Vyfuur
het heeltemal te gou aangebreek, en een vir een het ek my maats totsiens gewuif.
Net ek en Susan was oor na 'n verjaarsdagpartytjie waar pret en plesier net nie
kon ophou nie. Ons het gedink aan die "blindemol" in die swembad, die
heerlike eetgoed, en die pragtige stel potlode wat Sunette met die skattejag gewen
het. Nadat ek en Susan vir oulaas nog 'n groot stuk sjokoladekoek
ingewurg het, het ons weer al die pragtige geskenke gaan sit en bewonder. Die
mooiste vir my was die tassie vol grimering. Die pragtige stel kunspotlode het
egter nie ver teruggestaan nie. Ek was ook hoog in my noppies met die botteltjie
parfuum en die dagboek met die slotjie aan. Dié verjaarsdag sou ek nie
sommer gou vergeet nie! Ek en Susan het besluit om sommer dadelik
die grimering in te wy. Sy het my soos 'n heks laat lyk, en toe maak ek haar sommer
'n hanswors! Ons het geskud soos ons gelag het. Toe dit begin
donker word het ons besluit om 'n fliek te kyk. Eers het ons vir ons heerlike
springmielies gemaak, en ons rustig op die bank tuisgemaak. Dit was 'n regte bangmaakfliek,
maar ons was glad nie bang nie
totdat ons iets eienaardigs gehoor het. Dit
het 'n bietjie geklink soos 'n vals viool. Ek wou my nie daaraan steur nie, maar
toe dit weer gebeur, het my hare behoorlik orent op my lyf gestaan. Ons het beide
gelyk opgespring
Die volgende oomblik het ons 'n wit
gedaante voor die venster sien verbysweef. Nog een het aan 'n tak gehang! Ons
het gelyk geskree en opgespring. Net toe het my nagrok verstrik geraak in my stoel,
en ek het myself disnis geval. Ons het sonder ophou gegil dat die berge antwoord
gee! My pa het geweer in die hand aangestorm om te kyk waaroor
al die lawaai is. Hy sit toe dadelik die buiteligte aan, maar van spoke was daar
geen teken nie. Wat hy wel gevind het was my liewe boetie en sy irriterende maatjie
met my ma se nuwe wit lakens om hulle gevou. Die onaardse geluide wat ons byna
hartversaking laat kry het, het van meneertjie se blokfluit gekom. Ek sê
mos al lank dat ma net haar geld op sy blokfluitlesse mors. Ek
was so woedend dat ek op daardie oomblik gewens het dat ek liewer nie 'n boetie
gehad het nie. My gesig was bloedrooi en opgepof! Hy het soos gewoonlik my pret
bederf. 'n Rukkie later kon ons toe darem lag oor die nare
gebeurtenis. Wat ons nog beter laat voel het, was dat my ma hom vir 'n hele maand
lank gehok het, en sy enigste plesier was
om blokfluit te oefen! |