|
Miserella sak
grond toe, die donker deur teen haar rug, met die wind wat haar
hare stringerig verby haar gesig waai. Wat haar trane droogmaak
so gou as wat sy hulle kan huil.
Buite
die kamer hoor sy nog Juvenis, Violenta en Laniolet se stemme. Maar
sy kan nou nie meer uitmaak wat hulle sê nie. Dit smelt weg
saam met die geluide in die vertrek. Die klap, skuur en kraak van
meubels, die suisende wind, die grommende onheil.
En
in haar kop kom daar nóg geluide, diep, swaar orrelklanke,
dreunend. Die note van die Lamentum-serenade van Volaticus, Juvenis
se gunsteling wat sy soms vir hom speel. Die musiek wat Volaticus
vir sy vrou gekomponeer het ná haar wrede dood aan die kake
van 'n weerwolf, so word vertel.
Miserella
probeer die snikke wat uit haar bors wil bars, in toom hou. Haar
oë is vasgenael op die vaas met die as.
Dit
word stil. Skielik. Die windjie draal net vir 'n oomblik langer
en raak dan ook weg.
Is
dit verby? kom die vraag in Miserella op. Soos gister? Gaan daar
niks gebeur nie? Het Mortallus dit weer nie reggekry om uit die
as op te staan nie?
Vrae
wat oor en oor deur haar spoel.
Maar
toe! 'n Weerligstraal. Blitsend! Van die dak af, vloer toe. Die
tafel spat in stukke, splinters hout klief deur die lug. Die kerse
ontplof. Hulle vlamme gaan dood, maar die kamer is nou gehul in
'n helder wit lig, wat dring tot in elke donker skeur en vergete
hoek. 'n Geluid soos botsende treine, skeurende metaal en hartverskeurende
gille.
Meubels
skuif na die mure toe van die impak in die middel van die vertrek.
Miserella gryp haar bene vas. Arms beskermend oor haar lyf. 'n Stoel
tref haar teen die skouer. Sy byt op haar tande van pyn. Byt haar
wang aan die binnekant raak en proe bloed in haar mond.
En
in al hierdie waansin tuimel die vaas daar voor haar grond toe,
saam met die glaskissie. Miserella sien dit in stadige aksie, draaiend.
Die vaas se deksel gly af, as wolk mistig uit die vaas se tollende
bek. Die aswolk wat dan onnatuurlik begin krul, groter word.
Buite die deur hoor Miserella nou iemand gil. Aanhoudend. Juvenis,
dink sy, maar haar gedagtes is vasgevang in dit wat sy hier voor
haar sien.
Nog
'n weerligstraal wat die mure ruk en 'n gordyn voor die venster
wegskeur. Die venster breek oop, glas spat, blare en sand waai in.
Maar
die aswolk bly onaangeraak, word digter, digter. Miserella moet
haar oë knip teen die trane en vrees.
"Miserella!"
hoor sy weer vir Juvenis.
En
uit die as verskyn daar nou 'n bonkige figuur, eers dofgrys soos
uitgebrande stompe in 'n dooie vuur. Die as begin effens wegsyfer.
Die silwerwit lig word nou dowwer, maar is steeds helder genoeg
vir Miserella om te sien hoe die silhoeëtagtige figuur in die
wolk sy hande oplig, aan sy gesig vat.
Dis
'n man, kan Miserella uit sy houding aflei, breë skouers, voete
uitmekaar.
Toe
is daar 'n geluid soos iets wat val. Iets geels, sien Miserella.
Metaalagtig. Goue muntstukke wat uit die as op die vloer neerkletter
en wegrol onder die meubels teen die mure in.
Die
man is blykbaar nie eens daarvan bewus nie. Hy vee nog met sy hande
oor sy lyf. Toe steek hy sy hand voor hom uit. En die hand kry 'n
kleur: doodsbleek vel met blou, bultende are. Nou die ander hand,
'n silwer ring aan een vinger, 'n ring met 'n kraai op.
Miserella trek haarself kleiner teen die muur.
Die
man gee 'n tree vorentoe. Vuil swart skoene, grys langbroek, gekreukelde
baadjie. Vergeelde hemp met 'n dun, swart strikdas wat uitrafel
aan die punte.
Sy
kop is bles, sien Miserella, want hy kyk af vloer toe, sy gesig
gehul in skadu's. Miserella hou haar asem op.
Hy
lig sy kop op.
Die
skadu's val van sy gesig af soos vlermuise van 'n grot se dak.
Sy
vel is grof, groot neus met dun neusvleuels. Sy bokaak strek ver
verby sy onderkaak. En dan . . . sy wrede groen oë onder die
wilde wenkbroue.
Hy
knip sy oë een keer, draai sy kop skuins, snuif, glimlag boosaardig.
Sy verrotte botande steek uit onder die bloedlose lippe.
Mortallus!
Hy
draai sy kop in Miserella se rigting. Sy wenkbroue lig en laat sy
oë nog groter lyk, sodat sy die wit aan die bo- en onderkant
kan sien.
"Ná
al die jare . . ." grom hy binnensmonds. Sy stem skuur oor
sy lippe.
Miserella
lê steeds in 'n bondeltjie teen die deur. Mortallus kom nader.
Afgemete treë, nader. Nou eers los sy haar bene wat steeds
in haar arms opgetrek was. Sy begin wegkruip, al met die muur langs,
stoot meubels uit haar pad.
"Moenie
bang wees nie . . ." sis Mortallus.
Nader.
Miserella
voel die kamer se hoek teen haar rug. Sy kan nie verder nie, maar
Mortallus kom steeds nader.
Sy
gesig verander heeltyd, vriendelik, boos, treurig, asof hy nie sy
emosies onder beheer kan kry nie. Sy mond wat heeltyd oop- en toegaan.
Hy steek 'n hand uit, die een met die silwer ring aan.
"Miserella,
nie waar nie?" draal sy growwe stem.
Sy
hand is nou hier by haar gesig. Sy ruik sy vel. Dit ruik na as.
Mortallus vat aan haar ken. Miserella probeer haar gesig wegdraai.
Hy
vat haar ken stewiger vas, draai haar gesig terug.
Nou
kom sy gesig nader.
En
sy ander hand, die een met die mes wat Miserella die dag op die
tafel agtergelaat het toe sy geskrik en weggehardloop het.
Miserella se oë val bang op die mes se lem. Haar asem ruk.
Die
lem blink naby haar keel.
Toe
hoor sy hoe die deur oopgebreek word.
...
|