|
"Pa,
Dawie gaan vandag hiernatoe kom. Ons moet aan 'n wetenskaptaak werk."
George staan langs die tafel waar sy pa woordeloos na die koerant
sit en kyk. Hy begin ongemaklik na die dak kyk, dan na die vloer
en dan weer na sy pa wat met sy neus in die koerant sit. "Oukei,
Pa, um, ek sal later weer vir Pa tee maak. Ek sien Pa het nog nie
die ander tee gedrink nie. Was dit nie lekker nie? Was dit te warm
of te koud of - " Die voordeurklokkie se gelui onderbreek hom.
Hy kyk na die deur en dan weer na sy pa voor hy vinnig wegstap om
die deur oop te maak.
Dawie
stap in en kyk na die man wat by die tafel sit. "Hallo, oom."
Die man antwoord nie. George sien hoe Dawie effens ongemaklik lyk.
"So,
jy moet my help met hierdie flippen taak van ons. Ek kan nie gat
of kop uitmaak hoe 'n mens daardie goed doen nie. Kilopascal? Hoe
verveeld moet jy wees om te probeer uitwerk hoeveel druk
um
ja. In elk geval. Ek het nie 'n clue wat hier aangaan nie."
"Wel,
dis nie so moeilik nie. Eintlik heel eenvoudig. Maar wil jy iets
drink?"
"Het
jy bier? O, ja, jy is mos die nerd. Coke sal reg wees, dankie."
George
voel hoe sy gesig rooi raak van woede maar gaan aan as of niks fout
is nie. "Sit sommer in die sitkamer. Ek dink my pa sal tee
wil hê so ek gaan net gou tee maak ook. Ek's nou daar."
"Oukei."
George
stap kombuis toe, gooi koeldrank in en maak tee. Hy vat eers die
tee na sy pa toe. "Hier is Pa se tee. As dit nie reg is nie
kan Pa maar vir my sê. Of Pa kan dit uitgooi of vir die kat
gee of dit net hier los, dan maak ek ander tee." Maar sy pa
ignoreer hom heeltemal. George krap sy voorkop, vryf met sy hand
oor sy gesig, kyk na sy pa en stap weg. Hy kry die koeldrank en
stap na die sitkamer waar hy die koeldrank aangee en op die bank
oorkant Dawie gaan sit. Die kat wat op die bank lê is min
gespin oor die seun wat langs hom kom sit. Hy lê doodstil,
selfs al vryf George hom agter die ore.
"Hoor
hier, ou, wat gaan aan met jou pa? Die dude sit net daar en lees
koerant. Hy het gister ook die hele dag daar gesit."
"Hy
sit maar so en lees, jong. Hy is so stil vandat my ma oorlede is.
Dit het hom nogal geknak."
"Hoe
lank terug was dit? Ek dog hulle is geskei of iets."
"Um,
dit was so tien jaar terug. Ek was sewe."
"Jis,
dis nogal 'n taai een."
"Ja.
Maar kom ons begin nou werk."
"Ek
wil net eers badkamer toe gaan. Dis daar bo, nè?"
"Ja
dit is. Maar maak gou; ons het baie werk om te doen voor jy die
ding môre kan ingee."
Dawie
stap weg en George hoor hoe hy ekstra stadig verby die man by die
tafel stap. Na 'n paar minute hoor hy die toilet spoel, die deur
oopgaan en die voetstappe by die houttrappe afkom. Die tempo is
weer stadiger deur die eetkamer.
"Ek
wil nou nie snaaks wees nie, Oom, maar daardie koerant is al twee
dae oud."
George
voel hoe die skok en vrees in hom opstoot en hoe hy yskoud raak.
Hy staan vinnig van die bank af op en stap na die sitkamer toe.
"Dawie, ons moet nou werk. Jy gaan nie klaarkry nie."
"Maar
die koerant is dan gister s'n. Ek weet want ek was gister weer op
die voorblad vir die provinsiale kleure wat ek vir rugby gekry het.
Vir wat lees hy die ding twee keer?"
"Jy
moet regtig jou werk doen, Dawie." George vroetel senuweeagtig
met sy hande in sy broeksakke. "Dalk is daar interessante artikels
in, nè, Pa? Kom net sitkamer toe dan werk ons."
Hulle
stap na die sitkamer toe en George begin die werk verduidelik. Dawie
kyk elke nou en dan terug om die man wat aan tafel sit dop te hou.
"So,
die kilopascal is om te meet hoeveel - "
"Dude,
wat gaan aan met jou pa? Regtig, nou, hy sit net daar. Dis moerse
freaky. En jou kat ook. 'n Mens sal sweer hulle is gevrek of iets.
En jou pa ruik funky. Hy het gister ook daardie klere aangehad."
George
voel hoe woede in hom opstoot. Hy antwoord egter nie sy vraag nie.
"Nou dat ek daaraan dink, ons het moontlik bier in die yskas.
Ek dink my pa het gekoop. Stap saam dan kyk ek vir jou."
"Dit
sal nou cool wees as jy bier het. Ek wens net jy het vroeër
daaraan gedink. Dan het ek nou nie my tyd gemors om die Coke te
drink nie."
Die
seuns stap na die kombuis toe en George sien hoe Dawie spottend
na sy pa kyk. In die kombuis maak hy die yskas oop. "Dit lyk
my daar is nie. Stap gou saam met my ondertoe. Dalk het my pa dit
in die yskas in die kelder gesit." George maak die kelder se
deur oop en stap by die trappe af.
"Moet
ons nie die lig aansit nie?"
"Nee,
dis nie nodig nie. Kom net."
"Um,
oukei."
George
glimlag toe hy die huiwering in Dawie se stem hoor en stap vinnig
vooruit. Dawie is uiteindelik onder in die kelder. Alles is donker.
Van waar George staan kan hy vir Dawie sien. Die lig wat van die
kombuis af inskyn, skyn reg op hom. "Ek wou jou nog vra. Ken
jy daardie song Demon Sweeney Todd? Ek wil hom vir jou speel."
George verdwyn en na 'n paar sekondes begin die musiek kliphard
speel. Hy gaan staan reg agter Dawie en fluister in sy oor.
"Die
chorus is die beste deel. Wag net."
"Dude,
jy freak my uit!"
George
sit sy arms om Dawie se nek en druk 'n naald daarin. "As 'n
mens op die regte plekke op jou liggaam druk kan jy glad nie beweeg
nie. Dis wat ek nou gedoen het. Die musiek is wonderlik. Luister
net daarna. Die chorus kom nou." Hy haal 'n skerp mes uit sy
sak en druk dit teen Dawie se vel. Dan begin hy hard saam met die
lirieke sing. "Feel the knife on your skin. Now you pay for
your sin. Let the blood start to flow. Full of panic and fear whispered
words in your ear. I am the demon, Sweeney Todd." Hy forseer
die lem deur die vel, deur die slagaar en voel hoe die bloed oor
sy vingers loop. Hy voel die pols onder sy vinger en hoe dit stadig
ophou klop. Hy laat die lyk op die grond val. "Ek wil 'n taksidermis
word. My pa se depressie het my net irriteer. Die kat was siek.
En jy, jy is net vir oefening. 'n Mens moet baie goed wees en practice
makes perfect. Maar ons kan later daaroor gesels." Hy draai
om en stap by die keldertrappe op. Hy gaan na die eetkamer toe.
"Hy
is nou weg, Pa. Wil Pa tee hê?"
|