As
jy op 'n volmaanaand mooi kyk sal jy hulle dalk sien. Op die oop stuk grond, wat
eens 'n veldhospitaal was, staan die twee verliefdes in mekaar se omhelsing. In
1899 tydens die Anglo-Boereoorlog was daar baie beseerdes wat in die hospitaal
opgeneem is. Een van die beseerdes was 'n kakie; 'n Engelse soldaat wat verpleeg
is deur 'n Boerenooi. Hulle het dadelik op mekaar verlief geraak en hulle het
geweet dat hulle geluk nie lank sou duur nie. Wanneer dit skemer geword het, het
hulle mekaar onder die bome, wat die hospitaal omring, ontmoet. Hulle het besluit
dat hulle trou aan mekaar kan sweer, en dat hulle gaan trou. Sy
het die ja-woord gegee en hom omhels, maar, voor daar enige iets kon gebeur is
hulle getref deur 'n Longtom-koeël en het hulle in mekaar se omhelsing gesterf. Wanneer
jy hulle sien, honderd jaar later, lyk hulle nog so verlief soos op daardie ongelukkige
nag. Die gedaantes van die kakie en verpleegster staan tussen die bome en wanneer
verliefdes hulle sien sal daar geluk vir hulle wag, want die Legendes van Ladysmith
sien alles raak. |