalis by Die Burger en Die Volksblad en trou in 1953
met Cornelia Joubert, 'n skoolvriendin. Hulle het vier kinders.
In 1956 word hy omroeper en regisseur by die SAUK waar hy onder
andere jeugprogramme soos By die boekrak en Skrywers van die toekoms,
'n poësieprogram, hanteer. Vir die sewende reeks van sy program
oor sy versamelde Afrikaanse volksliedjies, Die volk as digter,
ontvang hy in 1986 'n Artes-toekenning. In 1961 word hy uitgewersredakteur
by Tafelberg-uitgewers en in 1962 voltyds skrywer terwyl hy boer
op sy vrugte- en wynplaas in Franschhoek. In 1970 word hy dosent
in die Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis, waar hy later
professor word. Hy tree in 1995 af.
Hy is 'n baie produktiewe skrywer, vertaler, versamelaar en boekstawer
van en navorser oor Afrikaanse volksverhale, volksrympies, liedjies
en ander volkskundige sake. Hy skryf verhale gebaseer op Boesmanverhale,
Afrikaanse volksverhale, sprokies, legendes, sages en fabels, Swap-
en Uilspieëlverhale, Wolf- en Jakkalstories, historiese verhale
en verhale met grappies, getalspeletjies, raaisels, tongknopers,
'n skelalfabet, woord- en leesspeletjies, geheime tale, ensovoorts.
Hy ontvang die C. P. Hoogenhout-toekenning in 1968 vir Die mooiste
Afrikaanse sprokies (1968); die Tienie Holloway-medalje in 1971
vir al sy kleuterboeke wat geskik is vir hardop voorlees; die Katrine
Harries-toekenning in 1985 en 1989 onderskeidelik vir Die aarde
moet vry wees (1984) en Lank lewe Leeuhart (1987). Laasgenoemde
verower ook die eerste prys in Daan Retief Uitgewers se wedstryd
vir kinderboekillustrasies en in 1989 die Katrine Harries-prys.
Hy ontvang ook herhaaldelik eervolle vermelding van die SABV. Die
Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en die ATKV vereer hom in 1972
en 1975 onderskeidelik met 'n oorkonde vir sy werk oor die Afrikaanse
volksvertelling en met 'n erepenning vir sy volkskundige geskrifte.
In 1976 vereer die Federasie vir Rapportryerskorpse hom met 'n toekenning
vir sy werk oor die Afrikaanse volksrympie.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Ou Mi'kai vertel: hoe die melkweg sy vuur gekry het
(1963)
- Ou Mi'kai vertel: Tafelberg se karos (1964)
- Die vermaaklike lewe van Tyl Uilspieël (1967)
- Die groot dierestorieboek (1967)
- Die mooiste Afrikaanse sprokies (1968)
- Trippe trappe trone (1969)
- Aandstories vir kleuters (1970)
- Die avonture van die sewe swape (1972)
- Uit ou Mi'kai se dae (1976)
- Die groot Afrikaanse heldeboek (1976)
- My rooi rympieboek: los rympies vir lekkerlees en luister
(1977)
- Die groot Afrikaanse fabelboek (1978)
- Wolf en Jakkals in die lang pad, Jakkalsdraf en wolwedans:
Afrikaanse oustories (1982)
- Eendag was daar 'n domjan: Afrikaanse oustories (1983)
- 'n Koning genaamd leeu: Afrikaanse oustories (1983)
- Doer in Dierlandy: Afrikaanse oustories (1986)
- Uiltjie, Uiltjie in die spieël: Afrikaanse oustories
(1984)
- Klaas Naald-hulle: Afrikaanse oustories (1985)
|