2 Die
groen liggie sein dat die batterye klaar herlaai het. Ek sit hulle in Brut0 se
pens en skuif die paneel toe. Maar hoe mooi ek ook al vra, die hond bly doodstil
op sy wieletjies staan. Die windmeulore en regop stert roer soos in glad nie.
Ek
gee die speelding 'n ligte klap op die boud, en druk weer die knoppie wat die
iPod aanskakel. Die volgende oomblik vlieg ek deur die lug en land met my rug
teen die muur! Brut0 het my geskok! En nie sommer so nie - my hele regterarm pyn
en ek sien sterretjies voor my oë!
"Ma!
Ma!" roep ek verskrik, maar natuurlik. Daar is niemand behalwe ek by die
huis nie. Gelukkig het Pa my al mooi geleer wat ek moet doen as so iets gebeur.
Ek haal die rubbermatjie uit my kas en gooi dit bo-oor Brut0.
Gelukkig
sien ek nie brandwonde aan my arm nie. Dit tril net binne-in soos wanneer 'n mens
naalde-en-spelde het nadat jy lank op jou arm gelê het.
Daar
is regtig groot fout met my speelding, en Pa sal daarvan moet hoor. Sê nou
net al die ander robothonde wat Biotron verkoop het gee ook moeilikheid? Dit sal
'n baie groot skande wees as dit in die koerant kom, veral nou net voordat Fidelia
op die mark kom.
Ek
dwaal sitkamer toe en skakel die TV aan, maar 'n giggelrige aanbieder met 'n mikrofoon
wat soos 'n roomys lyk, laat my gou na die afstandbeheer gryp. Glad nie cool nie!
Op die ander stasies is daar sopperige sepies of vervelige skoolwerk aan die gang.
Ek wip toe ek die agterdeur hoor oopgaan.
Ma
is hier! Ek kan haar van my ongelukkigheid gaan vertel.
"Mensig,
maar Ma se hare is. . . Lyk pragtig!" Ek besef net betyds om nie te sê
dit is hiperkort gesny nie. Dalk wou Ma dit nie so gehad het nie, en dan maak
ek die teleurstelling net egter.
"Dankie,
Gerrit, ek dink dis effens aan die kort kant, maar gelukkig groei hare altyd weer.
Maar hoekom vryf jy jou arm so? Het jy geval?" Ek vertel Ma van die
probleme met Brut0 en die skok wat ek gekry het. Ek maak asof dit nie so erg was
nie, want ek wil nie hê sy moet haar bekommer nie.
"Jy
sal vir Pa moet vra om na die speelding te kyk. Dit klink vir my na 'n wanfunksie."
"Dalk
kan ek hom môre saamneem Biotron toe, dan kan iemand daar kyk wat verkeerd
is."
"Gaan
jy dan saam met Pa werk toe?"
"Ek
het nog nie gevra nie, maar ek sal graag wil by wees wanneer hulle die nuwe 'bot
bekendstel."
"O,
dan is dít waarom hy laasnag so rondgerol het. Ek het gedink daar is weer
iets groots aan die kom."
"Het
Pa ook nie vir Ma daarvan vertel nie?"
"Hy
het so 'n maand of wat gelede genoem dat hulle aan 'n groot projek werk, maar
hy mag mos nooit sê presies wat dit is nie."
Ek
gaan haal die koerant en vou dit by die berig oop. "Lees self, Ma. Dis 'n
nuwe robot, met die grênd naam van Fidelia."
Ma
se oë blink toe sy van die koerant opkyk.
"Dit
klink vir my soos die soort huishulp wat ék nodig het," sê sy
met 'n laggie. "'n Huisoppasser en 'n sekretaresse boonop. En ek hoef
nie heeldag te wonder wat gee ek haar te ete nie!"
"Wil
Ma nie ook saamkom nie?"
"Môre
is Woensdag. . . Ongelukkig sal dit nie kan werk nie. Ek speel tennisliga, te
laat om nou kop uit te trek."
"Dan
sal ek maar later vir Ma moet kom vertel wat die wonderlike Fidelia alles kan
doen. Hopelik kan sy Ma betyds waarsku wanneer dit tyd is vir middagete."
Ma
kyk vinnig na die horlosie teen die muur.
"Jou
arme honger ding! Maar ek het nie van jou vergeet nie. Kom sit sommer dadelik
- ek het heerlike vleispasteie gebring wat ons net gou kan warm maak. Skink solank
vir ons vrugtesap." |