Op
'n bitter koue, reënerige aand hou 'n man voor 'n hotel stil. Na 'n dag se
reis sal 'n warm bed nou waardeer word. Hy kry 'n warm ontvangs
en die knetterende kaggel trek hom dadelik soos 'n magneet nader. Na 'n heerlike
warm bord sop stap hy met krakende houttrappe op na sy kamer. Hy lê heerlik
en ontspan in die bad en hy voel hoe die moegheid uit sy liggaam vloei. So teen
tienuur skakel hy sy bedliggie af en raak dadelik aan die slaap. Na
'n paar uur van slaap is daar meteens 'n geruk en gepluk aan die venster. Sy hele
liggaam verstar. Dit is asof daar 'n wind deur die kamer dwarrel, maar hy besef
hy het tog nie eers die vensters oopgemaak nie, weens die koue buite. Hy probeer
egter om in beweging te kom, maar sy ledemate voel so swaar soos lood. Skielik
kraak die vloere asof daar iemand beweeg. Daar is beslis iemand saam met hom in
die kamer, dit kan hy aanvoel! Sy nekhare rys en dit voel asof sy hart by sy keel
wil uitbons. Hy hoor hoe die kas se deur oopgaan, 'n gevroetel, en hoe die kas
se deur weer toegaan. Die man besef dat hy nie net kan aanhoor wat om hom aangaan
nie, maar dat hy sal moet kyk wat hier aangaan. Hy moet homself regruk en met
een beweging skakel hy die bedliggie aan, net toe 'n wit gedaante by die deur,
wat na die gang lei, uitglip. Dit neem hom 'n paar sekondes om sy bene in beweging
te kry. In die gang was daar egter niks te bespeur nie. Totdat
die nuwe dag gebreek het, het hy nie 'n oog toegemaak nie. By die ontvangs het
hy verneem dat dit 'n jaloerse vrou was wat gereeld haar opwagting maak, sodra
daar 'n man in die kamer oornag. Sy is 'n paar jaar gelede in die kamer deur 'n
minnaar vermoor en in die kas weggesteek. Die oornagplek sal hom beslis nie gou
weer sien nie! |