| Monoloog:
Gr 8-10 Karakter: Annelie - sestienjarige dogter, enigste kind,
ryk ouers, effe verstoot deur die portuurgroep, nie besonder mooi nie, teruggetrokke. 
|
|
Blomme
vir Annelie (Annelie kom haar kamer binnegestorm, baie
opgewonde. Sy spring op en af, sy het 'n brief en blomme in haar hande.)
Yes! Yes! Yes!
Die wonderlikste hunk van die skool, die man van my drome het my voorgekeer
na skool. Nie sommer net vir chat nie, maar met 'n brief en rooi rose. Gelukkig
was hy haastig op pad atletiekoefening toe, en het hy hopelik nie gesien hoe my
hart in overdrive gaan en ek byna in floute verval nie, en hoe ek daarna byna
oor my voete val om gou genoeg by die huis te kom sodat ek die brief kan lees
nie. Is hy nie 'n absolute romantic nie? (Sy gaan sit, sit die blomme langs
haar neer en vou die velletjie papier oop en lees) All
my life was scattered wide, I
felt useless deep inside. But
everything fell in place, the
moment I saw your face. All
of life's mysteries made sense to me though
there are always more to be I
thought that I would be incomplete for ever, you
came along, and all was right. Die man is nie net lieflik nie, hy skryf
nog gedigte ook. Die wonderlikste woorde, en dit alles net vir my! (Sy
stap na die spieël en bestudeer haar gesig). Ek wonder of hy gesien het
hoeveel nuwe sproete die somerson die afgelope tyd op my gesig laat verskyn het?
Die enigste voordeel van sproete is dat die puisies minder opsigtelik is, maar
vir die res...! Miskien sal hulle nie sien as ek van nou af onderlaag aansit skool
toe nie, en dan kan ek darem die meeste van hierdie sproete wegsteek.
(Sy draai sywaarts voor die spieël) Sou hy dalk gesien het dat my
boude heelwat groter geword het in die laaste tyd. As ek tog net nie so ellendig
baie versot was op tjoklits nie. Miskien hou hy van 'n girl met 'n bietjie vleis
om die heupe. Ek het al gehoor party ouens hou van 'n meisie met 'n bietjie vatplek,
maar nie Gerhard nie. 'n Man met 'n lyf soos syne, soek verseker 'n meisie met
'n silwerdoeklyf, ek sal eenvoudig moet diet. (Sy draai terug na die
brief en die blomme) Byna vergeet ek die lieflike rose. Hulle moet dadelik
in die water kom, want hierdie blomme moet vir ewig hou. Miskien kan ek nadat
ek die blomme in die water gesit het 'n paar oefeninge vir die boude doen, eerder
as weg te lê aan die Aero wat Ma gister by een van haar kliënte gekry
het. (Sy gaan sit die blomme in die water en neem daarna 'n posisie
op die knieë en hande in vir die oefeninge wat sy gaan doen. Sy begin met
die oefeninge) Een, twee, drie, vier... Agge nee, kyk net hoe dril my boude,
dit is sowaar erger as wat ek gedink het. (Haar selfoon lui, en sy
spring op om dit te antwoord) Hallo, dis Annelie. (oomblik stilte, met
'n harde stemtoon) Hallo? Ek kan jou nie mooi hoor nie, sit die musiek tog
bietjie sagter. Dis beter. (stemtoon verander) O, is dit jy Gerhard? Dis
nou 'n verrassing! Ek wou juis... (haar gesprek word onderbreek, sy luister
'n oomblik in verslae stilte) Jy het wat?! Jy het die brief en blomme namens
Vaatjie aan 'n meisie gegee, en toe gee jy dit nog aan die verkeerde een ook.
Julle is absoluut disgusting! (Sy druk die foon dood, ruk die blomme
uit die water en vertrap dit op die grond en skeur die brief in stukkies)
En ek wou nogal vir die idioot diet! Hoe stupid kan 'n mens nou wees! Dankie tog
vir Ma se kliënte wat gereeld vir haar tjoklits gee. 'n Aero gaan darem nou
heerlik smaak, vergeet die maer boude! Kopiereg:
E. de Kock
|
|
As jy dié stuk wil
opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik. Kopiereg
behoort aan die skrywer. Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente
aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).
|