Hoofstuk
1 "Wat
is klein, geel, sit in 'n boom en is baie gevaarlik?"
Ek sug en kyk
op van die koerant se strokies wat ek aan die lees is. "Komaan, Rinnie, daai
grappies is genuine nie snaaks nie." My sussie kan partykeer 'n regte pyn
in die dinges wees. Veral vandat sy hierdie dof grappiesboek vir Kersfees present
gekry het. Al die grappies in daai boek is sweerlik deur 'n breindood graad eentjie
uitgedink. En die ergste van als is ek het die flippen boek vir haar gekoop!
"'n Kanarie
met 'n masjiengeweer!" giggel sy die antwoord uit asof dit die snaaksste
ding in die wêreld is. "Hou
op of ek lag my dood," brom ek sarkasties. "Ou
Stefan Suurgat!" treiter Rinnie. "Ek
gaan vir Ma sê hoe lelik praat jy," waarsku ek. "Sodra hulle weer
bel." My ma en pa is altwee op die oomblik oorsee vir een of ander opleidingsessie
wat my pa se werk aanbied. Ek en Rinnie bly by my ma se suster, tannie Ans, en
haar man, oom Dirk, op Modderfontein. Tot dusver is dit die verveligste vakansie
van my lewe. Ek mis al my vriende in Pretoria, en op Modderfontein is daar niks
om te doen nie. Boonop is die plek se naam nie verniet Modderfontein nie - dit
reën aanmekaar. "Kom
ons speel Playstation," stel Rinnie voor. "Nee
wat, jy verloor tog in elk geval elke keer," sê ek. Ek is regtig al
moeg daarvoor om haar mannetjies flenters te skop en plat te slaan op die Playstation.
"Oukei, raai
bietjie wat is klein en pienk en lek graag jou tone?" "Flippit,
Rinnie!" Sy
smyt die boek neer en stap uit. Ek voel dadelik sleg. Rinnie is net so geïrriteerd
soos ek. Dit sous nog een stryk deur op die dak; ons kan nie eens buitentoe gaan
nie. Ek gee
nog 'n groot sug en blaai die koerant om. Modderfontein se dorpskoerant is net
so vervelig soos die res van die dorp. Nie eers die strokies is snaaks nie. Net
toe ek die koerant wil toevou, vang 'n advertensie my oog:
| Nag van die Monsters
'n Grilfees! Nie vir sensitiewe kykers nie.
Vertonings om 12:00 en 15:00. Retsnom Teater, Waterstraat. |
"Hei, Rinnie, kom check
hier!" roep ek opgewonde. "Wat?"
roep sy bot uit die kombuis. Ek kan hoor sy doen haar bes om nie nuuskierig te
klink nie. "Modderfontein
het 'n fliek!" "Jy
praat tjol, man," sê sy ongelowig, maar sy loer tog onseker by die
sitkamer in. "Nee
regtig." Ek hou die koerant omhoog sodat sy kan sien. "Hulle wys een
of ander grilfliek, Nag van die Monsters. Dis weird, hoor - 'n Afrikaanse horrorfliek!
Ek het nie eers geweet daar is sulke flieks in Afrikaans nie. As ons ons roer,
kan ons nog betyds wees vir die eerste vertoning. Tannie Ans het vir ons sambrele
gelos." Rinnie
staar ongelowig na die advertensie. "Dink jy nie tannie Ans sal vies wees
nie? Jy weet Ma hou nie eintlik daarvan as ons sulke flieks kyk nie
"
"Komaan,
man, moenie so chicken-gat wees nie. Tannie Ans en oom Dirk kom tog in elk geval
eers vanaand huis toe. Ons los net 'n briefie om te sê waar ons is. En dis
Ma-hulle se verdiende loon oor hulle ons alleen in hierdie boring plek gelos het
terwyl hulle lekker oorsee is." "Oukei,"
sê Rinnie huiwerig. "Maar dink jy hulle sal my laat ingaan? Het die
fliek nie 'n age-dinges nie?" "'n
Age-restriction," help ek haar reg. "Ag, hulle gee nie meer deesdae
om hoe oud mens is nie," stel ek haar gerus. "Hulle soek net jou geld.
Toe, roer jou, ons moet nog die plek loop soek. Ek het geen idee waar die straat
is nie." Rinnie
glimlag. "Orraait, maar net op een voorwaarde: jy moet raai wat is klein,
pienk en lek graag 'n mens se tone." "Rinnie!"
"'n
Vriendelike polonie!" Ons sukkel
lank om die fliekteater te kry. Die plek is in 'n vuilerige straatjie, weggesteek
tussen twee groot geboue. Retsnom Teater staan bokant die glasdeur geskryf in
letters wat plek-plek afskilfer. Selfs al het ons elkeen 'n sambreel is ek en
Rinnie papnat toe ons by die teater instap. Ons is net betyds, sien ek op my horlosie.
Dis net vyf minute voor die fliek moet begin. Dit is skemer in die kleinerige
voorportaaltjie en daar is geen teken van ander mense nie. Teen die mure is fliekplakkate
wat stokoud lyk. Ek ken nie een van die flieks nie. "Hallo?"
roep ek huiwerig. "Net
'n oomblik!" roep 'n stem. "Hel,
dié plek is goed creepy," fluister ek vir Rinnie. "Stop
dit," brom sy. "Jy probeer my altyd bang maak voor 'n grillerige fliek."
Voor
ons verder kan praat, kom 'n man met donker klere uit 'n kantoortjie te voorskyn.
Hy is vet en dit lyk of hy sy bles probeer toekam met die paar haartjies wat nog
op sy kop oor is. "Julle hier vir Nag van die Monsters?" sê-vra
hy met 'n verveelde, heserige stem. Ek
knik. "Dit
sal tien rand wees." Ek
kyk verbaas op. "Ons soek twéé kaartjies, asseblief, meneer."
Die
man lyk geïrriteerd. "Ek sê mos dit sal tien rand wees."
Ek
oorhandig die geld verstom. In die stad sal ons minstens vier keer soveel betaal
vir twee fliekkaartjies. "Lekker
gril," brom die man. "Hoop julle weet waarvoor julle julle inlaat."
Hy beduie woordeloos na 'n deur aan die anderkant van die vertrek. Dis
'n dof ding om te sê, dink ek vies. Ek is mos wraggies nie meer 'n bybie
nie. Ek
en Rinnie stap Retsnom Teater se enigste flieksaal stil-stil binne. Ek was nie
vroeër besig om haar bang te praat nie - die plek is regtig weird. Daar is
niemand anders in die fliek nie. Die saal lyk baie oud en afgeleef, en daar slaan
'n mufreuk uit die stoele op. Ons skuif in die agterste ry banke in. "Stefan,
ek moet toilet toe gaan," fluister Rinnie die oomblik toe ons sit. "Flip,
Rinnie, vir wat het jy nie vroeër gesê nie?" My suster móét
altyd op die stupidste tye toilet toe gaan. "Ek's
nou terug, oukei," sê Rinnie vies. "Ek het gesien waar die badkamers
is." "Jy
beter jou roer, die fliek gaan nou-nou begin." Dit
voel weird om so alleen in die donker te bly sit. Dit reën weer hard buite.
Ek kan hoor hoe die donderweer buite slaan en die reën suis op die dak. Ek
gril toe my been skielik aan Rinnie se nat sambreel raak. Jis, hierdie plek is
genoeg om Arnold Schwarzenegger die creeps te gee! Dis definitief 'n cool plek
om horrorflieks te wys. Die
ligte verdof eensklaps. Flip, waar bly Rinnie? Ek het haar mos gewaarsku sy moet
vinnig maak. Nou gaan sy die begin van die fliek mis. 'n Bewerige beeld verskyn
op die doek. Die beeld spring twee of drie keer en dan kom dit tot stilstand.
Op die skerm is 'n outydse kasteel met die maanlig wat grillerig daarop weerkaats.
'n Wolf tjank bloedstollend en dan is alles doodstil. Dit
lyk nie eintlik baie opwindend nie, dink ek grimmig. Outydse grilflieks speel
altyd in een of ander donker kasteel af. Iewers
tjirp 'n kriek skril, maar verder is daar geen musiek of geluide in die fliek
nie. Die kamera volg 'n voetpaadjie wat na die kasteel lei. 'n Gehyg raak geleidelik
hoorbaar, en haastige voetstappe, soos iemand wat hardloop. Iemand verskyn aan
die punt van die voetpad. Aan haar lang hare skat ek dit moet 'n meisie wees.
Sy strompel-val in die rigting van die kasteel. Stupid meisiemens, dink ek. Hoekom
is die meisies in die grilflieks altyd so dom? Kan sy nie sien daar's iets verkeerd
by daardie kasteel nie? 'n Mens kan net die meisie se bene sien wat op en af pomp
soos sy hardloop. Haar een knie bloei, seker soos sy geval het. Ek
wip van die skrik toe 'n donker skaduwee skielik na die meisie gryp. Sy gil oorverdowend.
'n Harige klou gryp haar enkel vas en sy val gillend op die paadjie neer. Toe
ek die monster se bloedbelope oë en kwylende tande sien, verstaan ek dadelik
hoekom die meisie besig is om weg te hardloop. Niks in daardie kasteel kan erger
wees as die gedrog voor my op die skerm nie. Hoendervleis slaan in kolle op my
arms uit en ek byt onwillekeurig my onderlip vas. Die
monsterding grom en ruik aan die meisie se spartelende voet. Die meisie se been
raak stil en sy hou op skop, asof sy besef daar is geen uitkomkans nie. Geleidelik
beweeg die kamera op, sodat 'n mens vir die eerste keer haar gesig kan sien. My
asem stok in my keel toe ek die vreesbevange uitdrukking op haar gesig sien. Sweetdruppels
pêrel teen haar neus af en haar hare klou in slierte teen haar gesig vas.
Dit
voel of 'n reuse slak stadig teen my rug afseil en ek raak yskoud. Wat
de
? Dis onmóóntlik! Ek knip my oë, asof ek hulle nie
kan glo nie. "STEFAN!"
gil die meisie oorverdowend, en die monster brul woedend. "Rinnie
!"
fluister ek verstom.
|