jongklomp

storiegedorie!

 

Ek het ook van hierdie boek gehou...

Dis alweer die eksamen en ek het lanklaas 'n boek gelees, dit moet ek nou maar erken. Nou die aand sit ek toe mos in ons sitkamer voor die TV en verwonder my aan al die twak wat op TV is toe ek my kop na my ma se boekrak draai. En vir die eerste maal seker sedert die eksamen begin het dink ek weer aan lees. So toe staan ek op en laat my oë so bietjie oor die titels van die boeke dwaal. Dit verstom my hoe moeilik dit is om 'n boek te kies in my ma se boekrak omdat ek heelwat van hulle klaar gelees het en die res nie regtig wil lees nie. Net toe ek begin dink aan opgee val my oog op die helder oranje buiteblad van Voorvaders kan vlieg, sê Delores.

Die boek is deur Reinet Nagtegaal geskryf en ek het al haar dogter se boek gelees en was nogal nuuskierig oor hoe die ma sou skryf. Ek moet sê, daardie boek is een in 'n miljoen. Dis verreweg een van die beste boeke wat ek nog ooit gelees het. Die ongelooflike komiese manier hoe Delores se ooraktiewe verbeelding vir haar 'n voorvader optower met wie sy kan praat en voor wie sy kan perform. Die tragiese deel van haar ma wat verkrag is en met die MI-virus besmet word tot die vreemde dele waar Delores haar ou liefde, 'n surfer, weer opsoek. Tussendeur is daar vreemde familielede soos broers en kinders wat kom kuier en die simpel sielkundige wat Delores nie verstaan nie. Die boek het 'n baie groot indruk op my gemaak met al die straatteater dele wat skreeusnaaks is en Delores se liefde vir kosmaak. Die boek eindig op 'n hoogtepunt wanneer Delores weer haar ou stokperdjie/werk aanpak met bietjie hulp van haar geliefde surfer. Want Delores is 'n uitgeweke aktrise en die lus om voor die kamera te draai en swaai en haar wimpers te fladder bly mos maar altyd in haar. Ek beveel die boek defnitief aan vir enige tiener (meisie) wat bietjie afleiding soek van eksamenwerk.

Mika Stanvliet (14)

Ek hou van Reënboogrant omdat dit so baie met my eie lewe vergelyk. Soos byvoorbeeld : Daar is ook 'n Rachelle in my skool... ook 'n Pierre... ook 'n Liz... ook 'n Ans. Ek was jammer toe ek nie die laaste boek van die Studentereeks kon kry nie! Ek het al die ander gelees!

Este Verhave (13)

Ek hou van Reënboogrant omdat die storie baie na aan die werklike lewe van 'n kind, tiener en student is dit wat met hulle in die reeks stories gebeur kan met jou ook gebeur byvoorbeeld toe Sunnette-hulle deur die sluiper aangeval is. Dit gebeur daagliks al oor die wêreld. Ek versamel ook die boeke.

Tiané Goosen (14)

Een van die grootste kopsere wat onderwysers (veral taalonderwysers) deesdae ervaar, is kinders se gebrek aan 'n behoefte om te lees. Ons skool het juis nou met 'n weeklikse verpligte speltoets begin om die leerlinge se spelling op standaard te kry, siende dat die woord "dame" weinig in 'n Aardrykskunde-vraestel voorkom, maar die woord "damme" wel gereeld. Almal hamer gedurig op die feit dat kinders nie meer lees nie, maar net rekenaarspeletjies speel omdat dit 'n moderne wêreld van fantasie verteenwoordig. My oplossing: gee vir hul leesstof wat aan albei hul behoeftes voldoen! 'n Beter kombinasie het ek nog nêrens gevind as in die Reënboograntreeks nie. Ek vind die boeke fassinerend, en so eg aan my eie leefwêreld.

Toe ek die eerste keer Partytjies en Panaries (Tieners 1) gelees het, het ek vir amper 'n week getob oor Dolf wat so onregverdiglik (maar tog so ridderlik) sy hoofseunskap verloor het. Die lekkerste van die Reënboograntreeks was die droom oor die hoërskoollewe en die twyfel oor wat dit alles sou inhou. En tog het jy deur die loop van die verhaal geleer dat die regte ding jou altyd veilig anderkant besorg, al kom jy 'n bietjie vuil en oes daaraan. Redes waarom ek (as 'n tiener) die Reënboograntreeks aanhang:

  1. Dis in 'n verstaanbare idioom gekryf. Saartjie, Trompie en al die ander reekse bly vir 'n regte boekwurm 'n treffer, maar die gemiddelde hoërskoolkind wat wil lees, wil lees van sy/haar lewe, soos dit is. Wie op dees aarde sal nou ooit sonder selfone of rekenaars regkom? Of lang vlegsels dra skool toe?
  2. Dit word in 'n Afrikaanse skryfstyl aangebied, wat die jong Afrikaanse mark aantrek. Stoere Afrikaanse liefhebbers sal dit as verkeerd beskou agv die anglisismes en Engelse woorde, maar die punt is: watter tiener praat nog suiwer Afrikaans? Afrikaans is 'n gebruikstaal, dit pas aan by die mens se behoeftes.
  3. Dit het tipiese karakters, maar nie voorspelbaar nie. Elke skool het 'n Rachelle en 'n Dolf, maar 'n paartjie van dié kombinasie kom maar min voor. Dit sorg egter vir verrassing. Verder is die spanning wat die leser beleef so eie aan 'n krisis wat jy/sy al self ervaar het, of is die omstandighede baie na aan die Ware Jakob.

In kort, Reënboogrant spreek tot jongmense en bring die goeie in 'n tienerlewe uit. Maar bo dit, dit maak 'n mense lus om tyd aan fiksie te spandeer - iets wat my Afrikaanse onderwyser sal waardeer... (En hopelik my M-telling sal verhoog!)

Carla-Mari van den Heever (18)


Ander het gesê - Wat sê jy?


Gunsteling karakters:

Liewe Heksie (Liewe Heksie-reeks), Doktor Roelof Serfontein (Keurboslaan-reeks), Sannie Langtand (The adventures of Sannie Langtand), Fiela Komoeti (Fiela se Kind), Uilspiëel, Liewe Heksie, Marzanne (Liefde laat jou rice krispies anders proe) Dolf Brink (Reënboogrant), Harry Potter (Harry Potter-reeks)...

Gunsteling boeke:

Keurboslaan-reeks, Die Uile-reeks, Harry Potter en die Orde van die Feniks, Liewe Heksie en die rekenaar, Fiela se Kind, Moerbeibos, Kringe in 'n Bos, Thomas@aqua.net, Die Koning se Wingerd ...

Gunsteling skrywers:

Nickey van Schalkwyk, Dalene Matthee, Jeffrey Archer, J.K. Rowling, Helene de Kock, Theunis Krogh, Tolkien, Marita van der Vyfer, Roald Dahl, Hergé, Carina Diedericks-Hugo, Jaco Jacobs...

Ek het toe ek in standerd twee was die hele Keurboslaan-reeks gelees. Ek was toe effens klein om alles te kon verstaan, maar toe ek dit so 'n maand terug weer saam met my 14-jarige suster begin lees, het ek eers regtig die krag van die boeke ontdek. Ek kon byna alles van 7 jaar terug onthou só 'n indruk het die boeke op my gemaak! Dit is regtig ongelooflik en ek sal enige leser aanraai om hierdie boeke te lees (verslind is dalk 'n beter woord!) en weg te raak in die wêreld van die Serfonteins!

Stefan van Zyl (17)

Ek het nou onlangs 'n ou reeks weer ontdek wat absoluut die moeite werd is om te lees, nl. die Keurboslaanreeks! Nog steeds het hierdie reeks, in besonder Dokter Serfontein (boek1) 'n groot invloed gelaat. Theunis Krogh het die manier om nie net onderhoudend te skryf nie, maar ook om intrige, en misterie ook te gebruik in sy skryfstyl. Dit maak van die boeke 'n moet vir jong... EN ... ouer lesers! Veral lesers van Maasdorp en Harry Potter sal versot raak op die boeke!!

Vivien Marais (19)

Sommer een naweek was ek redelik verveeld en lus vir iets nuuts. Al die boeke op my boekrak was al voos gelees en buitendien het ek hulle almal uit my kop geken. Ek stap toe sommer in die sitkamer in en 'browse' bietjie daar deur die boekrak. Van die boeke het ek nog nooit een gesien nie. Ek besluit toe om 'n uitdaging aan te gryp en Dalene Matthee se Moerbeibos te lees. Net daar het ek begin en 3 dae later sit ek die boek neer, klaar gelees. En was dit 'n 'nice' boek! Ek was mal daaroor! As enigeiemand kan skryf kan Dalene Matthee. Ek is nou besig met nog een van haar bos-boeke en ek is seker dit sal net so lekker wees as Moerbeibos. Silas Miggel is 'n karakter en 'n half en die manier hoe hy sy dogter, Mirjam oppas, is te goed vir woorde. Christie raak so bietjie irriterend maar in geheel is die boek wonderlik. Jy leer daaruit en dis net 'n lekker boek om te lees. Aan die einde van die boek kon ek soms nie eens die boek neersit om te eet of slaap nie, jy moet eenvoudig weet wat volgende gebeur! Dalene Matthee is 'n boekskrywer en 'n driekwart en ek sal vir ewig 'n 'fan' bly. As jy jouself 'n guns wil doen... lees Dalene Matthee se bos-boeke.

Mika Stanvliet (13)

Ek het twee jaar terug Harry Potter begin lees (dit was in die middel van eksamens) en ek kon net nie die boek neer sit nie, dis asof ek self betowerd was, dit was amazing. Ek het vrot gedoen in my eksamens, maar ek is baie bly ek het die boeke gelees. Ek het al al die boeke gelees en ek gaan definitief vir my die sesde een koop. Harry is absoluut fantasties en sy 2 pelle gee ook die laaste touch and die boek. Toe ek Harry Potter and the Order of Phoenix lees, het ek begin huil toe Sirius vermoor was, ek was selfs lus om my boek op te skeur, maar in elk geval, ek sal enige iemand aanmoedig om dit te lees, en vergeet van hierdie satanisties bollie, dis mos nou nie asof jy 'n stuk hout gaan vat, dit in 'n towerstaf gaan maak en die "spell" gaan probeer nie, dis mos nou net plein mental. Ek het selfs 'n crush op Daniel Radcliffe aka Harry Potter, want hy het die talent, en ek hoop dat hy nog vir altyd sal act, want hy is so amazing. Die boeke is ook regtig amazing, en dis alles te danke aan J.K. Rowling, sy is absoluut cool. Ek het seker al die boeke al 10 keer deur gelees en dit word net beter want dan verstaan ek goed wat ek voorheen nie verstaan het nie, en ek moet sê dat sy my geinspereer het om boeke te skryf, sy is my rolmodel en ek wil eendag net so mooi boeke skryf. So vreeslik dankie vir al jou harde werk, ons almal is vasbeslote aan jou "towerwêreld"!

Christelle Engelbrecht (13)

Ek wil maar net alle oningeligte mense inlig van `n fantastiese boek! Die boek is ook nogal gewild! Hanna Hoekom is `n regte leesplesier en mens kan jouself ure lank net dieper en dieper in Hanna se probleme en ervaringe ingrawe! Hanna dink dat sy die mees onmoontlike en aanmekaargelapte huisgesin nog ooit het maar hoe verkeerd was sy tog nie! Sy en haar aangelapte gesin gaan nou op `n tipe wittebrood in die middel van wel, nêrens en ou Hanna se 2 boeties se ma kom nog ook kuier en Hanna se vriendin en haar pa kom kuier `n regte partytjie! Jolyt en vet pret somtyds lag jy hardop! Tussendeur alles probeer arme Hanna ook nog `n lewensverhaal skryf en toe...word haar sussie gebore! `n Liewe dingetjie! Maar wat sal die naam wees? Kwakwa? Water? AG TOG! Gaan Hanna se probleme nooit ophou nie? Wel, miskien kom als nog reg... eendag!

Mika Stanvliet (13)

Hi, julle sal my nie glo hoe vol avonture Harry Potter en die Orde van die Feniks is nie. Harry Potter is die seun wat bly leef het en die heer Woldemort probeer al die afgelope 4 jaar wat Harry in Hogwarts is, om hom dood te maak. Hierdie jaar is hy in nog meer gevaar. Genoeg van my praatjies, laat ek vir julle van 'n brawe avontuur vertel. Harry Potter sit alleen by Lugisterlaan waar hy saam met sy oom en tante moet bly en dit is tog so vervelig. Hy het nog nie een brief van sy vriende Ron en Hermien gekry nie. Hy stuur baie briewe maar kry nie 'n antwoord nie. Dan kom 'n klomp towenaars om vir hom na sy peetpa se huis te vat! Dit is verskriklik en hy is VREESLIK kwaad vir sy vriende. Hierdie jaar by Hogwarts is daar 'n nuwe Donker Kunste Onderwyser. Harry is ook baie bang by sy peetpa se huis want daardie vakansie het twee DEMENTORS vir hom en sy neef Dudley aangeval. Hy moet 'n verhoor bywoon in die Ministerie vir Towerkuns en gelukkig is hy vrygespreek. Laat ek nou by die lekker deel kom. Die nuwe onderwyser laat nie toe dat hulle towerspreke in haar klas doen nie. Harry en sy vriende het 'n geheime Donker Kunste groep gevorm. Harry vind uit dat sy peetpa Sirius Swardt gemartel word in die Ministerie van Towerkuns en hy en sy vriende Ron, Hermien, Neville, Mania en Ginny gaan soontoe om hom te red. Daar is CHAOS en 'n groot bakleiery en Harry se peetpa gaan dood en Harry is vreeslik hartseer. Daar is nog baie meer avonture as jy die boek self lees. Ek kan glad nie wag totdat die volgende Harry Potter uitkom nie.

Lara Bester (10)

Balkie is my beste storieboek ooit! Mamma het dit vir my gekoop by die CNA met haar eie geld - sy sê altyd sy het nie maar dan koop sy tog boeke vir my. Ek lag lekker vir Balkie - hy's 'n Balkie, nie 'n hond nie. Ons het 'n hond - nie 'n Balkie nie, sy naam is Chucky. Ek dink Balkie sal baie van hom hou - hy lig sy pootjie op as hy sy naam hoor en dan sleep hy die mop na sy hok toe. Mamma raas met hom as hy die tynslang kou, maar ek dink sy tande jik want hy's klein. Dankie vir Balkie, ek voel in my hart baie lief vir hom!

Retha van der Walt (8)

Nog storiegedorie boeke
Terug na storiegedorie!

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012