|
Lucas
Niemand roer onrustig in sy slaap. Hy lê inmekaargetrek op
die motor se agtersitplek. Sy vingers krul in vuiste. 'n Droom pluk
aan sy ooglede. Dit dring deur na sy brein en beelde begin vorm.
Hy
het hierdie nagmerrie al verskeie kere gehad: Hy staan in 'n doolhof,
vasgevang tussen blinkblou metaalwande. Helder lig stroom uit die
vloer en laat dit soos glimmende water lyk.
Angs
laat sy bors toetrek. Hy weet nie waar hy is nie. Hy weet nie hoe
om uit te kom nie. Hy weet nie wat buite die metaalwande op hom
wag nie.
'n
Geluid laat hom omdraai. Dit was byna onhoorbaar, maar hy is seker
daar was iets. Dalk was dit skuifelende voete. Hy wag en kyk, maar
sien niks nie - totdat 'n hand uit die metaalmuur langs hom reik.
Hy probeer wegkom, maar die mure om hom het nouer getrek. Hulle
hou hom vas.
Die
hand kom nader. Vingers huiwer bo sy arm. Toe vat dit aan hom.
Die
aanraking is doodskoud.
Lucas
ruk wakker. Die benoudheid bewe nog in sy bors.
"Lekker
gedroom, Luc?" vra sy pa met 'n glimlag.
Lucas
kyk verward om hom. Toe onthou hy: Hulle is in die motor op pad
huis toe ná 'n vakansie by Stilbaai. Die motor is omtrent
gepak met al die vakansiegoed: kussings, CD's, 'n rugbybal, krieketkolf
en nog drie plante op die vloer. Sy ma ry mos nie 'n kwekery mis
nie. Sy karwei al wat 'n groen ding is terug huis toe, om te "kyk
of dit in die tuin sal aard".
"Moenie
hom terg nie," lag sy ma. "Die kind is moeg."
Lucas
skud sy kop. Hoekom moet sy ma hom altyd "die kind" noem.
"Die
kind is altyd moeg," sê 'n stem onder die hoop kussings.
Lucas
skop na die lyf onder die kussings. 'n Oog loer uit.
"Ja,
jy moet lekker loer, jou wirkop," snou Lucas vir Gavin, sy
jonger broer, toe.
"Ek
klap vir jou dat jy net sterre sien," kap Gavin terug.
"Dis
donker buite. Ek sien hulle in elk geval. En jy sal ook as jy soos
'n normale mens met jou kop óp 'n kussing slaap en nie ónder
'n kussing nie."
"Hei,
julle twee!" waarsku hulle pa.
"Gavin
het daarmee begin," sê Lucas vinnig.
Gavin
trek die kussing weer oor sy kop. "Gavin het eerste daarmee
begin," koggel hy.
Lucas
mik 'n vuishou na sy broer, maar besluit om dit liewer te los. Dit
help tog nie. Die vakansie is nog lank. Daar sal later baie tyd
wees om die klein wirkop op sy plek te sit. En dan sal sy ma en
pa nie kan keer nie.
Lucas
soek vir sy PSP tussen al die goed op die motorsitplek. Hy kry dit
half onder sy linkerbeen. "Vrekkit," sê hy sag en
sit dit aan.
"Sit
sagter daai ding," sê sy ma dadelik.
"Oukei,
Ma!" Lucas rol sy oë. Dis nie iets wat hy sal durf waag
om voor haar te doen nie. Sy sal hom gou wys wie is baas. Sy ma
se tong kan skerper wees as enige kombuismes. Maar sy het ook 'n
sagte kant wat sy nie te dikwels wys nie.
Ná
'n paar minute se speel, gooi Lucas die PSP verveeld langs hom neer.
Hy kyk hoe die landskap in die donker verby die motor flits. "Pa,
kan ons nie 'n bietjie stop om die dou van die lelies af te skud
nie?" vra hy.
"Ag
nee, Lucas. Wag nog 'n rukkie. Ons is amper op Nova."
"Asseblief,
Pa. My oë swem al, so vol is my blaas."
Sy
ma skud haar kop. "Soek tog maar 'n aftrekplek."
Hulle
ry nog 'n ent voor hulle 'n stilhouplek kry. Lucas is soos blits
uit die kar. Met bene nog styf van die lang sit, kies hy koers na
die naaste boom. Agter hom hoor hy sy ma soek na die waterbottel.
Sy pa vra of daar nog padkos oor is. Gavin is stil. Hy het seker
aan die slaap geraak onder die hoop kussings.
Iemand
skakel die motorradio aan. Die musiek verdwaal in die naglandskap
om hulle. Daar is geen ander motors op die pad nie. Dis asof die
aarde geduldig wag vir dagbreek.
Toe
hy klaar is, stap Lucas traag terug motor toe.
Die
motorradio kraak.
"Kyk
tog na die ding," sê sy ma ergerlik. Sy pa skuif onder
die geel dakliggie in. Met een arm oor die stuurwiel en die ander
hand op die radio se knoppies soek hy na 'n stasie, maar almal kraak.
Sy
ma klik haar tong. "Hier, sit liewer 'n CD in," sê
sy.
"Oh
brother," sug Lucas sag, "opera-getjank hier kom ons."
Hy
is reg. Maria Callas se stem dryf by die motor uit. Lucas skop vies
na 'n klip. Hulle gaan nou na daardie kermende kat moet luister
tot by die huis.
Maar
hy is verkeerd. Die kermende kat knyp nog aan 'n hoë noot en
toe is sy skielik stil. Die CD-speler is morsdood.
Die
motor se ligte doof ook oombliklik asof iemand sy hande skielik
dig oor hulle vou.
"En
nou?" vra sy ma bekommerd.
"Dis
die battery," sê sy pa. "Moet wees."
"Jy
het dit 'n maand gelede vervang. Hierdie kar gaan ook deur batterye
soos kinders deur 'n bak fudge."
Die
enjinkap klap oop. Sy pa se voete knars op die grys. Lucas hou hom
van 'n afstand dop. Dit lyk of hy iets in sy hand het. Hy skud dit.
Klik-klik, probeer hy die lig aanskakel.
"Die
flitslig werk ook nie," sê sy pa.
"Genade
tog," sug sy ma.
Lucas
glimlag onderlangs. Ten minste is Maria Callas nou stil. Hy sien
'n vae skadu beweeg onder die enjinkap. Sy pa probeer in die donker
die batteryklampe ontkoppel. Hy praat sag met homself en vloek een
keer.
En
toe, skielik, kom die onaardse dreuning.
...
|