|
Dr Riana Scheepers is gebore op 9 Desember 1957 in KwaZulu-Natal. Sy gaan skool
by die Hoërskool Vryheid waar sy in 1975 hoofmeisie is. Reeds op jong ouderdom
wen sy verskeie pryse in poësie en skryfkompetisies, asook etlike redenaarskompetisies.
Sy word vir twee agtereenvolgende jare (1974-1975) aangewys as die beste redenaar
in Natal. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Noord-Natal kleure
vir atletiek, swem en sierduik. In 1976 begin sy haar studies aan die UOVS
in Bloemfontein. Sy behaal die grade B.A. Kommunikasiekunde (cum laude), B.A.
Hons (Afrikaans en Nederlands) (cum laude), M.A. (Afrikaans) (cum laude). In 1978
is sy primaria van haar koshuis (Wag-'n-Bietjie) en word in 1979 tot die Sentrale
Studenteraad van die UOVS verkies. Sy was ook voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse
Vereniging (1978-1979) en die Kommunikasievereniging. In 1997 behaal sy 'n doktorsgraad
in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad oor die kortverhaaloeuvre
van Koos Prinsloo. Sy word in 2000 aangestel as lid van die Suid-Afrikaanse
Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 1988 aanvaar sy 'n pos as lektrise by
die Universiteit van Zoeloeland. Haar eerste kortverhaalbundel, Die ding in
die vuur, wat gaan oor die leefwêreld van die Zoeloes, word hier geskryf,
asook 'n groot gedeelte van haar tweede bundel, Dulle Griet. Literêre
Pryse: Die ding in die vuur is in 1991 bekroon met die ATKV-Prosaprys
en die FAK-prys. Dulle Griet het in 1992 die Akademie vir Wetenskap en
Kuns se Eugène Marais-prys verower. In 2003 verower sy die ATKV-Kinderboekprys
vir haar jeugroman Blinde sambok. Die Nederlandse vertaling van hierdie
boek, Scorpioenkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys
(2004) In 1990 aanvaar sy 'n pos as lektor by die Universiteit van Kaapstad,
en in 1995 sluit sy haar by Tafelberg Uitgewers as Skakelredakteur aan. In 1999
aanvaar sy 'n onderwyspos by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en begin die
Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke. Sedert 2002 is sy voltyds skrywer en plaasbestuurder. Haar
publikasies 'n Huis met drie en 'n half stories van 1994 (kortverhale)
en Die heidendogters jubel van 1995 (roman) is beide binne een maand herdruk.
Haar drie bundels "kombuisverhale" Haai Katriena, wat vertel jy my
nou!, Katriena, nou lieg jy mos! en Katriena, néé! was
blitsverkopers. Sy het die ongewone prestasie behaal deurdat drie van haar boeke
(die eerste twee Katriena-bundels en Die heidendogters jubel) in 1995 tegerlykertyd
op die Top Tien-verkoperslys vir Afrikaanse boeke was. In 1997 verskyn 'n
bloemlesing verhale waarvan sy samesteller is, getiteld Dogters van Afrika.
'n Derde Katriena-bundel, Katriena, néé! en haar doktorale
proefskrif getiteld Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes verskyn in 1998.
Feeks, 'n bundel kortverhale verskyn in Oktober 1999 en in Maart 2000 in
Nederlandse vertaling. Die Nederlandse vertaling van Feeks word binne een maand
drie keer herdruk. In 2001 verskyn haar eerste jeugroman, Blinde sambok
asook haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn. Twee rubriekbundels:
My voete loop na Wellington verskyn in 2003 en 'n Engel in my huis
in 2005. In 2006 verskyn haar eerste kinderboek Die avonture van Wilde
Willemientjie. Die musikale verwerking van die teks het tydens die KKNK van
2006 die gesogte Kanna-prys gekry vir die beste Kinderproduksie op die fees. Al
Riana se literêre publikasies is in Nederlands vertaal. Die titels daarvan
is:
- Dulle Griet ('n versameling van verhale uit Die ding
in die vuur en Dulle Griet);
- Onbevlekte ontvangenis (Vertaling
van 'n Huis met drie en 'n halwe stories),
- De Heidendochters
juichen (Vertaling van Die heidendogters jubel) en Die ding in die
vuur ('n versamelbundel van al haar kortverhale in een band).
- Dochters
van Afrika (bloemlesing)
- Feeks (Vertaling van Feeks)
- Dulle
Griet was no 2 op die Nederlandse Top Tien-trefferslys.
- Met die
taal van karmosijn (vertaling van Met die taal van karmosyn)
- Schorpioenenkind
(vertaling van Blinde sambok).
Die ding in
die vuur is 1998 in Spaans vertaal onder die titel Mujeres Zulues. Van
haar verhale het ook al in Frans, Engels, Pools en Esties verskyn. Riana
besoek reëlmatig op uitnodiging die buiteland en het al op uitnodiging lesings
gegee aan universiteite in Pole, Nederland en België. Sy word ook gereeld
gevra deur buitelandse instansies (soos Biblioteekverenigings) vir lesings en
voorlesings uit eie werk. Sy was in 1996 gas by die alternatiewe Boekebeurs (Het
Andere Boek) in Antwerpen en 1997 en 1998 gas van die Antwerpse Boekebeurs. Sy
het al verskeie lesingtoere oor haar eie werk en die Afrikaanse letterkunde in
Nederland, Friesland en Pole onderneem. In Maart 2000 was sy die gas van die
kultuurvereniging Geletterde Mensen en was op 'n uitgebreide voorlesingtoer in
Vlaandere. Sy is die Afrikaanse digter wat uitgenooi is om op 11 Julie 2002
deel te wees van die Vlaamse Parlement se 30-jarige herdenking waartydens 24 digters
vanuit die Nederlandse spraakgemeenskap hul poësie in die Parlement voorgelees
het. Ander publikasies en bedrywighede: - Leerbehoeftes van
swart adolessente. Draaiboek vir 'n televisiereeks van 52 episodes. [Opdragstuk
vir die SAUK TV: Afdeling opvoedkundige programme.] 1988.
- 'n Groot verskeidenheid
akademiese artikels in Suid Afrikaanse literêre tydskrifte;
- Radio-verslaggewer
vir Die Burger (1992-1995).
- Rubriekskrywer vir Die Volksblad, Beeld,
Burger asook die Belgiese koerant De Morgen.
- Huisgenoot se sosiale raadgewer
in die rubriek Vra dr Adri (2002 -)
- Tree by verskeie geleenthede op as
openbare spreker Skole, Leeskringe en Studiegroepe;
- Lid van die KKNK
se Kunstekabinet (1998-2003);
- Hoof van die Skryfskool vir Skryfkuns en
Kreatiewe Denke;
- Raadslid: SA Brandewynstigting;
- Raadslid: Afrikaanse
Taalmuseum.
Riana is getroud met Johann Loubser en woon op De
Compagnie Wynlangoed buite Wellington. Sy is voltyds skrywer en plaasbestuurder. |