1.
Die ontdekking Dit
is winterskoolvakansie en Prof Dommeir en sy seun Maurits is op soek na fossiele.
Hulle fynkam die veld op soek na snaakse klippe en rotse, want dit is hier waar
die dinosourusse 250 miljoen jaar gelede geleef het. Op hulle soektog het hulle
al die hele wêreld deurkruis. Hulle was al op Berg Kilimandjaro, in Suid-Amerika
en Tibet.
"Pa,
kom kyk hierdie vreemde ronde klip. Dit lyk nes 'n eier met 'n opgerolde voëltjie
in. Kyk die lang nekkie," roep Maurits opgewonde. Prof Dommeier los die ander
klippe net so daar onder die karoobossie.
Hy
haal sy bril af en vryf dit skoon sodat hy beter kan sien.
"Dit
is ongelooflik! Ek soek al vir jare na hierdie klip."
"Sjoe,
maar dit weeg amper 'n ton!" sê Maurits uitasem toe hy die eierklip
probeer oplig.
Prof
draai in die rondte gooi sy groen laphoedjie in die lug en skreeu dat die kranse
antwoord gee: "Bravo! Hoera! Werda! Siedaar! Die eier van alle eiers!"
Maurits
se pennetjieshare staan kiertsregop in die wind terwyl hy en sy pa al om die eierklip
dans. Maurits skreeu: "Joegaai! Joegaai! Jy gaan ons nog beroemd maak, ou
eierklip!"
Skielik
gaan staan Prof Dommeier doodstil. Hy vryf oor sy kaalkop en knip sy oë soos
'n wyse ou uil. "Maurits, hierdie is ons twee se geheim. Ons mag vir niemand
iets sê totdat ons eksperiment om die eier uit te broei nie klaar is nie.
Die mense sal nooit vir ons glo nie en net dink alles is 'n groot grap of dink
dit is 'n groot spekskietstorie. Wat sê jy?" Maurits
se blink bruin oë kyk vas in Prof s'n. Hy skud sy pa se hand en sê,
"Pa 'n belofte is 'n belofte. Maar nou moet ons die klip in die bakkie kry.
Dink Pa, ons is sterk genoeg?" "Ja
wat, ons drink net weer 'n bietjie van daardie Super Spinasie Ekstrak. Bring die
botteltjie." Hulle
drup elkeen tien druppels onder hulle tonge en wag tien sekondes. Hulle armspiere
begin bult en hulle lig die eierklip een, twee, drie in die bak.
Stadig
ry hulle huis toe.
"Pa,
trap die petrol dat ons vinniger kan ry," sê Maurits ongeduldig."
Ek is so nuuskierig om die klip met 'n vergrootglas te gaan bekyk."
"Nee
Maurits, ons moet stadig ry, want onthou, die eier het miljoene jare daar gelê
en kan dalk ontplof of stof word as dit te veel skud." |