|
Stella Blakemore is in 'n hensopper-tentjie naby Lindley in die
Vrystaat gebore. Haar ma was 'n musiekonderwyseres en Boeremeisie,
haar pa kaptein Percy Blakemore, 'n offisier in die Britse leër.
Hy verlaat sy vrou en kind vroeg om 'n beroepskaartspeler in Engeland
te word. Haar bekendste skuilnaam, Theunis Krogh, is ontleen aan
haar oupa aan moederskant - Theunis Johannes Krogh, ondersekretaris
van die republikeinse administrasie van President Paul Kruger.
Sy is van jongs af op kosskool. Na haar skoolopleiding verwerf
sy 'n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of
Music, sy studeer opera in Duitsland en gee jare lank onderrig in
Johannesburg en Pretoria. In 1933 trou sy in Londen met David Owen,
'n siviele ingenieur en saam reis hulle die wêreld deur. Hulle
woon onder andere in die destydse Ivoorkus, Italië, Engeland,
Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland. Sy sterf op 85-jarige
ouderdom in Ierland en word oorleef deur haar seun Peter, dogter,
Salene Lacoponi en ses kleinkinders.
Stella Blakemore se eerste werk is 'n toneelstuk, Die goue sleutel
(1931). Hierna skryf sy meer as 66 jeugverhale, waaronder die Maasdorp-
en Keurboslaan-reekse. Die eerste boek in die Maasdorp-reeks verskyn
in 1933 en in 1940 verskyn die eerste titel van die Keurboslaan-reeks
vir seuns. Sy publiseer ook 'n reeks van vier titels, die Rissie-reeks,
onder die skuilnaam Dien Grimbeek.
In die Maasdorp-reeks is die hoofkarakter die rabbedoe Kobie Malan,
lid van die groot Malan-gesin wat in Oranjezicht aan die voet van
Tafelberg woon. Rondom haar, die Drie Musketiers en hulle vriendinne
in die koshuis van Maasdorp Meisieskool, speel die gebeure af. Die
Keurboslaan-reeks is die manlike teenvoeter vir Maasdorp. Die hoofkarakter
in die Keurboslaan-reeks is die charismatiese, jong dokter Roelof
Serfontein wat 'n klein sukkelende privaatskooltjie uitbou tot die
gesogte eksklusiewe Keurboslaan Seunskool.
Die milieu van die Blourand-reeks (1944 - 1950) is ook 'n eksklusiewe
plattelandse meisieskool. Drie klontjies op Blourand (1950) vertel
byvoorbeeld die onwaarskynlike, maar boeiende verhaal van drie vindingryke
weeskinders wat wederregtelik by dié skool inskryf. Elfie
Apie en Carolus (1949) is die verhaal van 'n weesking wat by 'n
sirkus beland en deur Jobo, die nar ondersteun word. In Stryd om
Peta (1948) is die Delarey-skool 'n ekskusiewe meisieskool op die
platteland. Peta, 'n dogter van die onderdorp maak vriende met 'n
meisie by die skool. Die Rissie-reeks (1960) skryf Blakemore onder
die skuilnaam Dien Grimbeek. Dié reeks speel nie in 'n kosskool
af nie, maar vertel die wedervaringe van die vier Rissik-rooikoppe.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Die goue sleutel (1931)
- Maasdorp-reeks (1933)
- Keurboslaan-reeks (1940)
- Blourand-reeks (1944 - 1950)
- Stryd om Peta (1948)
- Elfie Apie en Carolus (1949)
- Drie klontjies op Blourand (1950)
- Rissie-reeks (1960)
|