2007-09


jongklomp

gril!grot

Die eier van alle eiers
Marianne Collen
'n Kreatiewe kreature-storie

2. Kan 'n oereier uitbroei?

Hulle huis is versteek agter digte struike en bome. Prof en Maurits ry by die lang oprit in tot by die dubbelverdieping waar Prof sy eksperimente doen. Die bure is al gewoond aan die snaakse professor en sy proefnemings. Soms is daar aaklike reuke en ontploffings met reënboogkleurige rookwolke wat soos ballonne in die lug swaai en waai.
"Kom ons los die eierklip net so in die kar en dan dra ons dit môre vroeg op na die tweede verdieping."
Maurits skud sy kop, "Nee Pa, wat van die petroldampe? Sal dit nie die klip laat kraak nie?"
"Jy is reg . . . Nou toe, laat ons begin, maar hulle sê donkerwerk is konkelwerk. Kom ons drink nog 'n bietjie van daardie Super Spinasie Ekstrak."
"Nee, Pa. Onthou net die aanwysings op die botteltjie lees so: 'Jy mag net eenmaal 'n dag daarvan drink. Te veel druppels laat jou hare vinniger groei, jou oë uitpeul en jou spiere rys soos groot brode.'"
Prof Dommeier en Maurits rol die eierklip versigtig toe in 'n stuk seil.
Prof vryf oor sy kop en sê moedeloos, "Die trap is te nou. Ons sal dit nooit bo kry nie."
Maar Maurits dink altyd aan 'n plan. Hy neem 'n katrol . . . daarmee kan 'n mens 'n swaar gewig ophys. Hy haak die seil vas en roep, "Kom Pa, nou moet ons ons spiere wys en dit gaan ophys."
Hulle trek en treeeeeeek . . .
en katrol en katrol.
Die sweet tap hulle af.
Hulle asems jaag.
"Ek sê mos die ding weeg 'n ton," kla Prof. Sy sagte hande is rou geskaaf van die tou.
"My arms wil uitskeur," kla Maurits.
Die eierklip swaai woes in die seil.
Prof steun en kreun. "Sal ons dit ooit bo kry voor die son opkom?"
Maurits sê net elke keer, "Ho nou, ha nou, trek nou. Ons is amper daar."
"Joegaai !" skreeu Maurits toe hulle die eier bo kry en versigtig op die grond laat sak.
"Voor jy môre skool toe gaan moet ons presies weet wat ons gaan doen," sê Prof.
"Ja Pa, ons sal alles weet wat ons moet weet. Ons kan dit mos lees in daardie ou dik boek," sê Maurits.
"Watter boek?" vra Prof verstrooid.
"Daai ene wat Pa geërf het by die ou tannie Mavis. Die ou vrou wat so alleen daar op die bospad gewoon het," antwoord Maurits ongeduldig oor Prof se vergeetagtigheid.
"O, ja! OERDIERE SE VERLEDE EN HEDE," sê Prof.
Maurits blaai en blaai. Uiteindelik kry hy net wat hy soek op bladsy 144. "Kan 'n oereier uitbroei?"
"Pa, Pa, kom kyk! Hier staan alles geskryf. Ons moet dit in 'n warm chemiese bad sit en dan bestraal. Ons moet net al die instruksies noukeurig volg."

*


Maurits staan vroeg op. Voor skool moet hy nog sy pa se pap en vitaminepille gee. Hy het vir sy ma belowe hy sal mooi na sy pa kyk terwyl sy oorsee is vir haar studies. Hy dink sy ma het gevlug om 'n bietjie weg te kom van die deurmekaarspul met al sy pa se eksperimente. Soms is hy so besig in sy laboratorium dat hy vergeet om te bad, te eet of te slaap.
Net verlede week het twintig reuse langasemkrieke uit hulle houer ontsnap en die hele buurt op hol gejaag met hulle geskree. Hulle moes die hulp van die Pest Control inroep om die krieke uit te roei.
Die vorige week het een van die proefbuise ontplof en pienk drade het soos spinnerakke vir dae aan Prof se hare, ore, neus en klere gehang. En nou . . . hierdie oer-eier! Watter probleme gaan dit veroorsaak? Maurits skud sy kop. Hy sal maar vandag by die huis bly en sy pa help om die chemiese bad voor te berei.
Die eier kom in 'n bad met pers skuim en word bestraal met 'n spesiale bestralings- masjien, voorsien van liggies wat aan en af flikker totdat die klein wonderwerk eendag gaan uitbroei. Die masjien het Prof al lankal ontwerp en gebou. Kort-kort gaan Prof Dommeier stel sodat die masjien nie te warm word nie. Hy luister of die eier nie kraak nie, maar daar gebeur niks nie, die eier is so dood soos 'n klip.
Die dae gaan verby.
Die weke gaan verby.
Die maande gaan verby.
Daar gebeur niks nie.
Elke middag na skool kom Maurits ook kyk, maar daar is nie 'n beweging of 'n kraakgeluid nie. Prof en Maurits maak nuwe somme en werk formules uit, maar die eier lê versteen.
"Dink pa nie ons moet die eier 'n bietjie draai nie?" vra Maurits.
"Goed. Maar ek dink ons moet die temperatuur benede vriespunt stel en dan weer kokend warm," sê Prof.
"Haai nee Pa, dit kan ons nie doen nie! Netnou sit ons met 'n ysblok of 'n gekookte eier!" sê Maurits laggend.
"Kom ons gaan lees liewers weer in ons Dinosourusboek. Dalk is daar iets wat ons nie raakgesien het nie."
Maurits blaai weer na bladsy 144. Onderaan staan iets in fynskrif. Prof bring sy vergrootglas en lees: "Skakel die masjiene af en na 7 maande, 7 weke, 7 dae, 7 uur, 7 minute, en 7 sekondes en hou die eier fyn dop."
Maurits bring die almanak en hulle begin uitwerk Dit sal net mooi skrikkeljaar wees op 29 Februarie as hulle die masjien moet afskakel.
Op skrikkeljaar skakel hulle die masjiene af. Hulle gaan sit teen die bad. Hulle hou die eierklip dop.
"Pa ek wens hierdie eier wil nou kraak of raas of blaas of ontplof," sê Maurits.
Prof lag en sê, "Ek wonder wat jy sal maak as die dinosourus nou skielik sy lang nek by die kraak uitsteek."
"Ek dink ek soen hom sommer, want dit is vervelig om so te sit en wag. Kom ons gaan slaap, Pa."

vervolg

Die storie is geskryf deur Marianne Collen.
Die storie was die wenner in Storiewerf Vonkelfiksie Kreatiewe Kreature Skryfkompetisie 2007 - Afdeling D

* Die illustrasie is deur Yvette de Beer.
Vir navrae oor illustrasies kontak haar by exart@vodamail.co.za

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2007