
Ek
is op soek na leesboekies vir my kleuter. Hy is nou twee jaar
oud. Ek soek spesifiek Afrikaanse boekies wat ek kan voorlees
maar wat maklik hanteerbaar is.
In
die afdeling Oondvars word die nuutste boeke wat in Afrikaans
verskyn bekend gestel. Dalk moet jy veral kyk na Oondvars
Haasbekkies en Oondvars Bababoeke.

Ek
wil boeke van Storiewerf bestel. Hoe doen ek dit?
Storiewerf
verkoop nie self boeke nie, maar dien slegs as skakel tussen
boekmense. Besonderhede van nuwe boeke word in Oondvars
geplaas. Gebruik die koop by skakel om by die betrokke uitgewer
of verspreider se webtuiste uit te kom.

Ek
koop by Kalahari.net. Hoe kan ek deur Storiewerf aankope doen
by Kalahari?
Al
wat nodig is, is om 'n Kalahari.net-skakel op Storiewerf
te gebruik (dit het 'n unieke nommer). Jy doen dan bloot
aankope soos gewoonlik. Die stelsel registreer dat die transaksie
via 'n Storiewerfskakel plaasgevind het. Storiewerf verdien
'n klein kommissie op aankope wat help om die kostes van
die webwerf te dra.
Jy
kan Kalahari.net skakels kry onderaan die keuselys van al
die hoofbladsye. In die Oondvarsafdeling is daar by die
individuele boeke die skakel "koop by kalahari.net" wat
deurpoort na die spesifieke boek op Kalahari.net. Hiervandaan
kan jy dan 'n soektog na enige ander produk doen.

Ek
woon in die buiteland. Ek wil graag ons seuntjie (4 maande)
Afrikaans leer. Kan julle asseblief vir my voorstel watter
boeke ek vir hom nou al kan koop en lees.
Vir
babas bly die beste boeke maar kartonboekies. Lapa Uitgewers
het die Trek-die-lintreeks, Die Saamdra-reeks en Wie sê
moe en Wie woon hier. Human het Kielie my magie en ook mos
'n reeks Saamdra-boekies. Vier maande en sewentien maande
is te jonk om al te begin met konvensionele prenteboeke.
Babalela se grootste aanhangers is min of meer twee en 'n
half na drie jaar oud, so sekere prenteboeke sou kom werk
vanaf so min of meer hierdie ouderdom. (Antwoord verskaf
deur Miemie du Plessis, Lapa Uitgewers.)

Ek
woon in die buiteland. Waar kan ek Afrikaanse kinderboeke
bestel?
Die
beste plek om by aan te klop is kalahari.net (http://www.kalahari.net).
Hulle is die groot e-boekhandel in Suid-Afrika. Besoek
gerus die webtuiste om te sien watter dienste gelewer
word. Lapa-Uitgewers gee ook baie oulike kinderboeke uit.
Kontak vir Miemie du Plessis MiemieD@atkv.org.za om uit
te vind oor aflewering in die buiteland. Besoek die webtuiste
by: http://www.lapa.co.za
Waar
kan mens Liewe Heksie DVD’s of videos koop?
Die
videos is beslis beskikbaar by die SAUK se winkel in die
Televisiegebou in Johannesburg. Skakel Riki by SAUK bemarking
by 011 714-5603.
Pick 'n Pay hou ook van die videos aan, dus is dit dalk
die moeite werd om eers daar te probeer.
Die SAUK is tans ook besig om DVD's van Liewe Heksie te
laat maak, maar dis nog nie bekend wanneer dit gereed sal
wees nie.
(Antwoord verskaf deur Verna Vels.)
Waar
kan ek die Storieman-reeks koop?
Elsa
Smit LISTENERS' LIBRARY (Pretoria) Alkantrantbiblioteek
Tel/faks: (012) 348 2480 storieman@mweb.co.za
Meer
inligting.
Ek
het aan 'n Daan Retief kinderboekklub behoort as kind.
Is daar iets soortgelyks in die mark beskikbaar?
Miemie
du Plessis (Kinder- en jeugboekuitgewer LAPA Uitgewers)
antwoord: Die enigste boekklubs waarvan ek weet, is
die Disney- en Barbie-klubs (daar kan dalk ander ook
wees) van Jacklin Enterprises.
Ons
hier by LAPA het nie 'n klub nie, maar jy kan wel elke
drie maande ons katalogus in die pos ontvang en dan
kinderboeke via 'n posbesteldiens bestel. Daar is geen
verpligtinge aan verbonde soos wat die geval is met
byvoorbeeld Leserskring nie. Jy hoef nie te bestel as
daar niks is waarin jy belangstel nie. Laat weet as
ek jou posadres op ons lys moet plaas. miemied@atkv.org.za
Waar
kan ek inligting oor skrywers kry? (Ek het heelwat inligting
nodig oor die skrywer vir navorsing, 'n praatjie of 'n skooltaak.)
Die
heel beste plek om inligting oor 'n Afrikaanse skrywer
te kry is by NALN - die Nasionale Afrikaanse Letterkundige
Museum in Bloemfontein. Hulle kan help met navrae oor
letterkunde, musiek en toneel. Kontakbesonderhede: Tel:
051 405-4034. Privaatsak X20543, Bloemfontein, 9300. E-pos:
naln@sac.fs.gov.za
Kan
julle vir my/my kind help met redenaars? Ek het nie 'n idee
hoe om 'n redenaarstema te benader nie. Is daar enige boeke
te koop wat my kan help?
Storiewerf kry dikwels navrae soos hierdie, maar kan nie
help om toesprake te skryf nie. 'n Baie oulike bron is
die boekie "Maklikgemaakte redevoering vir elke keer sukses"
deur Jovan Peters. Dit is in 1982 deur Daan Retief Uitgewers
gepubliseer. Ongelukkig bestaan die uitgewers nie meer
nie en ek glo ook nie die boekie in meer in boekwinkels
beskikbaar nie, maar dalk kan jy by die biblioteek 'n
eksemplaar raakloop.
Ek
soek 'n monoloog vir 'n kunswedstryd.
Op Kollig is monoloë
en samesprake beskikbaar. Gebruik gerus een van dié
tekste. Stuur net 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil
gebruik. Kopiereg behoort aan die skrywer.
Hierdie is die enigste monoloë wat Storiewerf beskikbaar
het. Storiewerf kan nie help met die aanbeveling van alternatiewe
stukke nie.

Ek wil 'n kinderboek skryf en ook graag self die illustrasies
doen. Nou wonder ek of daar spesifieke vereistes is wat uitgewers
stel vir illustrasies. Is dit raadsaam om die hele boek te
illustreer en dan na 'n uitgewer te gaan met teks, illustrasies
en al, of is dit beter om eers net met die teks te gaan?
Miemie
du Plessis van Lapa Uitgewers antwoord: Ek weet nie van
ander uitgewers nie, maar ek stel eerstens belang in die
teks. Slegs indien ons die teks publiseerbaar vind, sal
ons 'n illustreerder opdrag gee om illustrasies te skep.
Ons verkies om illustreerders van ons keuse te gebruik,
aangesien ons vir die onkostes daaraan verbonde verantwoordelik
is. Enigiemand is egter welkom om proef-illustrasies voor
te lê (ook die outeur) nadat die teks vir publikasie aanvaar
is.

Hoe
gaan mens te werk om 'n kinderboek te laat publiseer (in Afrikaans)?
1)
Jy kan jou verhaal aan enige uitgewer wat kinderboeke publiseer
stuur. Geen illustrasies is nodig nie. Die uitgewer lees
dan die manuskrip en besluit of hulle dit wil uitgee. Omdat
die drukkoste (veral vir prenteboeke) baie duur is, keur
uitgewers die manuskripte wat hulle vir publikasie oorweeg
baie versigtig. (Wenk: As jy na nuwe kinderboeke kyk, kan
jy sien watter uitgewers kinderboeke uitgee.)
2)
Gebruik kompetisies as geleentheid om jou werk onder uitgewers
se aandag te bring. 'n Kompetisie is gewoonlik groot pret
en gee mens die geleentheid om jou werk teen dié van ander
te meet. (Die Sanlamprys vir Jeugliteratuur word byvoorbeeld
elke twee jaar deur Tafelberg Uitgewers uitgeskryf.)
3)
Jy kan jou werk self laat uitgee. Daar is heelwat instansies
wat hiermee kan help - jy moet net bereid wees om te betaal
en self die boek te bemark.
4)
As jy terugvoering kry, let goed op die keurderskommentaar.
Dit behoort jou instaat te stel om jou werk te verbeter
en moontlik later gepubliseer te kry. Alle sukses toegewens!

Waar kan ek van my werk heen stuur om 'n professionele
opinie daaroor te hoor? Ek skryf graag Afrikaanse gedigte
en lirieke en wil ook nou 'n kortverhaal probeer skryf.
Die
ATKV-Skryfskool lewer nou ook diens as skryfagentskap. Jy
kan jou manuskrip hierheen stuur vir kommentaar. Kontak
die ATKV-Skryfskool vir meer inligting en die koste van
die diens (018 299-1783).

Ek
wil baie graag my verhale in 'n tydskrif laat publiseer. Kan
ek dit net sommer stuur of moet ek eers toestemming vra? Moet
ek die tydskrif kontak, en met wie moet ek praat?
Tydskrifte
het gewoonlik 'n verhaleredakteur. Kyk by die lys van redaksielede
wat by die inhoudsopgawe beskikbaar is. Dis nie nodig om
eers toestemming te vra nie - stuur bloot jou verhaal met
'n kort begeleidende briefie. Hulle sal dan die verhaal
keur en jou laat weet of dit geskik is vir publikasie. Onthou
net om 'n afskrif van jou verhaal te hou en moet nie moed
verloor as dit nie aanvaar word nie. Die meeste skrywers
het 'n laai vol afgekeurde manuskripte! Slyp jou talent
en een of ander tyd sal jy sukses behaal.

Ek
is 'n potensiële skrywer. Waar kan ek 'n skryfkursus
volg?
Daar
is verskillende moontlikhede om 'n skryfkursus by die Noordwes-Universiteit
(PU vir CHO) te volg.
1)
Skryfkuns as universiteitsvak. Skryfkuns word voltyds aangebied
op die oomblik kan die vak op eerste- en tweedejaarsvlak
geneem word. Nagraadse studiemoontlikhede is ook beskikbaar.
Vir meer inligting oor die vak kontak Franci Greyling by
sktsfg@nwu.ac.za of (018) 299-1781.
2)
Oorweeg dit ook gerus om 'n kursus by die ATKV-Skryfskool
te volg. Die jaarlikse Herfsskool is baie gewild en ideaal
vir mense met beperkte tyd. Kontak die ATKV-Skryfskool by
018 299-1783.

Stuur
tog asb. vir my spesifikasies vir die tik van 'n manuskrip.
Kantlyne, lettertipes, groottes ens. Hoeveel reëls per
bladsy, hoeveel woorde. Ek is besig om vir iemand 'n manuskrip
te tik vir die eerste keer en weet nie mooi hoe nie.
Basil
van Rooyen gee in sy boek "How to get published in
South Africa" (Southern Book Pubishers, 1994) die volgende
riglyne:
-
Tik op een bladsy van A4 papier.
- Maak
voorsiening vir breë kantlyne regs en links (so 1.25
cm is gewoonlik in orde).
-
Gebruik dubbel spasiëring. 'n Bladsy wat so getik
is, het gewoonlik ongeveer 300 woorde op 'n bladsy (so
10 woorde per lyn en 30 lyne).
- (My
eie ervaring: gebruik 'n maklike leesbare lettertipe,
soos Times New Roman 12p. Serif lettertipes lees makliker
as sans serif soos Ariel.)
- Nommer
elke bladsy (volgens Basil regs bo).
- Die
eerste lyn van 'n nuwe paragraaf word aangedui met vyf
spasies.
- Tensy
daar 'n spasie in die gedrukte boek moet wees, moet spasies
nie tussen paragrawe oopgelaat word nie.
- Begin
'n nuwe hoofstuk op 'n nuwe bladsy.
- Die
bladsye moet los van mekaar ingedien word. As dit met
'n papierknip of krammetjie gebind word, maak seker dat
dit maklik losgemaak kan word.
- Stuur
die oorspronklike manuskrip na die uitgewer, maar hou
altyd 'n afskrif.
- Basil
het ook heelwat wenke indien mens die manuskrip op 'n
disket inhandig (bl 120). Dalk loop jy dié handige
boek in die biblioteek raak.
- Indien
jy baie twyfel, is dit die beste om maar navraag te doen
by die betrokke uitgewer aan wie die ms voorgelê
gaan word.

Ek
het 'n klompie gedigte en kort stories wat ek wil publiseer,
maar ek weet nie watter stappe om te volg en wie om te kontak
nie. Kan u my dalk verwitting van wat om te doen of wie om
te kontak?
Soos
jy seker weet, het die boekebedryf deur 'n moeilike stadium
gegaan. Uitgewers dink dus twee keer dink voordat hulle
'n manuskrip vir publikasie aanvaar. Daar's uitgewers wat
in jare nie digbundels gepubliseer het nie. Moet egter nie
dat dit jou heeltemal ontmoedig nie, maar kyk na verskillende
opsies:
1)
Daar's heelwat webwerwe wat gedigte plaas en ook 'n paar
wat ruimte vir kortverhale het. Loer bietjie tussen die
skakels op Storiewerf -http://www.storiewerf.co.za/grootmense/skakels.htm
2)
Soek ook geleenthede om in tydskrifte te publiseer en neem
aan skryfkompetisies deel. Dis goeie ervaring en op dié
manier kom jou werk en jou naam dalk net onder die regte
mense se aandag!
3)
Stuur voorbeelde van jou werk na uitgewers en vra dat hulle
dit spesifiek moet oorweeg vir versamelbundels. Maak net
eers seker of 'n uitgewer wel gedigte/kortverhale publiseer.
'n Lys van uitgewers is beskikbaar op die SACBF se nuwe
webwerf. http://www.sacbf.org.za/pub.html
4)
Jy kan natuurlik ook jou werk self laat uitgee. Daar is
heelwat instansies wat hiermee kan help - jy moet net bereid
wees om te betaal en self die boek te bemark.
5)
As jy terugvoering kry, let goed op die keurderskommentaar.
Dit behoort jou instaat te stel om jou werk te verbeter
en moontlik later gepubliseer te kry. Alle sukses toegewens!
|