|
Ek het in Uitenhage grootgeword, waar ek in 1988
aan die Hoërskool Brandwag gematrikuleer het. Ná skool
is ek vir 'n wyle Stellenbosch toe, waar ek gedink het ek ingenieurswese
wou studeer, maar ek het redelik gou van plan verander!
Ek skryf al stories vandat ek kan onthou. As kind
was my stories definitief kinderlik en met kinders ingedagte, pynlik
uitgekap op my ma se Olivetti-tikmasjien. My groot inspirasie in
daai dae was Enid Blyton.
In my twintigerjare het ek probeer om my stories
by my ouderdomsgroep aan te pas en ek het begin kortverhale skryf
waarvan een darem deur die tydskrif Sarie aanvaar is vir publikasie.
Dit was nog in die dae voor ek 'n rekenaar gehad het, en Ma se Olivetti
moes ook maar verbykom daarvoor.
Toe my oudste kind seker so vyf of ses was, neem
ek vir die eerste keer deel aan die kinderstoriekompetisie in die
Baba & Kleuter-tydskrif. Dit het my lewe in 'n ander rigting
gestuur. Ek het jaar ná jaar deelgeneem, en die tweede of
derde jaar het een van my stories, Karools gaan Maan toe,
die middelblad van die tydskrif gehaal. Die jaar daarna (2004) was
ek saam met Franci Greyling een van die naaswenners in die kompetisie
(Leon de Villiers het gewen), en al is my verhaal, Wat as?,
nooit gepubliseer nie, was dit sekerlik die begin van my strewe
om 'n kinderboekskrywer te wees. Daar is niks lekkerder om te lees
as 'n lekker kinderstorie nie, want dit waag dikwels soveel meer
met die verbeelding. Daar is ook niks lekkerder om te skryf nie!
Sedert die Baba & Kleuter-kompetisie het ek
baie geskryf en voorgelê, maar nie so baie aanvaar gekry nie.
In 2009 word drie van my rympies opgeneem in die Nuwe Kinderverseboek.
September 2009 sien die verskyning van my eerste prenteboek, Aspris-krokkedis.In
Julie 2010 verskyn my tweede prenteboek, Karla Krullebol.
Ek woon op Port Nolloth, saam met my man, Cobus,
en twee seuns, Jannes en Mikhael. Dis 'n wonderlike, normaalweg
stil, dorpie wat meeste vakansies uit sy nate bars. Ons sit hier
op die rand van die Richtersveld, wat nog 'n baie spesiale plek
is. Ek is mal oor ons weer. Dit kan wissel van bewolk tot digte
mis, met net genoeg sonskyndae tussen-in. Ons vergaan bitter selde
van die hitte en selfs in die somer dra ek meer lang moue as kort.
My man is 'n kommersiële duiker en 'n regte
see-mens, en deesdae is hy meer gereeld bo-op die water met bote
besig, as wat hy onder die water is.
My twee seuns verskil amper agt jaar en hulle was
al die inspirasie vir menige gedagte, gedig of verhaal. Ek is mal
oor hulle, al gee hulle my soms grys hare, en sal my lewe nie sonder
hulle kan voorstel nie!
Ons deel ons huis met twee stokou honde, drie middeljarige katte,
twee splinternuwe budgies en 'n bloukoppapegaai genaamd Poppie.
As ek nie skryf nie, doen ek allerhande "arts en crafts".
Ek verf katte (wat gee jou die idee dat ek van katte hou!?), werk
met krale, tou, klippe, skulpe en enige iets, solank dit kreatief
is. Ek werk sommige oggende van die week vrywillig by die Port Nolloth-museum.
Die museum word gehuisves in 'n wonderlike ou hout-en-sink-huisie,
wat uit ongeveer 1880 dateer. Ek is baie geïnteresseerd in
ons omgewing se geskiedenis, en deel graag my kennis met enigeen
wat genoeg belangstel om te vra. Daar is 'n hoekie in die museum
se geskenkwinkeltjie waar ek Afrikaanse prenteboeke deur Afrikaanse
skrywers verkoop. Al is daar baie pragtige vertaalde Afrikaanse
prenteboeke, wil ek graag ons eie skrywers ondersteun. Ek het al
meer boeke aan besoekers van Pretoria en die Kaap verkoop, as aan
plaaslike Port Nolloth mense. Ek wonder somtyds hoekom! Is daar
geen Afrikaanse prenteboeke in Pretoria en die Kaap te koop nie?
As ek enigsins nog vrye tyd het ná skryf, my handwerk en
die museum, dan spandeer ek dit saam met my kinders. Ons gaan stap
graag op die strand. Ek het ook altyd my kamera byderhand, so ek
neem nogal 'n aardige hoeveelheid fotos. Ek speel ook graag rekenaarspeletjies
(ja, regtig!) en ek is mal oor lees. Gee vir my 'n boek wat ek nie
kan neersit nie, en karakters waarna ek begin verlang as ek daardie
laaste bladsy omgeblaai het!
|