Verna Vels
 
Nov 2002


skrywers

storiemakers


 

 

Verna Vels is bekend vir haar baanbrekerswerk in die radio- en televisiebedryf, maar dit veral met die immergroen Liewe Heksie dat sy in kinders van alle ouderdomme se harte gekruip het.
Verna Vels

Verna Barbara Robertson Vels is op Reitz in die Oranje Vrystaat gebore. Sy het haar skoolloopbaan daar voltooi en is in 1952 na die Universiteit van Pretoria. In 1954 behaal sy die graad BA met drie hoofvakke, nl. Afrikaans/Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis.

In Desember 1954 sluit sy aan by die SAUK en begin haar uitsaailoopbaan by die Durbanse ateljees waar sy vroeg reeds 'n belangstelling in kinderprogramme toon en met skryfwerk in die rigting begin.

In 1963 word sy na Johannesburg verplaas waar sy vir etlike jare die vroue-, kinder- en kunsprogramme behartig.

In 1968 werk sy vir 'n jaar by Radio Nederland Wereldomproep in Hilversum.

In 1973 word sy verplaas na Durban as Organiseerder van die Afrikaanse Programdiens in Natal en word so die eerste vrou wat as organiseerder in 'n streek aangestel word.

In 1974 keer Verna terug na Johannesburg waar sy aangestel word by Televisie as Organiseerder van Afrikaanse Joernaalprogramme wat Kinder- en Jeugprogramme insluit. Programme soos Kraaines en Wielie-Walie ontstaan onder haar leiding en vir al die jare van sy betaan, is sy die stem van Wielie-Walie se Bennie Boekwurm.

In die twee jaar voordat televisie amptelik op 5 Januarie 1976 op die lug gaan, is Verna aktief betrokke by die vervaardiging en beplanning van programme en uiteindelik ook by die aankoop van programme in die buiteland.

Verna het redelik vroeg in haar loopbaan vir die radio begin skryf en dit is dan ook van hierdie werk wat uiteindelik gepubliseer is.

Die eerste Liewe Heksie-verhale is reeds in 1961 uitgesaai, maar dit was eers met 'n verdere reeks in 1963 dat die karaktertjie bekendheid begin verwerf het. Met die verloop van tyd is daar etlike Liewe Heksie-reekse uitgesaai.

Die eerste Liewe Heksie boeke verskyn in 1965 by die uitgewers Human & Rousseau. Deur die jare het altesaam 10 boeke, agt plate en etlike CD's die lig gesien. Die nuutste boek was Liewe Heksie en die rekenaar wat in 1999 verskyn het.

Liewe Heksie maak in 1978 haar debuut op televisie in 'n reeks van 26 programme en 'n tweede reeks volg in 1981. Vir die televisiereekse van altesaam 52 programme het Verna van die bestaande verhale verwerk en ook nuwe stories geskryf. Die reekse gee ook aanleiding tot 'n aantal boekies met illustrasies uit televisieproduksies.

Liewe Heksie het nie beperk gebly tot die uitsaaimedium en gedrukte woord nie. Sy het ook in dramas wat Verna vir kinders geskryf het, die verhoog betree en opgetree in voorportale van die "groot huise" soos die Nico Malan in Kaapstad, die Sand du Plessis in Bloemfontein en die Staatsteater in Pretoria. Verna het ook Liwe Heksiedramas geskryf vir Die Klein Karroo Kunstefees en vir die Drama Departement van die Universiteit van Pretoria ter viering van hulle dertigste bestaansjaar.

'n Jeugverhaal Alet wat Verna in 1965 vir die radio geskryf het, het tot 1977 vier uitsendings beleef en die boek Alet het in 1978 by Perskor Uitgewers verskyn.

Verna het heelwat verwerkings vir radiodramas, asook oorspronklike skryfwerk vir die volwasse radioprogramme gedoen. Van die bekendste en gewildste verwerkings vir die destydse radioteaters, was Nou reisiger ('n verwerking van die roman Now Voyager), Terug na Warskou en In die skadu van Vermeer.

Oorspronklike dramas o.a. vir die destydse Kleinteater was Helena van Troje van Eeden en Oom Henkie gaan saam en die vervolgverhaal Hanno wat twee uitsendings beleef het.

In Februarie 1983 is Verna aangestel as Programdirekteur: TV1 (Afrikaans) die hoogste pos wat 'n vrou in daardie jare beklee het.

Na etlike herstrukturerings binne die SAUK beklee sy verskeie verdere poste en tree in 1993 uit na 'n loopbaan van byna 39 jaar by radio en televisie.

Sy ontvang verskeie toekennings van Kultuurinstansies, o.a. in 1985 van Die Federasie van Rapportryerskorpse vir die publikasies van die Liewe Heksie-reeks, in 1993 'n erepenning vir kultuurbevordering van Dames Aktueeel, in 1996 van die FAK vir die bevordering van die Uitvoerende Kunste, veral in die Elektroniese medium en in 1993 'n Artes van die SAUK vir haar bydrae tot die Uitsaaiwese. In Junie 2002 ontvang sy die Tienie Holloway medalje vir kleuterliteratuur van die Akademie vir Wetesnkap en Kuns, in November 2000, van haar Alma Mater, die Universiteit van Pretoria'n Laureata-toekenning van Tuksalumni en in 2002 die CP Hoogenhout toekenning vir Kinderliteratuur van Unisa. Die toekenning is geborg deur die Protea Boekehuis.

Na haar aftrede, skryf Verna, afgesien van die nuwe Liewe Heksie-boek Liewe Heksie en die rekenaar, ook ander kinderverhale vir 'n stel van drie CD's wat sy saam met Gert van Tonder van Groep Twee en Wielie-Walie faam opneem. Verna doen die vertellings en Gert sing die liedjies.

Wat ander belangstellings betref, reis Verna graag en is veral hartstogtelik lief vir Frankryk. Sy het 'n groot liefde vir en belangstelling in musiek, die teater, kunste en films. Wanneer die geleentheid hom voordoen kook sy met groot geesdrif, al is dit soms met mindere sukses! Sy is ook 'n groot diereliefhebber met twee honde wat die huis regeer.

Liewe Heksie
Liewe Heksie in haar sterretjiekombuis.

(Inligting verskaf deur Verna Vels, November 2002)

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005