|

|
|
Kindertyd
se leesstof... Wie onthou wat?
|
 |
Dis lekker
om weer te lees van ou 'vriende' en die lekker van die stories
te onthou. Die nuuskierigheid om te weet wat hierdie of daardie
karakter nou weer gaan aanvang.
My ma het my op nege jaar aan die lees gekry met Cor Dirks se
Uile reeks. Ons het om die
beurt hoofstukke voorgelees in die aand voor ons gaan slaap het.
En ek het nooit weer terug gekyk nie.
Ek was elke tweede dag by die biblioteek om nog vier boeke uit
te neem. Van die Uile tot Saartjie
en die Keurboslaan reeks. Ek kan
in my gedagtes nog sien waar elke reeks in die bib se rakke is.
Daar is 'n paar boeke wat se name ek vergeet het en net die storie-lyn
kan onthou. Ek sal tot vandag nog huis skoonmaak Los en eerder
opkrul met n boek.
Juanita
Smit.
|
 |
Ons
het op 'n plaas gebly so 40 km van die naaste dorpe af,
Nylstroom en Warmbad. Ons het na die plaaslike plaasskool
Uitsig toe gegaan. Uitsig was baie klein (net so 40 kinders!)
maaaaar dit het 'n eie biblioteek gehad! Maar die ding van
lees kom veel vroeer.... Op die buurplaas het Tant Heleen
Koekemoer die rondreisende biblioteek in 'n staalkas beman.
Van my vroegste herinneringe is hoe ons soontoe is en dan
kon ek kies, al was daar maar net een groot rak van klein
kinderboekies. Dan is ons terug huis toe en dan het my pa
vir my gelees, in daardie dae het ek gehou van boeke met
mooi en helder illustrasies. Was dit hier waar ek Huppel
en sy maats ontdek het?
My ma het in die dorp gewerk en so het ek toegang gehad
tot die Vonk, Patrys, Jongspan, Tina
en ja, Bollie! Dit het
nogal tot baie frustrasie gelei vir my arme ma want as sy
die nuwe tydskrif die huis ingebring het , kon hoor en sien
vergaan, ek wou net my tydskrif lees.
Met verloop van tyd is ons toe laerskool toe, en ontdek
ek toe die biblioteek en leer ek alsmaar om baie vinnig
te lees en word daardie beperking van twee boeke per week
my kruis... So ontdek ek Trompie en
die Boksombende, Die Uile, Saartjie, Kobie-hulle, Keurboslaanstories.
Die reekse was nie volledig nie en wanneer ek by
my Tannie Hannah gaan kuier het, het sy my na hulle dorpsbiblioteek
geneem en dan begin die pret van vooraf. Groot was die vreugde
as ek nog 'n boek in die reeks opspoor.
In my tienerdae was 'n biblioteek vir my die plek waar ek
tot rus kon kom, of droom, of dink of wonder. As student
by die Randse Afrikaanse Universiteit het die boekwereld
ontsaglik groot geword, maar ek sal nooit my eerste besoek
aan die Johannesburg stadsbiblioteek vergeet nie. Dit was
soos heilige grond! En raai watter reekse gaan soek ek toe
weer om te sien of daar nie tog iewers nog een in die reeks
te vinde is nie?
Erika Steyn
|
 |
Patrys:
Die
bende-wapens! Onthou julle dit? Bladsye vol kentekens en
wapens vir bendebedrywighede.
Ek kan nie meer onthou op watter manier ek elke maand my
Patrys bekom het nie, maar of dit nou d.m.v. die pos of
self-gekoop-innie-kafee was, die eerste (en lekkerste!)
ding was om deur die bendewapens te 'scan'. Dit was sò
inspirerend dat jy daar en dan `n bende 'gestig' het as
jy nie aan een behoort het nie!
Onnodig om te sê, na so twee weke het die bende òf
`n gestadigde dood gesterf òf met `n vreeslike geveg
ten einde geloop... en dan kon jy in volgende maand se Patrys
wéér vir `n wapen soek!
Annatjie
Pistorius
|
 |
Ek is
nou twintig en ek ken nog steeds die wysie wat speel as
Storieman begin. "
Luister na die klank 'ghong' en blaai dan om". Ek kan
nou nog presies sê watter prentjies is op die tassies
waarin die kassette en die boeke gekom het. Die Sneeuwitjie-prentjie
was vir my die mooiste. Ek het altyd die stories wat op
die kassette was op die tassies se prentjies gaan soek.
Ek weet ook dat die storie van Die heks van Heksrivier
in Storieman drie is en daar is so groot swart perd op die
boekie se voorblad is. So dis nie baie moeilik om te raai
watter kasset my gunsteling was nie.
Kyk
ons het Storieman baie geluister. My arme ouers het menigte
kere uitgehou om Storieman kasset na Storieman kasset te
luister as ons iewers heen ry. Ons het so draagbare radio
gehad wat oral saam op vakansie gegaan het, saam met die
twee ou tassies. So vanselfsprekend lyk ons boeke redelik
geskeur en deur geblaai en party val uitmekaar.
My beste
maatjie toe ek klein was, Petro, het Storiemuis ook gehad.
Ek was so jaloers. Ek wou altyd die Storiemuis kassette
by haar leen, maar sy het altyd nee gesê. Dit hare
en net hare.
Storieman
het ons verwysingsraamwerk geword. Later het ek ander boeke
ook gelees en ek was kwaad as daar 'n "Storiemanstorie"
in was.
Nou
nog ken almal Storieman. As jy net iets sê van Storieman
het almal 'n storie om te vertel of 'n opmerking om te maak.
Storieman is meer as net kassette en boekies vir my, dit
is 'n deel van my kinderjare.
Elana
van der Vyver
|
 |
My leeservaring
in my jeug en kinderdae is ongelooflik beperk. As kind het
ek altyd gespeel en deur my spel alle stories en avonture
in my kop uitgeleef. My oupa's en ouers het altyd vir my
stories vertel, maar ek kan nie een storie onthou nie, behalwe
die spookstories wat hulle my vertel het. Ek het gevoel
dat boeke net vir die "nerds" was. Ek het ook
aan hiperaktiwiet gely en kon nooit lank genoeg konsentreer
om 'n bladsy te lees en nie eers te praat van 'n hele boek
nie. As 'n jeugdige het ek al my tyd bestee aan sport. Ek
het amper elke sportsoort beoefen en was daar nie veel tyd
vir lees nie nie. Dit het egter als verander toe ek die
meisie spesie ontdek het. Ek het liefdesgedigte, romans,
ens. gelees laat dit by my ore uitgekom het. Mitologie bestudeer
en as daar enige iets romanties was, dan het ek dit geabsorbeer.
Dit het daartoe gelei dat ek ander tale se gedigte gelees
het en ook romans van verskillende tale. Ek het toe agter
gekom dat boeke nie eintlik so sleg is nie en het toe meer
begin lees.
Jonathan
Perrin
|
 |
Ek het
grootgeword in n huis van boeke, nie net by die biblioteek
uitgeneem nie, maar self gekoop. My oorlede pa het in die
vlaktes van die Dorperland (Kenhardt) grootgeword en sy
ontvlugting was boeke en nogmaals boeke. My eerste ervaring
was toe ek as 5-jarige n wedstryd gewen het met n
opstel wat ek geskryf het en my prys... n boek
met die naam Die Rooi Ridder.
My pa is twee jaar later oorlede en ek het al sy boeke geërf,
n paar duisend om presies te wees. Ek het begin met
die oorspronklike Rooi Jan-reeks
(gedruk in die jare 1930 en later) die Afrikaanse vertaling
van Tarzan deur MC van Schoor,
Die avonture van Fanie (Fanie
word Grootwildjagter ens), die Bushies,
Keurboslaan, FA Venter se boeke (wie kan die onvergeetlike
Man van Sirene vergeet?) Karl Kielblock, veral die verhale
van Frits Deelman, die Uile-reeks
(self aangekoop en net een gemis uit die hele reeks)
Ramala-reeks, Buiter reeks, Oloff
die Seerower, Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn,
Trompie, Huppelkind, Heidi, Famous five, Hardy Boys
(ons moes ook Engels lees) ens.
Later
ons meer gevestigde skrywers soos Elmar
Steyn, Ena Murray, Tryna Du Toit, CF Beyers-Boshoff, Ela
Spence, Nan Jenning, Johan Jordaan (Vors
van die Vlakte), Wille Martin, Christoffel Lessing
(Ek Ellendige Mens seker een van die bestes van alle
tye) Largo en so kan ek opnoem. Die latere vertalings het
gevolg met Konsalik op sy beste.
Ek het stelselmatig die boekery uitgebrei en het tans meer
as 5 000 boeke in die huis waarvan baie ook Engels is (James
Bond series, The Saint en n ongekende versameling
Readers Digest Condensed Volumes my laaste telling
was meer as 50 daarvan). Ek het verskeie vertalings van
die Bybel met my trostse besitting n Hoog Hollandse
familiebybel wat uit 1834 dateer.
Tot
vandag toe gryp ek die beskikbare oomblik aan vir lees
die beste ontspanning wat daar is en sluit mens werklik
af en herlaai die batterye. My seun (Ricky) het die liefde
oorgeëf (moet seker wees as die vyde geslag met die
familienaam) en lees van hy vyf jaar oud is sy eie boeke
en skryf vir himself stories waarvoor mamma moet prentjies
teken. Hy self het reeds sy eerste boek gewen hier op Storiewerf
en het die boek alreeds meer as een keer deurgelees
hy is nou net so versot soos ek en is heilig op sy boeke
( en as aanvullende lees in sy eerste skooljaar het hy weggespring
met pa se 1968 Sus en Daan en my ou Bollies en Jongspanne
wat nog in die kas lê en so dan en wan afgestof word).
Ons kinders word vandag anders as ons groot en ek is net
dankbaar dat myne lief is vir lees ons doen dit saam
en geniet ons self gate uit
Louis Buys
Pretoria
|
|
|
Ons drie kinders was van kleintyd af lesers.
Nogal vreemd, want in ons huis was daar net enkele (of sal
ek se een) boeke om te lees, t.w. Adoons-hulle.
Ek wonder wie onthou dit nog? My mees geliefde boek was
Die hut van outa Tom.
Ek het gereeld trane gestort oor die treurige verhaal. Ek
het onlangs gesien die boek is weer beskikbaar by Kalahari
Boeke. Ali Baba and the Forty Thieves
was tweede in populariteit. Ek het in Graad III (toe standerd
1) die storie so baie gelees dat ek dit woordelik kon voordra
aan my onderwyseres. Later het ek toegang gehad tot die
plaaslike biblioteek en het ek als verslind. Kinders van
vandag is bevoorreg. Ek het na die dood van my ouers as
jong kind die Engelse Ensiklopedieë gelees in my tannie
se huis. Die mites en legendes in die Ensiklopedieë
se taalgebruik was bo my vuurmaakplek, maar lees wou ek.
Woorde en hul betekenis het duidelik geword in konteks.
Vandag is my kennis, taalgebruik en woordeskat in Engels
steeds besonder goed. Leesgroete.
Marie Cloete
|
|
|
In 1980 was ek nege jaar oud en ons het
op die dorpie Leonardville in, toe nog Suidwes, gebly. 'n
Klerk van Standard Bank het weekliks uit Gobabis gekom om
banksake te behartig op Leonardville en het dan by ons hotel
(Hotel la Ville) oorgebly. Hy het altyd boeke by hom gehad.
Van TV was daar nog geen sprake op daardie stadium in Suidwes.
Hy het vir my eendag die Rooi Ridder
reeks saamgebring en gesê hy dink ek sal daarvan
hou. Tot op daardie stadium was Sus en Daan my stapelvoedsel.
Vandat ek die eerste boek oopgeslaan het was ek gebind en
kon ek nie wag om middae by die huis te kom om te lees oor
die avonture van die Rooi Ridder en Koenraad. Dis waar my
liefde vir lees begin het en ek sal graag weer daardie emosie
wil herleef.
Patrick Nel
|
|
|
Ek is
aangenaam verras om te sien dat Storieman
weer verkrygbaar is. My dogter is nou al 33 jaar oud en
steeds 'n ywerige leser. Behalwe dat ek dit my werk gemaak
het om haar lief te maak vir lees is sy ook 'n slagoffer
van Storieman en Storyman. Sy het die bandjies oor en oor
geluister en die boekies aanflarde hanteer. Sy was een van
die baba's wat selde geslaap het en om my sinne te behou
het ek hardop gelees. Gou het ek agtergekom dat Ingrid Jonker
se gedigte vir haar mooi was. Op drie maande? Ek glo dit
was die ritme van die taal wat haar kalmeer het. Sy was
baie klein toe kon sy al opsê: "Moenie slaap nie,
Kyk, agter die gordyn begin die dag dans met 'n pouveer
in sy hoed".
Rene van
Wyngaarden
|
|
|
|
"Ek het met genoegdoening
gelees hoe die jeug, jonger en ouer nog die Keurboslaanboeke
geniet. Ek kon die kleingoed se ouma gewees, maar ek weet
presies na meer as 50 jaar hoe hulle die boeke geniet. Wys
jou net. Skryf 'n goeie storie en jy het 'n wenresep."
"Onthou
niemand dan meer die Fanie-reeks
deur P.J. Schoeman nie? Ek het Fanie
word Grootwildjagter in die boekrak opgespoor toe
ek 'n tjokkertjie was."
"Toe
ek klein was het ek Fritz Deelman
en die Uile geniet."
"Die Tarzanreeks
staan verseker bo-aan my lys van gunstelingboeke uit my kindertyd."
"Ek was mal oor die Saartjie
boeke en het hulle almal seker twee maal gelees."
Wat was jou gunstelingreeks
as kind? Vertel bietjie nostalgie@storiewerf.co.za
|
|
|
|
Daardie
winter het ek so 'n rooi truitjie gehad. Van dié soort
waarin 'n mens sommer so wegraak. Daar was 'n kaggel in die
sitkamer en my onderbewuste wil-wil iets onthou van rooibostee
met te veel suiker. Ja, dit was rooibostee en gebreide slaapsokkies.
As
kleuter het ek nou nie veel verstaan van maande en jare nie,
maar ek het wel verstaan dat ek vier jaar oud was en een keer
per maand kom daar so 'n kleurvolle pakkie met my naam op
by die huis aan. Toegedraai in karton met 'n oerwoudmotief
op. En binne-in was keer op die die allermooiste boeke. Oor
varke en prinsesse. Drake wat kaas maak en ruimtewesens wat
maan toe trek. Tog is dit snaaks hoe 'n mens op een boek aandring.
Tussen die ander honder en vyftig op die rak sou ek telkens
dieselfde een uitkies. Pienke.
Pienke was 'n pienk-rooi papegaai wat wegraak as 'n seuntjie
by sou ouma kuier. Sie storie het vir my in absolute vervoering
gehad. Ek wou opsluit 'n pienk papegaai hê, kompleet
met 'n hok, spieëltjies en klokke. Nodeloos om te sê,
ek moes maar tevrede wees met die storieboek.
So
besluit ek toe dat daar net een uitweg is, ek sal moet leer
lees. Dan is ek uit almal se hare en kan sommer wraak ook
neem deur heeldag te lees net wat ek wil! Maar selfs op vier
is 'n mens soms tot ongelooflie diaboliese planne instaat.
Dié gelesery moes in die geheim plaasvind. Soos 'n
wafferse klein Holmes begin ek toe so skelm-skelm lees. Hoe
ek dit reggekry het, weet nugter. Bietjie hier uit die Kinderbybel,
bietjie daar in Huisgenoot en 'n paar maande later sit ek
af om vir my pa die verhaal van Phillipus te lees. Was nogal
vreemd dat niemand juis 'n opheg gemaak het nie, eers later
sou ek hoor dat my pa gedink het my ma het my geleer lees
en my ma het gedink my pa het die edele taak verrig.
Na
'n jaar of wat het Saartjie gevolg,
daarna Trompie, Uile
en al die gebruiklike jeugliteratuur, soos jong bleeksiele
in wording mos maar maak. Maar deur die Drie
varkies en later Sus, Daan, Kees
en daardie verdekselse kalkoen, het Pienke
steeds my gunsteling gebly. Nou die dag krap ek in
die studeerkamer rond en kom af op 'n boks vol kinderboeke.
Paultjie Polisieman, Die
boef, Snater,
die hele versameling Grimm en
Pienke. Die blaaie was taai toe
ek daardeur blaai. En skielik het ek weer vier gevoel. Nostalgie
dalk? Klein vingermerkies het aan die bladsye geklou. Op bladsy
twaalf was daar 'n rooibosteevlek. En ek het gewonder of Donna
Claire hierdie seisoen rooi truie in voorraad het.
Christi
Kruger
|
 |
|
Hoofsaaklik
geel en baie swaar was my gunsteling boek toe ek vier was.
My pa het 'n beurs gekry om vir 'n jaar navorsing te gaan
doen in Duitsland en toe het hy besluit om die hele gesin
saam te vat vir 'n jaar van ongelooflike avonture. My ma is
'n bibliotekaresse en weet wat se boeke om te vat as jy 'n
kind moet besig hou. So kon ek en my boetie en sussie elkeen
een boek kies om op die vliegtuig te vat vir die lang reis
na die onbekende Duitsland. Onthou boeke is swaar goed en
mens dra moeilik aan die skatkiste van die verbeelding, veral
kinders wat moeg is. Maar so gesê en so gedaan kies
ek toe my Sprokies van oor die wêreld..
Sprokies
van oor die wêreld is so dik soos 'n telefoonboek
en so groot soos 'n Huisgenoot se Wenresepte. Op die
voorblad is daar 'n skets van 'n samoerai met 'n gruwelike
grinnik besig om sy swaard te trek. Agter hom jaag 'n man
met rooi bol wange 'n slee met trekhonde en aan die ander
kant 'n groot seerowerseilskip oppad na die skedel wat op
die voorgrond lê tussen pienk blommetjies. Die boek
was vir my onweerstaanbaar. Vreeslik onheilspellend en vol
beloftes van gevaarlike goed en onbekende mense en dinge.
So gesê, so gedaan gaan die boek toe in my rugsakkie
met 'n kwaai waarskuwing: "Onthou, ek gaan jou nie help
dra nie! "
Op
die vliegtuig na die opstyg was dit tyd vir die boekies om
uit te kom voor iemand 'n scene maak van verveeldheid. Met
drie kinders moes my ma maar bontstaan om almal tevrede te
hou, maar gelukkig was ek heel bedeesd soos ek weggeraak het
in die prente van die avonture waarvan ek deel was in my verbeelding.
My lyf was oppad oorsee terwyl my gedagtes nog verder plekke
oor die aardbol bereik het. Die swaar dra was toe die moeite
werd.
Marthea van
Belkum
|
 |
|
Ek was mal oor die Saartjie
boeke en het hulle almal seker twee maal gelees.
Met werkende ouers en huisreëls wat TV tot 5 uur in die
middae verbied het, kon ek Vrydaemiddae nie wag om biblioteek
toe te gaan nie. Die rabbedoe Saartjie het my op avonture
gevat wat my verbeelding goed op hol gesit het en my baie
planne gegee, sy het vir baie ure se leesgenot gesorg, en
was gereeld pousetyd by die skool die hoofonderwerp waaroor
ons vriende groep gesels het. Later was tot die seuns opgewonde
oor Saartjie. Saartjie was eerlik en het 'n goeie uitwerking
op ons gehad. Dit was "goeie kattekwaad" Saartjie kon ons
lekker laat lag en sy het altyd vir ander omgegee. Wens die
werklikheid kon so maklik wees.
Cindy
Barkhuizen
|
|
|
My man is krieket toe en ek kan my besig
hou met een van my gunsteling tydverdrywe. Die rekenaar
en internet. Ek het lanklaas ingeteken by storiewerf en
het met genoegdoening gelees hoe die jeug, jonger en ouer
nog die Keurboslaanboeke
geniet. Ek kon die kleingoed se ouma gewees, maar ek weet
presies na meer as 50 jaar hoe hulle die boeke geniet. Wys
jou net. Skryf 'n goeie storie en jy het 'n wenresep. Ek
het nou baie tyd op hande aangesien ek afgetree het en ek
wil volgende week begin om weer die Keurboslaan boeke te
lees!
Rene van
Wyngaarden (Katryn)
|
|
|
My ma het rondom die ouderdom van 5/6 jaar
vir my een van die grootste geskenke in my lewe vir my gegee,
naamlik Storiemuis.
Aande lank het ek met die kasette en boeke gelê op
die mat en my absoluut ingeleef in die stories wat die muis
vir my vertel het. deur daardie boeke het ek van die meeste
bekendste kinderverhale onthou en kon dit later vir tot
my maats oorvertel. Een ding van die storiemuis wat ek nie
sal vergeet nie, is toe ek en my een maatjie die dag besluit
om 'n radiostasie te stig en ons stemme op die radio oop
te neem. Ons het besluit dat die radiostasie spesifiek vir
kinders sal wees en dat daar vir hulle storiemuis voorgelees
sal word.
Elsa
Groenewald
|
 |
Ek was sewe jaar oud toe ek my eerste Saartjie
gelees het. Ek het vier weke aan die boek geles, elke dag
net 'n paar bladsye, party dae meer en soms glad nie. Die
laaste rukkie wat ek aan die boek gelees het was op vakansie
in 'n karavaanpark, en ek onthou hoe ek op my bed onder
my broer se hangmat gelê en lees het in die karavaan.
Dit was soos 'n oorwinning toe ek klaar was. Van toe af
was daar geen keer aan my nie en ek het op 'n stadium in
die vakansies van my laerskooldae 'n boek en 'n half op
'n dag gelees. Saartjie, Trompie,
Jasper, Uile, Maasdorp, Keurboslaan...
Johanita
Kirsten
|
 |
Onthou
niemand dan meer die Fanie-reeks
deur P.J. Schoeman nie? Ek het Fanie
word Grootwildjagter in die boekrak opgespoor
toe ek 'n tjokkertjie was. Die boek het saam met my pa deur
die jare gekom - seker van sy jonger dae af. Toe ek dié
klaar gelees het het my ouers die een na die ander P.J.
Schoeman-boek vir my aangeskaf vir verjaardae en Kersgeskenke
en partykeer sommer vir sommer. Toe ek weer sien het ek
'n versameling van om en by twintig van hierdie boeke. As
ek nou een van daai boeke op my boekrak sien dan kry ek
weer daardie lekker onthou-gevoel van die lees van Fanie
en sy dinge. Ek onthou ook die Fritz
Deelman boeke waarvan Eben vertel, boeta, wat
'n ervaring vir 'n jong kannetjie om een van daai boeke
te lees.
Ek
wou op 'n stadium 'n veearts word en het toe op die spoor
van James Herriot se boeke
gekom - baie humoristies en 'n uitstekende ballans van karaktersketsing
van persone en diere - egter lank laas een op 'n rak gesien.
Een
nostalgiese aspek wat ek nooit sal vergeet nie is hoe die
ouer boeke geruik het - ruik bietjie vandag hoe ruik die
blaaie van 'n ou Bybel of van die ouer ensiklopedië
- daai boeke wat nog van die dunste papier gemaak is. Jy
verlang sommer soos die sê-ding sê "na
iemand wat jy nie eers ken nie". Ek het by my skoonpa
die drie Landbou-handboeke (Hulpboeke vir Boer - 1957) persent
gekry - en ek hou hulle op my kantoorrak net om af en toe
aan hulle te ruik.
Lees
is lekker en het 'n groot rol gespeel in ons middeljariges
se opvoeding. Ek kon nie al die kleure glo in die eerste
Bollie wat uitgekom het nie - ek was gewoond aan die valerige
Patrys - wie van julle onthou nog van Patrys? - groot nuus
in my tyd!
Nou
ja - KAPPITFLOU en groetnis
Johann Rossouw
Bedryfsbestuurder Richmond
|
 |
|
|
 |
|
|