|
Christina Maria Purchase is op 'n plaas in die distrik Lindley
gebore, as die derde oudste van tien kinders. Haar vader was Engelssprekend
en haar moeder Afrikaans. Sy gaan skool op 'n plaasskool en in Bethlehem
en word opgelei as onderwyseres aan die Normaalkollege in Bloemfontein.
Uit haar huwelik met die onderwysman, dr. John Edward Holloway,
is vyf kinders gebore. Sy het tot haar dood op die kleinhoewe, Skuilhoek,
langs die Morelettaspruit in Pretoria gewoon. Na haar dood is die
Tienie Holloway-medalje deur haar eggenoot geïnisieer en in
1970 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel.
Dit is 'n toekenning vir oorspronklike Afrikaanse kleuterlektuur,
vir kinders onder agt jaar spesifiek gerig op kinderverse. In 1979
is die Tienie Holloway-medalje postuum aan Holloway toegeken vir
die laaste twee bloemlesings van haar werk, Rympies van Tienie
Holloway (1978) en Versies van Tienie Holloway (1979).
Tienie Holloway het aanvanklik bekende Engelse kleuterryme vertaal.
Later is haar eie werk gepubliseer in Die Volkstem, onder
die skuilnaam Madelief. Sedert 1938 verskyn Die Haasbekkies en
ander Versies (1938), Hasie Kalbassie (1945), Nuwe
kleuterversies (1947), Doempie Domkop (1949), Martha-hulle
(1951) en Nuwe kinderversies (1955). In 1971 bundel Jan Kromhout
sommige van hierdie gedigte, asook van haar diereverse wat verskyn
het in Toevlugsoord van C.S. Stokes in Versies wat vonkel:
'n keur uit die kinderverse van Tienie Holloway. Nog twee bloemlesings
uit haar werk volg, naamlik Rympies van Tienie Holloway (1977)
en Versies van Tienie Holloway (1978).
Tienie Holloway het 'n baie belangrike bydrae gelewer in 'n tyd
toe daar 'n skaarste aan goeie kinderverse was. Dit is gepas dat
haar nagedagtenis vereer word met die Tienie Holloway-medalje vir
kleuterlektuur.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Hasie Kalbassie (1945)
- Nuwe kleuterversies (1947)
- Doempie Domkop (1949)
- Martha-hulle (1951)
- Nuwe kinderversies (1955)
- Rympies van Tienie Holloway (1978)
- Versies van Tienie Holloway (1979)
- Die Haasbekkies en ander Versies (1938)
- Versies wat vonkel: 'n keur uit die kinderverse van Tienie
Holloway
- Toevlugsoord
Tienie Holloway-medalje vir Rympies van Tienie Holloway
(1978) en Versies van Tienie Holloway (1979)
|