Dit voel vir Petri
altyd asof hy deel is van 'n storie se begin - nooit die einde, as al die dinge
vinnig gebeur en 'n mens jou naels begin kou nie. Hy
is gebore met die naam Petrus. Dis seker 'n orraait naam, maar dit voel vir hom
nes hyself: voorspelbaar. Soos die meeste van sy klasmaats, bly hy by sy ouers.
Hy het 'n tweelingsuster, Bianca. Sý het die grênd naam. Hier
waar hy nou weer van die skool af huis toe loop, gaap hy. Na die rugby-oefening
is hy kapot. Omtrent al wat hy wil doen wanneer hy by die huis kom, is om op sy
bed te gaan lê en weg te raak. Maar
daar wag huiswerk. Sommer heelwat. Petri
sluit die voordeur oop en gaan binne. "Hallo?" roep hy. Daar is geen antwoord
nie.
Skielik gril hy. Hy weet nie hoekom nie - die huis lyk dan nes altyd …
Iéts is anders. "Hallo?" roep hy weer, dié keer sagter.
Geen antwoord nie.
Hy hou sy skooltas voor hom. As hier 'n inbreker is, sal hy hom 'n goeie hou of
twee gee, dán sal ons sien of hy sommer weer iewers gaan inbreek!
Toe Petri deur die hele huis geloop het, weet hy daar is niemand nie. Bianca het
'n netbaloefening wat seker langer geduur het as die rugby, en sy pa en ma is
nog albei by die werk.
Eers toe hy sy tas op sy bed neersit, voel hy die gevaar agter hom. Al die hare
in sy nek spring orent en hy swaai om.
Dan kry hy lag vir homself. Dit kan tog nie dít wees wat hom so skrikkerig laat
voel het nie? Die rekenaar staan op sy lessenaar en sluimer, aangeskakel maar
met 'n donker skerm. Nes altyd.
Juis die feit dat hy wil lag vir sy verspottigheid, maar nie kan nie, maak Petri
opnuut bang. Hy raak aan die muis: dis warm, asof dit lewe. En klam, asof dit
gelek is.
Hy pluk sy hand weg. Vee dit aan sy broek af.
Die skerm begin helder raak omdat hy die muis beweeg het, en hy hoor die klik-klik-klik
soos die rekenaar vanself op die Internet begin ingaan. Dít het nog nooit vantevore
gebeur nie. Dit kán nie!
In die adresreël is reeds 'n adres ingetik: http://www.storiewerf.co.za
Dit gebeur so vinnig soos 'n ongeluk - daardie webruimte vou oop op die skerm.
Petri kyk verbysterd na die onderafdelings. Dis 'n plek wat bedoel is vir leesvrate.
Dit lyk so onskuldig, maar hy wéét dit is nie! As dit was, sou hy nie so benoud
gevoel het nie.
Nog 'n skerm begin oopmaak.
Die sweet tap Petri af. Is sy ouers of Bianca nie dalk al terug nie? Hulle moet
kom help! Maar daar is stilte, dis net hy en die rekenaar.
'n Gril!grot is op die skerm … en die eerste hoofstuk van 'n vervolgverhaal. Petri
snak na sy asem - dit beskryf dan presies wat tot dusver vanmiddag met hom gebeur
het! Hoe hy by die huis aangekom het, gevoel het iets is verkeerd, na die rekenaar
gekom het …
Hy sit sy hande op die sleutelbord. Hulle bewe. Daar word van hom verwag om die
verhaal verder te vat, sien hy. En dis asof hy geen keuse het nie, hy móét.
Maar as die vervolgverhaal se begin beskryf wat pas met hom gebeur het … dan sal
die hoofstuk wat hý moet skryf mos 'n invloed hê op wat hiervandaan verder met
hom gaan gebeur …
So wat nou? |