|
|
| Lusmakerbrokkies
uit nuwe boeke |  |
 |
Leeus met letsels
Fanie Viljoen
Human & Rousseau
|
|
Daar is bloed op Buyi se vuiste. En bloed op die ou voor hom se gesig.
Sy naam is Jonathan. 'n Klomp leerders drom saam om hulle in die skoolgang. Jonathan lê nog op die vloer. Hy kyk op na Buyi. Sy oë uitdagend. Hy glimlag toe hy die bloed van sy oogbank wegvee.
“Lucky shot!” sê hy.
“You want some more then?” In 'n oogwink speel die vuishou wat Jonathan vloer toe gestuur het, oor in Buyi kop. Die spanning in sy spiere in sy spiere. Knersende tande. Die oomblik toe hulle oë ontmoet. Pyn skiet deur sy vuis en blits op met sy arm toe die hou val.
Die spul ouens en meisies om hulle is soos 'n trop hienas, steeds honger vir meer.
En toe kom die onderwyser.
Daar is moeilikheid aan die broei. Buyi weet dit net. Dae lank al voel hy dit aan. Dit stoot op deur die koue, nat strate. Oral waar hy gaan, asem hy dit in: die oorvol treine van die Londen Underground, klaskamers, die koerantstalletjie op die straathoek. Dit gaan nou al vir weke so aan. En dit maak hom bang.
Dit is laatmiddag. Vrydag. Hy vat die roltrap en uiteindelik ontsnap hy uit bedompige ondergrondse treintonnels. Agter hom hoor hy nog 'n straatmusikant se saksefoon. Die oggendreën lê steeds op die strate. Spikkels lig van die winkelvensters spieël op die nat sypaadjies, soos diamante onder die sole van die verbygaande.
Hy hoor mense se voetstappe en wonder skielik of hulle syne kan hoor, Hy wonder of hulle ooit luister, of hulle ooit omgee.
Natuurlik nie, dis Vrydag. Hulle wil so gou moontlik by die huis kom. Grys wolke hang swaar oor die stad. Dit gaan binnekort weer reën.
Moeilikheid, dink hy. Daar is beslis moeilikheid aan die broei.
Die benoude vrees maak dat hy sy pas versnel. Hy soek na troos in die warmte van sy baadjie, in die bekende omgewing, die mure oortrek met graffiti. Maar die onrustigheid bly op sy hakke. Dit jag hom soos 'n dier.
Terwyl hy loop, vang sy oog die weerkaatsing in 'n winkelvenster. Swart gesig, kake geklem van die koue. Die sny op sy lip.
En hy voel soos 'n vreemdeling.
Hoekom? Hy woon nog sy hele lewe lank in Londen. Hy bly hier saam met sy ma in 'n tweeslaapkamer-woonstel bo die bakkery. Hy gaan hier na 'n staatskool toe.
Maar op 'n manier ís hy 'n vreemdeling.
Buyisiwe. Sy naam eggo in sy kop. 'n Vreemdeling se naam. Hoekom nie James, Chris of Peter nie? Of dan selfs Jonathan? Hoekom nie enige ander naam soos die meeste ouens in die skool nie.
|

|
|

|
|

|
 |
My hart klop muffins
Helen Brain
Human & Rousseau |
“Kyk waar jy loop, moroon!”
Ek swaai om. Niemand noem my 'n moroon en stap weg met al sy tande nie. Beslis nie 'n grootbek in 'n groen bakkie vol duike nie.
“Wie’s jou moroon?” skel ek en skop na sy wiel. “Kyk jy liewer waar jy ry, dofkop!”
Hy swaai sy vuis deur die oop ruit. “Jy storm net oor die pad sonder om eens te kyk! Wat’s jou probleem, airhead?”
Airhead? Nóú gaan hy te ver gegaan. Ek plak die stapel bokse voor die bakkie se neus neer en marsjeer na die venster. “As jy jou oë oopmaak en die kennisgewings lees, rotsgesig, sal jy sien geen voertuie word hier toegelaat nie! Nie dat ʼn mens hierdie ding ʼn voertuig kan noem nie.”
Hy leun op sy regterarm by die venster uit en lig sy sonbril. Dadelik begin my voete sweef. Ek oordryf nie, dis die ongelooflikste paar oë wat ek al in 'n menslike gesig gesien het. Gode, ja, engele selfs, was dalk al geseën met sulke stukkies hemel, maar geen gewone aardling nie. |

|
|

|
|

|
 |
Sam 'n Ware verhaal van 'n dogtertjie en haar olifant
Ingrid Vander Veken (Vertaal deur Antjie Krog)
LAPA
|
|
Daar was eendag – vér weg en lánk gelede ... Só begin alle sprokies, en in hierdie storie is daar ookk iets van ʼn sprokie. Behalwe dat di regtig gebeur het.
Daar was eendag – vér weg en lánk gelede –'n dogtertjie. Daardie dogtertjie, was ek.
As ek nou nog gelewe het, sou ek meer as honderd jaar oud gewees het.
Maar meer as honderd jaar gelede, toe al dié dinge gebeur het, was ek maar net agt jaar oud ...
Dit gaan nie 'n gewone dag wees nie.
Dit weet ek, ... |

|
|

|
|

|
 |
Ouens is nes ekstra bagasie
Janie Oosthuysen
Lapa
|
|
Lusteloos stap ek met die loopgang langs. In die deur steek ek vas. Misnoeg staar ek na die fossiele op Vlug 593 van Johannesburg na Nairobi. Waar het hulle al die oumense gavang? Dink net hoe cool gaan dit wees om die hele ent pad langs een te moet sit.
Eintlik moet daar 'n wet wees teen oumense, 'n soort afsnypunt, die wêreld is klaar oorbevolk en mense word net al hoe ouer. Iewers het ek gelees in 1870 het mense gemiddeld skaars veertig geword.
Ek meen véértig! Wie wil in elk geval veertig wees?
“Kan hulle beweeg daar voor?” roep 'n stem agter my.
Ek kry 'n stootjie in die rug en die lugwaardin beduie na die gangetjie. Met my oë op die sitpleknommers teen die dak, volg ek die skuifelende passasiers. Wat wil die spul kadawers tog in Nairobi gaan maak?
Nou weet ek!
Iewers het Pa iets geskryf oor twee groot konferensies van paleontropoloë vanoor die hele wêreld. Die eerste was glo in Johannesburg, waarna almal na Nairobi sal verskuif. Pa se e-posse is net so interessant. Teen dié tyd weet ek allerhande useless goed, soos dat 'n paleoantropoloog iemand is wat versteende geraamtes opgrawe, iemand met 'n onnatuurlike belangstelling in ou, dooie goed. |
  |
|