|
Franci Greyling
het in 'n huis vol kinders groot geword. As tweede oudste van sewe kinders het
sy dikwels vir die jongstes stories en speletjies uitgedink. Sy was 'n regte boekwurm,
het vroeg begin versies maak, en opstelle skryf was die lekkerste huiswerk. Nadat
sy matriek aan die Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging geslaag het, was
sy vir 'n jaar lank 'n student aan die Burgerlike Beskermingskollege in George.
Hier het sy, behalwe marsjeer, skiet, noodhulp en brandbestryding, ook geleer
om te tik. Hierna behaal sy - in die skadu van Potchefstroom se akkerbome - BA
en HOD met die hoofvakke Afrikaans, Sielkunde en Bybelkunde. Sy was aktief betrokke
by die studentelewe en het gedurig foto's geneem om dit self in die donkerkamer
te ontwikkel.
Sy
begin in 1981 by Hoërskool Overkruin in Pretoria skoolhou.
Vanaf April 1987 tot Junie 2002 is sy as Departementshoof Opvoedkundige
Leiding aan die Hoërskool Pretoria-Noord verbonde. Sedert Julie
2002 is sy dosent in Skryfkuns (Skool vir Tale) aan die Noordwes-Universiteit.
Haar eerste jeugverhaal, Die deurmekaarste herfs, verskyn in 1984. Verhale
teen 'n historiese agtergrond is Helena in die tyd van die tente en Dirkie
Drieka Frederika. Omdat
sy van nature nuuskierig is, het sy verder studeer. Sy verwerf BA Hons en BEd
(Psig) aan Universiteit van Pretoria en MA en PhD aan die PU vir CHO. Die studieonderwerpe
Ruimte in die kinderboek met verwysing na die werk van erkende Afrikaanse kinderboekskrywers
is onder leiding van dr. Elsabe Steenberg gedoen, en Die keuse, skep en voorstelling
van karakters in verhale vir 11-14-jariges onder leiding van prof. Hans du
Plessis. Franci
hou daarvan om skeppend besig te wees. Sy bou en onderhou die Storiewerf, maak
handgemaakte papier, en geniet dit om te reis en nuwe lande en plekke te ontdek.
Publikasies
- 1984:
Die deurmekaarste herfs (J.P. van der Walt)
- 1985:
Helena in die tyd van die tente (Tafelberg)
- 1988:
Dirkie, Drieka, Frederika (Tafelberg) Sanlamprys vir Jeuglektuur
brons
- 1991:
Om te wag op 'n duif (Tafelberg)
- 1991:
Kransduif en edelvalk (J.P. van der Walt)
- 1992:
Kort voor cul de sac (Tafelberg)
- 1995:
Die meisie van Melrosehuis (Human & Rousseau)
- 1997:
Vleuels soos die arende (Tafelberg) Tienerboek
- 2007:
Formule Drie, Twee, Een! (Tafelberg) Prenteboek saam met
Vian Oelofsen.
- 2007:
Formula Three, Two, One! (Tafelberg)
Boekies
as deel van 'n leesreeks by Unibook:
-
Om eendag te vlieg
- 1991
-
Meisie sonder naam - 1993
- Staptog
- 1994
Gediggies
in die Nuwe Kinderverseboek
Kortverhale en bydraes in Literator, Sarie, Beeld, Huisgenoot,
Taalgenoot.
|