Oondvars vuurwarm
Die varsste boeke uit die oond

Zackie Mostert-omnibus 1
Jaco Jacobs -

Vyf Zackie-avonture in een fantastiese omnibus!

Granaatstraat is `n straat nes enige ander straat. Wel, nie heeltemal nie. Dis immers die straat waarin Zackie Mostert woon. En waar Zackie is, is daar altyd volop pret, avontuur en kattekwaad!

Kinders is versot op Zackie se skreeusnaakse avonture! Of hy nou kulkunsies doen, spoke jag, probeer om `n superheld te word of `n plan moet maak om uit die skoolkonsert te kom waar Zackie is, is daar altyd hope pret en kattekwaad. Sedert die verskyning van die eerste Zackie-boek in 2010 het die gewilde karaktertjie en sy maats hope pret en humor na die Afrikaanse kinderboekwêreld gebring, en duisende aanhangers gekry. Word deel van die opwinding saam met Zackie, sy beste vriend, Vincent, sy hond, Frankenstein, die kwaai buurtannie, mevrou Langenhoven en natuurlik Anton die skoolboelie wat gedurig moeilikheid maak!

Vir die heel eerste keer verskyn vyf van Zackie se lawwe avonture saam in een briljante, bekostigbare omnibus:

1. Zackie Mostert en die ongelooflike kulkunsie

2. Zackie Mostert en die (Byna) Baie Briljante Idee

3. Zackie Mostert en die super-aaklige soen

4. Zackie Mostert en die Gemaskerde Groen Gevaar

5. Zackie Mostert en die spokerige storie

ISBN: 9780799389449
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Die skandalige susters Smit
Adeline Radloff - Alex van Houwelingen

Sara Sloot-Smit is `n baie gelukkige meisie. Sy woon in `n luukse huis in `n welvarende buurt, gaan na `n spogskool en het ouers wat baie belangrike werk doen. Maar hulle het min tyd vir hulle dogter. Toe hulle aankondig dat hulle `n maand lank oorsee gaan, is dit vanselfsprekend dat Sara nie saamgaan nie. Sy moet by haar drie tannies, haar pa se susters, in die stad gaan bly: "O, die skandalige susters Smit. Wie het nog NIE van daai drie gehoor nie? `n Feeks en `n flerrie en `n rissiepit; geen ander tannies was nog ooit so goor nie!" Haar pa dink sy susters ken nie hul plek nie. Suzie giggel en maak grappies; geen sprake van waardigheid by haar nie. Silvie is konstant met `n nuwe kêrel of twee, en Sofia is wel suksesvol, maar sy`s kwaai en gemeen en veels te luidrugtig. Sal Sara ooit die vakansie oorleef?

ISBN: 9780624086802
Kategorie:  vuurwarm

Tafelberg

Zackie Mostert en die fantastiese fliek
Jaco Jacobs -

Ligte, kamera … AKSIE! Zackie en Vincent is BAIE opgewonde! Hulle gunsteling-aksieheld maak `n SPLINTERNUWE FLIEK. En die vervaardigers soek jong akteurs om daarin te speel! Zackie en Vincent kan nie wag om vir `n OUDISIE te gaan nie. Maar Anton wil ook graag `n rol in die fliek hê. Anton is die grootste BOELIE, GROOT-PRATER en MOEILIKHEIDMAKER in die skool - en hy kan KARATE doen! Hy gaan sy bes probeer om seker te maak Zackie en Vincent staan nie `n kans om `n rol in die fliek te kry nie ...

ISBN: 9780799390629
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Stalmaats: Tweede kans
Lize Roux -

Die laaste boek in hierdie supergewilde perdereeks! Al die Stalmaats-ruiters is in rep en roer oor die nuus dat ’n nuwe ryskool op die dorp oopmaak. Josh, die eienaar se seun, is boonop saam met Anri, Megan en Karen in die klas – en hy probeer almal ompraat om Hoefslae ’n kans te gee. Anri en die res van die Stalmaats is baie lojaal aan die Dagbreek-ryskool, maar die nuwe ryskool is baie goedkoper en die eienaar was op sy dag ’n bekende Suid-Afrikaanse ruiter … Kan dit dalk die einde van die Dagbreek-ryskool beteken? Om dinge erger te maak, lyk dit boonop of Josh met sy seegroen oë en blonde krulhare ’n ogie op Anri het – en Anri se kêrel, Jacques, is glad nie gelukkig daarmee nie … en sy ma en pa is boonop die eienaars van Dagbreek. Toe Anri-hulle ’n geheim oor die nuwe ryskool uitvind, spat die vonke behoorlik! Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats! Hierdie is die laaste boek in dié bekroonde en geliefde perdereeks waaroor jong perdeliefhebbers al jare lank gaande is.



ISBN: 9780799389432
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Vind Uit! Wetenskap
Linda Roos, Lydia du Plessis -

Wat wil jy graag uitvind?
Hierdie ongelooflike reeks boeke help kinders om kenners op die gebied van hul gunsteling-niefiksietemas te word, van wetenskap en haaie tot robotte, kodering en die heel nuutste tegnologie. Elke boek bevat asemrowende foto`s, fantastiese vasvrae en hope prettige, relevante inligting. Leer was nog nooit soveel pret nie!

Daar is ses hoogs versamelbare titels in die reeks:

Wetenskap, Aarde, Haaie, Robotte, Kodering en Ingenieurswese.

Wetenskap

Leer wat die verskil tussen atome, molekules, mengsels en verbindings is; vind uit hoe plante werk; en sien die watersiklus in aksie. Hierdie boek gaan beslis jou volgende skoolprojek vir Natuurwetenskap inspireer, en dit ver-duidelik presies wat wetenskap is en hoe dit werk. Vind uit waaruit materie bestaan, hoe die voedselketting inmekaarsteek, en hoe die weer werk. Ontdek hoe elektrisiteit en magnetisme ons alledaagse lewe beïnvloed. En doen jou eie eksperimente om die inligting te laat lewe kry!

ISBN: 9780799389708
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Zackie Mostert en die Monster-Melkskommel
Jaco Jacobs -

Wie gaan die MONSTER-MELKSKOMMEL tem?
Dit is SKOOLVAKANSIE!
Zackie en Vincent gaan sommer hope pret hê! Hulle gaan swem, skaatsplank ry in die parkie en met hulle watergewere speel.
Maar soos gewoonlik is Anton die boelie ook in die omtrek. En hierdie keer het hy iemand wat hom gaan help om Zackie-hulle se pret te bederf.
Boonop het mevrou Langenhoven kuiergaste vir die vakansie - en Zackie en Vincent word gedwing om met die VERVELIGE tweeling te speel.
Dit lyk of dit die aakligste vakansie OOIT gaan wees! Maar toe `n splinternuwe restaurant sy deure open met `n kompetisie om te kyk wie die meeste Monster-melkskommels kan drink, begin dit lyk of die vakansie dalk GROOT pret kan wees ... Die wenner kry immers `n splinternuwe, WILDE, WOESTE WATERGEWEER as prys ...

ISBN: 9780799390612
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Die mooiste verhale van Andersen
Hans Christian Andersen -

Hierdie wonderlike boek met 13 tydlose verhale, pragtige illustrasies en onvergeetlike karakters stel kinders bekend aan die betowerende wêreld van Christian Andersen.



ISBN: 9780798178501
Kategorie:  vuurwarm

Human & Rosseau

Speurder Kwaaikofski: Omnibus 1
Jürgen Banscherus -

Kwaaikofski is al ’n privaatspeurder vandat hy kan onthou. Selfs as ’n baba het hy elke boublokkie weer gekry, en ook elke lekker wat iewers in die sandput verdwyn het. Hy het nou eenmaal ’n talent daarvoor. Gee hom ’n glas melk, Carpenters kougom en sy spesiale kep – wat sorg dat sy brein altyd teen die optimale temperatuur funksioneer – en hy is gereed vir enigiets! Hierdie omnibus-uitgawe bevat drie van Speurder Kwaaikofski se gewildste avonture vir beginnerlesers. Kwaaikofski moet uitvind waarom sy gunsteling-kougom uit Olga se winkel verdwyn, die geheim van ’n vlieënde blou rubberkoei ontrafel en ‘n vreemde pienk spook op die skoolgronde vastrek.

ISBN: 9780798179171
Kategorie:  vuurwarm

Human & Rosseau

Stalmaats omnibus 3
Lize Roux -

Die gewildste perdestories in Afrikaans! Die immergewilde Stalmaats-boeke is nou in ’n reeks lekkerlees-omnibusse beskikbaar! Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats! Word deel van die pret en opwinding by die Dagbreek-ryskool saam met Anri en die ander Stalmaats! Jong perdeliefhebbers sal versot wees op hierdie reeks! Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels: * Sirkusperde * Afskeidsrit * Perdespeurders * Rivierperde * Stormnag

ISBN: 9780799391336
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

`n Kas Vol Monsters Omnibus
Jaco Jacobs -

Is jy braaf genoeg om die kas oop te maak?
Denver se kas is `n geheime ingang na `n kasteel vol monsters - en hope avontuur! Maak die kasdeure wawyd oop met hierdie 6-in-1 omnibus van al die gewilde Kas vol monsters-boeke!

Die Groen Hand

Daar is iets vreemds aan die nuwe huis ... In die middel van die nag hoor Denver iemand aan sy kasdeur klop. Toe hy ondersoek instel, ontdek hy iets wat sy hare laat regop staan! Maar gaan enige iemand hom glo as hy vertel wat hy gesien het?

Vampierfoto`s

Die kas in Denver se kamer is die geheime ingang na `n kasteel vol monsters. Denver en Meyer kan nie wag om weer die monsters te sien nie. Hierdie keer het een van die monsters hulp nodig. Maar om foto`s van `n vampier te neem ... kan `n pyn in die nek wees!

Hollywood-mummie

Dit is glad nie so maklik om `n Hollywood-ster te word nie - veral nie as jy `n mummie is nie. Sal Denver en Meyer vir Toets kan help om `n rol in `n fliek los te slaan?

Weerwolfprobleme

Denver en Meyer het al hope pret saam met die monsters gehad. Maar daar is iets fout in die monsterkasteel. Flaffie die weerwolf is in `n BAIE slegte bui. En as `n weerwolf vies is, moet jy liewer nie met hom sukkel nie ...

Die perfekte monster

Een van die monsters in die kas het Denver en Meyer se hulp nodig. Frank is eensaam. Daarom besluit hy dis tyd om `n meisie te kry. Maar om die perfekte meisie vir `n groot groen monster te kry, is glad nie so maklik nie!

Kinderspeletjies

Al die monsters is op pad na `n musiekkonsert. Denver en Meyer bied aan om `n aand lank baba-oppassers vir `n oulike monsterbaba te wees. Hulle moet met hom speel, hom kosgee en hom in die bed sit. Hoe moeilik kan dit nou eintlik wees ...?



ISBN: 9780799392425
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Die dag toe die draak kom - `n Boek vir meisies
Fanie Viljoen -

Human & Rousseau

Hierdie boek takel die uiters belangrike kwessie van kindermolestering. Dié aangrypende verhaal dien om kinders in te lig en te bemagtig. Deur middel van ’n karakter en storie waarmee kinders kan identifiseer word die gevaartekens van molestering uitgewys en riglyne gebied oor hoe om in so ’n situasie op te tree.
Sesjarige Kyla is gek oor stories van dapper prinses Arabia wat selfs teen drake veg. Maar haar ouer sussie, Abby, glo nie meer in sprokies nie. Abby sê daar is ’n draak in hulle huis – een wat vir niks en niemand skrik nie. Maar wie kan dit wees? Is dit Mamma wat soms raas? Is dit Oupa met sy growwe stem? Is dit hulle stoute nefie, Nico? Gelukkig leer Kyla net wat om te doen om haarself te beskerm. Want die dag toe die draak uiteindelik kom, kan sy haarself en ook vir Abby red.
Agter in die boek verskyn ook handige riglyne vir kinders, ouers en versorgers: Hoe herken jy ’n draak? Wat is veilige vat en onveilige vat? Wat doen jy as jy vermoed jou kind word misbruik?
Volgens onlangse studies word ten minste een derde van Suid-Afrikaanse skoolgaande kinders seksueel misbruik. Daarom is dit uiters belangrik om met kinders daaroor te praat en hulle toe te rus om hulleself te beskerm. Hierdie boek bied die perfekte wegspringplek.

ISBN: 9780798178679
Kategorie:  vuurwarm

Human & Rosseau

Die dag toe die draak kom - `n Boek vir seuns
Fanie Viljoen -

Hierdie boek takel die uiters belangrike kwessie van kindermolestering. Dié aangrypende verhaal dien om kinders in te lig en te bemagtig. Deur middel van ’n karakter en storie waarmee kinders kan identifiseer word die gevaartekens van molestering uitgewys en riglyne gebied oor hoe om in so ’n situasie op te tree.
Sesjarige Kevin is gek oor stories van die dapper prins van Arabia wat selfs teen drake veg. Maar sy ouer sussie, Abby, glo nie meer in sprokies nie. Abby sê daar is ’n draak in hulle huis – een wat vir niks en niemand skrik nie. Maar wie kan dit wees? Is dit Mamma wat soms raas? Is dit Oupa met sy growwe stem? Is dit hulle stoute nefie, Nico? Gelukkig leer Kevin net wat om te doen om homself te beskerm. Want die dag toe die draak uiteindelik kom, kan hy homself en ook vir Abby red.
Agter in die boek verskyn ook handige riglyne vir kinders, ouers en versorgers: Hoe herken jy ’n draak? Wat is veilige vat en onveilige vat? Wat doen jy as jy vermoed jou kind word misbruik?
Volgens onlangse studies word ten minste een derde van Suid-Afrikaanse skoolgaande kinders seksueel misbruik. Daarom is dit uiters belangrik om met kinders daaroor te praat en hulle toe te rus om hulleself te beskerm. Hierdie boek bied die perfekte wegspringplek.

ISBN: 9780798178686
Kategorie:  vuurwarm

Human & Rosseau

Sanri Steyn omnibus 2
Theresa van Baalen -

Drie Sanri Steyn-stories in een omnibus! Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie. Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – van vampiere wat op die dorp kom woon, tot ’n weerwolfmeisie wat haar opwagting in hul klas maak! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou! Vir die eerste keer is die Sanri-reeks nou in ’n bekostigbare omnibus-formaat beskikbaar! Die drie titels in hierdie omnibus sluit in: # 5: Die monsters van Middernagstraat Sanri se neus begin kriewel toe ’n vreemde ding een middag in Middernagstraat gebeur. En as Sanri se neus kriewel, beteken dit net een ding – sy ruik ’n storie! Sy is byna doodseker sy het gesien hoe een van Claudia Müller se oulike skoothondjies ’n oomblik lank in ’n monster verander ... ’n Nare monster met bloedrooi oë, ’n bek vol vreesaanjaende tande, en vreemde stekels op sy rug en nek. Markus is oortuig Sanri se verbeelding werk weer oortyd. Maar dan begin troeteldiere in Raaiselfontein verdwyn ... # 6: Die nag van die weerwolwe Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe meisie in hul klas, Chrissie de Wolfe, ontmoet. Waarom het Chrissie ’n sappige rou steak in haar kosblik? Wat soek sy by die slaghuis en waarom koop sy soveel vleis? En hoekom lyk dit of sy supersterk is? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie ... Sanri is oortuig die nuwe meisie in haar klas is ’n weerwolf. Maar hoe gaan sy en Markus dit bewys? #7: Die vampiere van vlermuishoogte Sanri kan nie wag om haar beste vriend, Markus, se neef te ontmoet nie. Danté en sy gesin bly in Vlermuishoogte – ’n geheimsinnige ou kasteel. Maar iets is nie pluis nie ... Waarom het Danté se pa ’n skaduwee soos ’n vlermuis? En is Markus dalk in gevaar?

ISBN: 9780799390728
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Sanri Steyn omnibus 1
Theresa van Baalen -

Vier Sanri Steyn-stories in een omnibus! Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie. Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – as daar nie ruimtewesens oorkant die straat intrek nie, probeer iemand die hele skool se kinders in zombies verander! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou! Vir die eerste keer is die eerste vier Sanri-stories nou in een lekkerlees-omnibus beskikbaar! Dit sluit in: #1: Doktor Zombos se geheime formule Sanri droom daarvan om eendag ’n joernalis te word – en toe sy en haar ma na die klein dorpie Raaiselfontein trek, besluit sy om haar eie koerant te begin. Die Raaiselfontein Gazette sal propvol opwindende nuus wees. Maar sommer gou vind Sanri uit alles is nie pluis op Raaiselfontein nie. Waarom tree almal so vreemd op? En wat het die lekkergoedfabriek daarmee te doen? Saam met haar nuwe vriend, Markus, besluit Sanri om die geheim te probeer ontrafel … # 2: Die aliens oorkant die straat Toe daar nuwe intrekkers oorkant die straat is, begin Sanri se neus kriewel – soos altyd wanneer sy ’n lekker sappige storie ruik. Hoekom trek die nuwe mense een nag tydens ’n woeste donderstorm in? Waarom ry hulle met so ’n vreemde borrelkar? En waarom tree die twee kinders met hulle silwerwit hare so snaaks op? Sanri is seker hulle nuwe bure is aliens. Sy moet net die bewyse kry, anders kan sy vergeet daarvan om ’n storie daaroor te skryf. # 3: Die seun met die superkat-kragte Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe seun in hulle klas ontmoet. Felix tree baie vreemd op – hy klouter oor mure, eet regte vissies op sy pousebrood ... en hy het ’n ongelooflike geheim! Kort voor lank is daar groot moeilikheid op Raaiselfontein. ’n Nare rotskurk en sy weermag van rotte beplan om die dorp oor te neem. # 4: Die spookmeisie van Raaiselfontein Sanri is teen hierdie tyd gewoond daaraan dat vreemde dinge op Raaiselfontein gebeur. Toe brille links en regs begin wegraak, kry sy dadelik snuf in die neus. Dan maak Sanri en Markus kennis met ’n spookmeisie – en sy het hulle hulp nodig.

ISBN: 9780799390711
Kategorie:  vuurwarm

LAPA

Bestel by 
www.lapa.co.za

Die mooiste verhale van die Grimm-broers
Grimm broers -

Hierdie wonderlike boek met 15 tydlose verhale, pragtige illustrasies en onvergeetlike karakters stel kinders bekend aan die betowerende wêreld van die Broers Grimm.

ISBN: 9780798178495
Kategorie:  vuurwarm

Human & Rosseau

 

 

 

 


Voordeur en inhoud  |  Jong woordvrate  |  Ouer woordvrate  |  epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

© Franci Greyling 2000