Skryf, skryf, skryf!!
Welkom
skrywers, potensiële skrywers en amateur skrywers, by hierdie Alpha en Omega
van taalgebruik. Die wonderlike Vinkel en Koljander van woorde. Hier sal ons die
wonderwêreld van die geskrewe woord ondervind en stap-vir-stap leer hoe
om wonderlike, lewendige betekenis te gee aan selfs die eenvoudigste woordjie.
'n Plesier sal dit wees om die takies wat gegee word uit te voer. Wie
is daar almal? Die
amateur skrywer is die een wat droom om eendag 'n skrywer te wees en werklik
hard probeer om verhale, stories en gedigte te skryf. Die
potensiële skrywer is die een wat al hier en daar 'n storie of verhaal
voltooi het. Miskien selfs een keer 'n sukses behaal het om dit in 'n tydskrif
gepubliseer te kry, maar nie werklik aandag of tyd spandeer om hierdie talent
te bevorder nie.
Skrywers het al besliste resultate verkry - miskien nie opskuddings veroorsaak
met hul geskrewe woord nie, maar wel gepubliseer. Van hulle lê hulle voltyds
toe op die taak van skryf, ander skryf weer op 'n tydelike basis. O
ja, en dan kry jy die epikus. Epikus beteken ook eintlik skrywer, maar
daar is 'n baie groot verskil. Vir die epikus is die geskrewe woord werklik die
alpha en omega, die begin en die einde van hierdie persoon se hele lewensstyl.
Geen tyd of aandag is te veel, geen navorsing te moeilik en tydrowend nie. Hier
is niks minder as perfekte aanvaarbaar nie. Die epikus leef vir en in die geskrewe
woord. Die epikus se werke word nagejaag as blitsverkopers, versprei in hardeband
vir die eerste, tweede en derde drukke. Daarna in sagteband tot en met die tiende
druk. Word verfilm, op video versprei, op televisie getoon. Die epikus is die
"beroemde" - verby die standaarde van die algemene skrywer - die room
van die wêreld se skrywers. Om hierdie status te bereik verg en vra alles.
Al jou durf, uithouvermoë, opofferinge en baie, baie harde werk. Hierdie
verskil word duidelik uitgewys, want dis nodig om ten alle tye te onthou dat die
epikus ook op hierdie beginvlak sy of haar eerste woord geskryf het. Besluit
self: Waar pas jy? Watter een wíl jy wees? Hier,
in die werkplaas, sal jy stap-vir-stap en les vir les vertel, verduidelik en geleer
word hoe om te skryf -- maar die uiteinde, die resultaat hiervan, sal van jouself
afhang. Hoe meer jy insit, leer, probeer en die takies wat gegee word, beoefen,
hoe meer sukses sal jy behaal.
e.t.
|