|
Ek is 'n huisvrou in Holland. Eintlik woon ek in die provinsie
Brabant, maar Holland allitereer beter met huisvrou. Ek woon nou
al sewe jaar lank hier in die platland en lees graag Elisabeth Eybers
se latere gedigte om my daaraan te herinner dat ek nie die enigste
mens is wat ooit huis toe verlang het nie.
Ek het drie pragtige kinders en 'n baie liewe man. As ek nie die
huis skoonmaak, op my fiets rondjaag of met die kinders raas nie,
skryf ek! Ek skryf die heel graagste vir tieners en ek hou ook baie
daarvan om kortverhale te skryf. Vanjaar het ek ook my hand aan
'n volwasse niefiksie-boek vir Tafelberg Uitgewers gewaag. Verder
skryf ek ook graag keurverslae oor ander skrywers se manuskripte
vir uitgewers. Dit is vir my 'n wonderlike uitdaging om te probeer
verstaan waarom sommige stories werk en ander nie.
As kind het ek in die ou Noord-Transvaal op 'n plekkie met die
naam Alma grootgeword. Die "dorpsbiblioteek" was 'n kamer
aan die kant van ons huis. Ek het gevolglik enige tyd van die dag
of nag vrylik toegang gehad tot die vier vaal kaste vol boeke. Een
maal 'n maand het die provinsiale boekebus al die pad van Nylstroom
af gekom om boeke om te ruil. Dit was elke keer vir my 'n hoogtepunt
om met die trappie in die bus in te klim en al die nuwe boeke te
ruik. Om 'n lang gesprek met mevrou Veldsman, die reisende bibliotekaresse,
te voer, wat duidelik dieselfde gevoel vir boeke as ek gehad het.
En om as die bus weg is, iewers onder 'n boom te gaan sit en lees
en lees en lees.
Op laerskool was ek dol op Elsabe Steenberg se boeke. Later op universiteit
het ek haar somtyds op die kampus gesien, maar ek was altyd te bang/skaam
om 'n gesprek te begin. Blou is 'n bokkie en Boom, bomer,
boomste sal altyd gunstelinge bly! Ek was ook gek oor Helena
Lochner, Hester Heese en C.S. Badenhorst se boeke - onthou jy nog
die bloeddorstige Assie? Danda op Oudeur het my aangegryp
soos min ander boeke en ek wens Chris Barnard wil meer/weer vir
die jeug skryf. Ag, daar was so baie wat ek oor en oor gelees het:
Jeanetta, die Tessa- en Groenheuwelreekse, Fritz Deelman, die Buiter
en natuurlik Die Uile. Keurboslaan en Maasdorp lees ek nou nog gereeld
en verlustig my steeds aan die wonderlike doktor Serfontein. O ja,
en dan was daar die (nou, polities uiters onkorrekte) Offerland
en Gelofteland.
My lewe het tot nou toe interessante draaie gemaak. Ek het ná
my studie in Kommunikasiekunde aan die PU vir CHO (Noordwes-Universiteit)
'n verskeidenheid van werke gedoen en uiteindelik by die SABC opgeëindig.
Daarna het ek 'n tyd lank deeltyds klasgegee in Kommunikasiekunde.
Ek het ook 'n storie-uur vir kinders aangebied. In 2004 het ons
Nederland toe verhuis vir my man se werk en hier sit ons nog steeds!
Ek is dol op boeke en my versamel-manie grens aan die skrikwekkende.
Hier in Nederland kry ek ook die geleentheid om die Europese jeuliteratuur
van naderby te leer ken en dit gee my weer dieper insig in my eie
skryfwerk. Nederlands is 'n moeilike taal om te skryf en reg te
praat. My kinders skaam hulle altyd dood vir hulle ma. Maar die
taal dwing 'n mens om oor Afrikaanse na te dink. Jy sien Afrikaanse
spelling en herkoms van woorde weer in 'n nuwe lig.
Wat ek deesdae lees? Ek lees soveel jeugboeke moontlik en dit is
vir my onmoontlik om alles neer te skryf waarvan ek hou. Jong(er)
jeugskrywers in Nederland wat my beïndruk, is Francine Oomen
en Simone van der Vlught. Ek wens die Spanjaard Carlos Luis Zafon
wil meer vir kinders skryf en die Duitse Cornelia Funke kan ook
meer van haar laat hoor. In die Engelse wêreld het ek onlangs
vir Karen Cushman en Celia Rees ontdek. Soos Simone van der Vlught
skryf hulle historiese romans. Ek het nou skielik 'n ding met historiese
romans. Dit laat my wonder oor die Buiter-boeke wat ek as kind gelees
het. Dit sal interessant wees om nou historiese romans in Afrikaans
te skryf binne die nuwe Suid-Afrikaaanse geskiedenis-konteks. Afrikaanse
jeugboekskrywers maak my bitter opgewonde: Daar is soveel nuwe talent!
Afrikaanse tieners het nou darem boeke om van te kies en te keur!
Hoewel ek prenteboeke uit my kinderjare onthou - veral die werk
van Richard Scarry, het ek 'n hele nuwe belangstelling as volwassene
daarvoor ontwikkel. Deels as gevolg van Marjorie van Heerden wat
my by meer as een geleentheid onthaal het op haar ongelooflike kennis
van die genre. My gunstelinge sluit die werke van Maurice Sendak,
Richard Scarry, John Prater, Shirley Hughes, Quinten Blake, Joke
van Leeuwen en Max Veldthuis in. Daar is 'n klomp Suid-Afrikaanse
skrywers/illustreerders wat werk van internasionale gehalte lewer,
onder andere Joan Rankin, Niki Daly, Piet Grobler, Jaco Jacobs,
Alida Bothma en Marjorie van Heerden.
Publikasies:
Glam-divas
- Talia - (LAPA Uitgewers) 2011
Bydraes vir kortverhaalbundels
- Skreeu en ander verhale - (LAPA Uitgewers) 2010
- Sweef en ander verhale - (LAPA Uitgewers) 2009
- As almal ver is. Suid-Afrikaners skryf huis toe - (Tafelberg)
2009
Publikasies: Klub 17
- Fransisca - (Perskor) 1998
- Stevie - (Perskor) 1998
- Nikki - (Perskor) 1999
- Broers - (Perskor) 2000
|