|
Wilhelm Otto Kühne is in 1924 gebore in die distrik Graaf-Reinet.
Na vier jaar in die onderwys tree hy toe tot die redaksies van Die
Burger, onder andere as seiljagverslaggewer, Die Huisgenoot
en Sarie Marais. In Die Klein Burger verskyn,
toe hy nog onderwyser was, sy eerste kinderverhale. In 1960 redigeer
hy 'n tydlank Die Jongspan en maak ook self bydraes. Hy is
in 1951 met Dorothy Margaret Hill, die bekende kinderboekillustreerder,
getroud. Sy het ook die meeste van sy boeke geïllustreer.
W.O. Kühne is by uitstek bekend vir sy ses Huppelkind-boekies:
Huppelkind (1958), Huppel maak 'n plan (1958), Wip-Huppel-Wip
(1959), Vrolike Huppelkind (1959), Huppel by die
water (1960) en Huppel verjaar (1960) wat almal by Tafelberg
verskyn het. Die verhale word in versamelbundels opgeneem in 1976
(Vrolike Huppelkind), 1982 (Huppel en sy maats, herdruk
in 1988), en in 1995 in 'n tweede hersiende uitgawe. Kühne
was die eerste ontvanger van die C.P. Hoogenhout-toekenning vir
Huppel verjaar. Dorothy Hill, sy vrou, het al die publikasies
geïllustreer, behalwe die 1995-uitgawe met illustrasies van
Alida Bothma.
Hoera vir Klaas Jas! (1975), Piet-'n-Jan (1975), Die
wonderbaarlike motor van Barnabas Bombas (1981), Pot, graaf
en houtvurk (1983) en Pip in Otterland (moontlik 1983)
en Eendag was daar 'n witborskraai: 'n fantasieverhaal (1985)
is ook op die jonger kind toegespits. In 1960 publiseer Kühne
sy eerste jeugboek, Kassie Krog in die knyp.
Die kring van Keerom (1962) was medewenner saam met Die
goue protea van Mikro van die eerste prys in die wedstryd vir
jeugverhale wat die Nasionale Boekhandel in 1961 uitgeskryf het
om die verskyning van die eerste Afrikaanse boek in 1861 te herdenk.
Dit het twee uitgawes en twaalf herdrukke beleef.
Die reeks Die nagvlieërs (1957), Die indringers
(1958) en Die mededingers (1962) is ligte avontuurverhale.
In Goue fluit my storie is uit: verhale, verse en raaisels vir
kinders (1988) waarvan Linda Rode die samesteller was, publiseer
Kühne ook 'n hervertelling van die Icarus-verhaal onder die
titel Die jong man wat te hoog wou vlieg.
Kühne het ook 'n aantal kleuterboeke vertaal of oorvertel,
soos Die flukse kabouters van Keulen (1969), My prentepoetseboek
(1976) met verse en manupileerbare prente, en vier boekies in die
reeks Bybelstories vir die kleinspan, naamlik Die geboorte
van Jesus, Moses in die mandjie, Dawid en Goliat en Die kindertyd
van Jesus, almal uit 1982.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Die nagvlieërs (1957)
- Die indringers (1958)
- Huppelkind-reeks (1958-1982)
- Kassie Krog in die knyp (1960)
- Die mededingers (1962)
- Die kring van Keerom (1962)
- My prentepoetseboek (1976)
- Die wonderbaarlike motor van Barnabas Bombas (1981)
- Die waterskeiding (1981)
- Pot, graaf en houtvurk (1983)
- Eendag was daar 'n witborskraai: 'n fantasieverhaal (1985)
- Goue fluit my storie is uit: verhale, verse en raaisels
vir kinders (1988)
C.P. Hoogenhout-toekenning vir Huppel verjaar
|