2003-11-01


jongklomp

gril!grot

Die wraak van Erik, die vampire
Fanie Viljoen

Hierdie grillerige storie is gebaseer op die verhaal Ek is 'n vampire wat verskyn in die nuwe boek - Spoke en ander gruwelike goed deur Fanie Viljoen.

In hierdie storie gaan jy self besluit wat moet gebeur. Die verhaal het 6 moontlike eindes. Maar wees gewaarsku - nie almal is gelukkig nie. So, pasop wat jy kies!

 

Die wraak van Erik, die vampire


Marius sit die boek Spoke en ander gruwelike goed op sy bedkassie neer. Hy het dit nou net klaargelees. "Flippit, maar dit was nou 'n cool boek," sê hy sag vir homself. Hy wens daar was sommer nog stapels boeke oor spoke. Dit laat hom bietjie kriewelrig voel, maar dis oukei, hy hou daarvan om effens bang te word. En as jy té bang word, kan jy mos die boek neersit.
Marius gaan sit voor sy rekenaar om gou vir sy vriend, Jaco, wat die boek aanbeveel het, te laat weet dat hy dit klaar gelees het. Hy gaan sommer vir Jaco 'n e-pos stuur. Marius kry 'n glimlag as hy dink aan Jaco se woorde nou die dag: "Sjoe, Marius, jy MOET die boek lees. Dis lekker scary. ALMAL lees dit. En die boek se prente . . . ek het amper nagmerries gekry daarvan, maar dit AMAZING!"
Terwyl Marius wag dat sy rekenaar aan die internet koppel, onthou hy ook dat Jaco hom vertel het van 'n ekstra storie op Storiewerf se webblad. Miskien moet ek gou gaan kyk, besluit Marius. Hy tik Storiewerf se Grilgrot-webadres op die rekenaar in. Sommer gou kry hy die plek waar die ekstra storie lê.
Die eerste paar reëls van 'n storie begin op die skerm verskyn …
Maar voordat dit klaar kan laai, gebeur daar iets vreemd.
Dit voel vir Marius of die muis in sy hand begin lewe kry. Ja! Daar is dit weer. Die muis begin te ruk. En toe, skielik, skiet dit uit sy hand uit asof onsigbare vingers dit wegpluk.
Die volgende oomblik maak 'n program sommer vanself op sy rekenaar oop. Marius wonder of die rekenaar 'n virus gekry het, maar toe hy sien dis geen virus nie…
Voor hom op die rekenaarskerm verskyn die volgende woorde:

Dankie dat jy gekom het. Dit is nou tyd om wraak te neem op kaptein Swart. Gaan jy my help?


Wat? wil Marius sommer skree. Hy kan dit nie glo nie. Wie tik hierdie goed op my rekenaar? Kaptein Swart … Wraak … Toe, stadig, besef Marius wat aan die gang is. In die spookboek was daar 'n storie van Erik, die vampire wat deur 'n kaptein Swart gebyt is. Die storie se naam was Ek is 'n vampire. Kan dit wees dat dit Erik is wat hierdie woorde getik het?

Ja, dis ek, Erik. Gaan jy my help?

Marius voel hoe die koue oor sy hele lyf toeslaan. Hy kan nie sy oë glo nie. Hy het gedog dis net 'n storie - maar nou …

Gaan jy my help wraak neem op kaptein Swart? Ja of Nee?
As jy wil hê Marius moet JA tik, gaan na nommer 1.
As hy NEE moet tik, gaan na nommer 2



Illustrasie Jeanine Henning

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2007