2016-08


jongklomp

gril!grot

'n Nag in September
PJ Loock

2

huis

Dit is nou twee minute voor twaalf en Kevin sien die drie fietse die pad opry. Robbie Rooies aan die regterkant, Ou Valie aan die linkerkant en Frikkie, groot en rond, in die middel. Hulle kruip een vir een deur die draad en stap tussen die lang gras nader aan die verlate ou huis.
Tussen die drie van hulle is dit moeilik om te kan sê wie die bangste is. Robbie sê nie ’n woord nie. Sy oë is net gerig op die huis se voordeur. Ou Valie kan nie ophou praat nie. Woorde val by sy mond uit in ’n fluisterstem; amper asof hy bang is iemand hoor hom. Die maan blink koeëlrond in die lug en die oop stuk grond en die huis verander beide in ’n grys kleur toe ’n groot wolk voor die maan in beweeg.
“Stil,” fluister Frikkie. Hy is geïrriteerd met Valie se angstige opmerkings. Vir ’n paar sekondes is dit doodstil totdat Valie weer begin wegtrek met waarskuwings.
“Het julle al die stories gehoor? Hulle sê dat daar in die negentiende eeu ’n visserman in dié huis gebly het. Hy het elke dag rivier toe geloop om te gaan vis vang. Vir ses-en-vyftig jaar het hy dit elke dag gedoen, maar eendag het sy kiefnet aan ’n klip vasgehak en hy het in die rivier gegaan om dit uit te haal. Die ou man was swak gewees en die stroom van die rivier het hom weggespoel. Sy lyk is nooit gevind nie, maar mense sê sy siel is steeds hier. Elke dag gaan hy voort met sy roetine en as jy werklik slim is, sal jy nie sy roetine versteur nie.”
Valie se stories het almal in spanning. Die een banger as die ander stap ons al nader aan die huis. Skielik vlieg daar ’n hadida uit die gras reg voor Robbie. Hy het nie eers kans gehad om te skree nie toe lê hy, uit soos ’n kers, in die lang gras. Na ’n paar sekondes skrik hy wakker en spring regop.
“Is jy reg?” vra Valie verskrik.
“Ek dink so,” antwoord Robbie met hande wat bewe soos twee elektriese eierklitsers.
Frikkie se moed is besig om hom in die steek te laat, maar hy sluk swaar en stap voort.
“So hoe werk dit, Oosie?”
“Dis maklik,” antwoord Kevin, “ons gaan een vir een by die voordeur in en stap deur die huis, na die tweede verdieping en dan klim ons by die balkon af. Die een wat die vinnigste by die groot bloekomboom is wen. Ek sal eerste gaan.”
Kevin maak die voordeur stadig oop en kyk terug na die drie pare oë wat na hom staar. Kevin stap die voorportaal in en voel hoe die houtvloer onder hom kraak. Vinnig hardloop hy die trappe op, in die hoofslaapkamer in en uit by die balkon se deur. Hy klim af by die balkon en hardloop vinnig tot by die boom.
  “Twee-en-twintig sekondes!” skree Valie wat die tyd stip dop gehou het.
Frikkie staan nader en stap braaf na die deur toe.
Hy maak dit stadig oop.
Dit is donker – so donker dat hy niks behalwe die trappe, waarop die maanlig skyn, aan die anderkant van die vertrek kan sien nie. Robbie en Valie loer nuuskierig om die deur se kosyn terwyl Frikkie al dieper in die gebou in gaan.
Hy stap suutjies verder en elke voetstap klink harder op die houtvloer en hy voel hoe die vloer buig onder sy swaar lyf.
Die vloer kraak,
maar dié keer klink dit anders;
amper soos iets wat aan die onderkant van die vloer krap.
Frikkie staan stil, maar hy kan steeds die krapgeluide hoor.
Hy kyk om na Robbie en Valie wat vanaf die deur in staar.
Al drie staar na die vloer onder Frikkie se voete.
Die krapgeluide hou op.
Frikkie kan net sy eie hartklop hoor.
Die stilte het net 'n paar sekondes geduur. ’n Harde barsgeluid kom vanuit die voorportaal en Frikkie verdwyn reg voor Robbie en Valie se oë.
Dié twee laat nie op hulle wag nie en maak spore na die fietse se kant toe. Valie kruip deur die gat en Robbie klouter oor die heining soos ʼn sirkusaap in ’n leeuhok.
Kevin hardloop om te gaan kyk wat met Frikkie gebeur het. Hy skakel sy flits aan en sien vir Frikkie in ’n bondeltjie sit waar hy regdeur die vloer geval het. Met die flits wat skyn op Frikkie se gesig kan Kevin trane sien wat van sy wange afloop.
Al is Frikkie ’n boelie, kry Kevin hom tog jammer.
Hy help vir Frikkie uit die gat uit en maak die huis se deur stewig toe. Met sy hemp se moue, vee Frikkie die trane wat sy gesig af en sonder om iets te sê stap hy na sy fiets en ry die donker in. Kevin kyk hom agterna. Hy wil lag, maar voel skuldig oor wat hy gedoen het.

Ná daardie aand het Frikkie nooit weer skoor gesoek met Kevin nie. Hy is steeds vasoortuig dat daar ’n spook in die huis was. Robbie en Valie hou hulself ook skaars. Frikkie wil nie met hulle praat nie, want hy is steeds vies omdat hulle hom daar gelos het daai aand.
Hulle reputasie onder die ander kinders is vir hulle baie belangrik, en daarom is Kevin seker daarvan dat hulle hom nooit weer sal boelie nie, want wat hulle nie weet nie is dat hy al die gebeure van daardie aand, 14 September 2012, op film het.

 

 

Die einde
 
Die storie is geskryf deur PJ Loock. PJ is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg PJ Loock.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015