|
Tania Brink is 'n jong Bloemfonteinse skrywer. Soos die meeste meisies van
haar ouderdom weier sy om oor haar ouderdom te praat, maar sy is jonger as Alanis
Morissette en ouer as Britney Spears. Sy is die dogter van twee baie normale
ouers en die eienaar van 'n baie abnormale hond. Op die oomblik bly sy in Bloemfontein,
waar sy as joernalis werk. Van sy vyf jaar oud is, is haar grootste droom om stories
te skryf. Liefde laat jou Rice Krispies anders proe is die eerste liefdesverhaal
uit haar pen. Sy beskryf dit as "'n stroperige liefdesverhaal vir tieners
wat siek en sat is vir stroperige liefdesverhale." Voorheen het sy 'n paar
grilboeke vir jong lesers onder 'n skuilnaam gepubliseer. Haar gunsteling
tydverdryf is om op maanligaande op die strand perd te ry. Ongelukkig bly sy deesdae
baie ver van die see af. Sy glo onverbiddelik in die krag van die liefde, die
wonder van sonbrandolie, prinse op wit perde, Sondagmiddagslapies en feëtjies. |