|
Sê
vir my in 'n sin: Wat is 'n robot?
'n Mensgemaakte meganiese voorwerp wat in die regte wêreld
kan voel, dink en optree. . . In hierdie scenario besluit
die robot om iets te doen wat 'n mens sou doen as hy in dieselfde
situasie was. . . Maar wat gaan jy doen?
(Daniel Wilson, skrywer van Robot Uprising).
|
1
"Kom, Brut0, kom saam!"
Ek
is al byna by die hek voor ek omkyk om te sien of my robothond kom.
Brut0 staan nog net waar ek hom neergesit het. Dis die eerste keer
dat hy nie dadelik vir my luister nie.
Kan hy stukkend wees? Dalk was ek te ver van hom af toe ek gepraat
het.
Ek
stap terug, en praat mooi hard en duidelik:
"Kom,
Brut0!"
Niks
gebeur nie.
Ek
druk die groen knoppie op sy neus wat hom aanskakel om te spring.
"Spring,
Brut0!"
Weer
niks. Die komieklike hondjie met ore soos 'n windmeul se blaaie
bly roerloos staan. Hy is veronderstel om een van 100 wysies op
sy ingeboude iPod te speel en op en af te spring. Maar ek hoor nie
'n geluid nie en sy geveerde wieletjies roer nie. Dis nou die toppunt
van bad luck! Dis die tweede week van die skoolvakansie en ek het
al my rekenaarspeletjies voos gespeel. Boonop is my beste maat,
Danie, gister weg see toe, en nou is my geliefkoosde speelding gebreek!
Hy
moet gebreek wees, want 'n robot kan nie ongehoorsaam wees nie.
Asimof se Tweede Robotwet in I Robot sê 'n robot moet altyd
'n mens se bevele uitvoer, behalwe as hy deur te luister kan veroorsaak
dat 'n mens seerkry of skade ly.
Ek
sal mos niks oorkom as Brut0 agter my aankom nie! Hy moet vir my
luister. Tensy. . . Ja, dis natuurlik nooit anders nie; Brut0 se
batterye is pap! Toe ek en Danie gister vlieërs gebou het,
het ons die musiek die heeltyd laat speel.
Ek
raap die platneus op en dra hom na my kamer toe.
Nadat
ek die batterye in die herlaaier gepak het, gaan maak ek vir my
hot chocolate in die kombuis. Teen die yskas se deur is daar 'n
briefie met 'n magneet vasgesit. Dis vir my.
|
Gerrit,
die doughnuts op die rak is vir jou. Haarkapper toe. xxx Ma.
|
Ma
is so vinnig uit, dat sy nie die radio afgeskakel het nie. Kurt
Darren sing dawerend van sy meisie. Terwyl ek die warm melk in die
beker gooi, begin die elfuurnuus.
Ek
luister met die een oor terwyl ek aan die eerste doughnut smul.
Dis net inflasiesyfers, 'n transitoroof in Durban en 'n bomontploffing
in Bagdad. Maar die volgende nuusflits laat my my ore spits.
"Die wêreldbekende vervaardiger van bioniese en elektroniese
toestelle, Biotron, stel môre hul nuwe huishoudelike robot
bekend. Hierdie humanoïed is 'n meter lank en weeg 31 kilogram.
Biotron wou nie te veel inligting vooraf bekend maak nie, maar volgens
'n segsman kan die meganiese huisoppasser notas neem, die huismense
aan afsprake herinner en 'n pasiënt monitor."
En
Pa vertel my sowaar niks nie! Ek wonder of hy saamgewerk het aan
die nuwe robot? Hy is hoofbiotegnoloog by Biotron, en hy het my
al vertel van die bioniese arms en bene waarvoor hy 'n kunsvel ontwerp
het.
Dalk
het Pa niks gesê nie omdat hy bang was ek praat by die skool
oor die nuwe robot. Wat dink hy van my? Al is ek net in graad sewe,
weet ek baie goed van bedryfspioenasie! Ek sal nooit iets laat uitlek
wat dalk kan maak dat Biotron se kompetisie Pa-hulle se idees steel
nie!
Ek
gaan Pa vra of ek môre saam met hom mag werk toe gaan. Ek
móét net eenvoudig by wees wanneer die nuwe 'bot vir
die eerste keer deur sy passies gesit word. Ek wonder wat noem hulle
hom. . . of haar.
My
pa se koerant lê nog in die eetkamer waar hy hom vanoggend
vinnig deurgeblaai het. Ek kry die kort beriggie op bladsy 3.
|
"NUWE
HUMANOÏED ROL DIE MARK BINNE. 'n Robot wat spesiaal ontwerp
is vir huishoudelike take soos huisoppas en monitering van
siek mense word môre deur die elektronikamaatskappy
Biotron bekendgestel. Die buksie van net oor 'n meter volg
in die voetspore van bekende mensrobotte soos die Japannese
Wakamaru en die Amerikaanse Penelope. Die robot sal volgens
ons bron ook sekretariële take kan uitvoer, en staan
as Fidelia bekend."
|
Ek maak ook nog 'n draai by my kapokkies in die tuin
om die batterye genoeg tyd te gee om te laai. In die nessie in die
hoek van die hok is daar nou twee eiertjies! Ek kan nie wag vir
Kiepkiep se eerste kuikens om uit te broei nie.
Sy
was self net 'n bolletjie dons toe ek haar gekry het. Ek het verlede
maand die parmantige klein haantjie gekoop met geld van my twaalfde
verjaarsdag. Ek wonder hoe hy sal voel as daar dalk een van die
dae kompetisie vir hom op die werf rondskrop!
Dis
tyd om te gaan kyk of die herlaaide batterye vir Brut0 weer aan
die loop kry Pa het hom skaars ses maande gelede vir my present
gegee, en al Biotron se Blue Tooth-produkte het 'n tweejaarwaarborg.
Wat maak ek met myself die res van die vakansie as ek nie met my
hond kan speel nie?
*
|