|
"Ever
after" (Sanri op 'n kontinentale kussing voor op die
verhoog. Praat oor die telefoon). "Hallo, Sanri wat praat. (Vriendelik:)
O, haai, jy soek seker my broer. Hy's weg . . . na Jolinda toe. O, die Afrikaans?
Laat ek net gou dink. . . Ons moet mos Kringe in 'n Bos Hoofstuk 4 lees. O ja,
en 'n opstel skryf. Oor 'My droomnaweek'. Ek weet! So oorspronklik mens kan mal
raak! (Teken prentjies op 'n skryfblok terwyl sy praat). Het Liela al kleintjies
gekry? Regtig - vyf! Ag jinne . . . dalk maak ek later 'n draai! Okay, baai Tjip
. . ." (Sit
telefoon neer; dra kussing na waar venster kamma is. Gaan sit kruisbeen en staar
na 'buite'. Begin skryf, praat hardop . . .) "My droomnaweek. . .
" (Kyk op), ". . . was nie hierdie naweek nie! Hierdie naweek
was 'n nagmerrie!" (Sug, en staar na die gehoor). "Hoe vertel
mens in 'n bladsy van 'n gebeurtenis wat eeue lank gevoel het? Sal maar probeer
. . ." Verlede
week het Tannie Miets van langsaan kom vra of ek nie asseblief Saterdagaand na
Ilse sal kyk nie; sy en die Oom het 'n funksie. Ek wonder toe waar is die 'Honourable
Sewentienjarige Sir' van die huis, maar sê liewers niks. Ek sê net
ewe vriendelik dit sal nie 'n probleem wees nie. Maar eintlik kners ek op my tande;
Ilse is die ergste spoilt brat wat ek nog ooit ontmoet het. En ek ken nogal 'n
paar . . . soos byvoorbeeld haar broer De Wet, 17 en hoofseun van ons skool. Hy
is glad nie 'n lelike ou nie - hy't beautiful . . . (val haarself in die rede)
maar hy dink hy's die Sonkoning en al wat 'n girl is, moet die grond waarop hy
loop aanbid. Wel, hy sal laaank wag as hy dink ek gaan ooit in híérdie
bestaan ophou om hom te ignoreer. Of . . . so het ek gedink. So
kom Saterdagaand toe. Ma-hulle is ook weg, en toe dit vyfuur raak, stap ek oor
die straat na die Malans toe. Behalwe vir Ilse, gee ek nie baie om om daar te
babysit nie. Hulle het DStv, Mnet, CD's vir Afrika en dvd's vir die hele wêreld.
Daar's Internet, en 'n swembad vir die somer. Mens kan jouself lank besig hou,
en dit geniet! (Staan
op; maak 'voordeur' oop, kyk half bekommerd in die lug op). Toe ek ons
voordeur oopmaak, is dit skielik bedruk buite. Die lug is loodgrys, en ek weet
sommer: Hier kom 'n storm. Ek weet ook hoe bang Ilse vir donderweer is. My moed
sak in my skoene - dit gaan 'n láng aand wees. (Druk
interkom voor Malans se hek). "Hallo Tannie, dis Sanri. Dankie . . ."
Nadat Tannie Miets vir die duisendste keer vir my alles van die alarm en 10111
en hulle selnommer en die brandblusser en "Oppas tog vir Ilse by die swembad"
ingeprent het, is hulle oppad. (Sug verlig, maak denkbeeldige deur agter hulle
toe). Dáár is nou vir jou 'n vrou wat volledig op haar man se
kop sit! Oom Jaco tjieep net so nou en dan, verder maak hy net geld. Nou
ja, die eintlike storie gaan nie oor hoe lank ek gesukkel het om vir Ilse in die
bed te kry nie. Dis 'n nagmerrie vir 'n ander dag. Die dinge het begin skeefloop
ná sy gaan slaap het. Ek sit ewe lekker opgekrul voor die TV (gaan sit
op kontinentale kussing, werk met 'afstandbeheer') en kyk "Ever After"
Lekker soppy, maar toemaar. Meraai, die kat, is langs my. Sy spin rustig. Die
fliek maak klaar. Ek re-ek my uit. "Ja, Meraai, my dier, dis ook net
in Hollywood waar mens prinse kry wat nie blêrrie pampoene is nie! Ek sê
jou, in hierdie geweste is daar nie eers 'n halwe ou wat 'n bietjie ruggraat het
nie!" (Gee die kat 'n stywe druk, sodat sy verwoed miaau). "Jammer
man! Wil jy bietjie koffie hê?" Dis duidelik dat sy nie wil koffie
hê nie. Sy wil net daar op die bank lê en slaap - gevrek! Maar
skielik hoor Meraai iets. Een groen oog gaan oop. Ek hoor dit ook. 'n Geluid in
die kombuis. Dis by die venster! Klink soos 'n geritsel, 'n geskuifel . . .iemand
probeer die venster oopkry! Wat moet ek doen?! Waar's die alarm nou weer? En wat
het ek met daai selnommer gemaak?! Ek is blank, gevries, my lyf wil nie beweeg
nie. Meraai het lankal die pad gevat - sy los my net hier alleen! Dit
het nou begin reën buite, en die weer rammel. Dit ook nog! As Ilse noou wakker
word . . . en wie ook al by die venster is kry dit reg om in te kom . . .wat gaan
ek maak?! Ek hoor dit weer. Daar ís iets, of iemand. Dis 'n moordenaar,
'n psycho-killer . . . hy's by die voordeur, daar hamer hy aan die deur! (Het
opgespring, kyk na waar 'deur' is, lyk vasgekeer en baie bang). Ek
moet 'n wapen kry! (Sien hokkiestok op grond lê, gryp dit). Ek gaan
dit nie só maklik vir hom maak nie . . .(onderdruk 'n gil as sy 'n skaduwee
by die venster sien). Daar's 'n gesig!! Ag hemel, niemand sal my hoor
as ek gil nie; die donderweer . . .wag ek kan huis toe bel! (Gooi hokkiestok
neer, tel denkbeeldige telefoon op. Luister, plak dit neer). Die lyn is
dood. Dis die swaar weer . . .(klink desperaat. Tel weer hokkiestok op, beweeg
in rigting van 'gang', na waar kombuis is. Praat haarself moed in:) Nee.
Nee. Nee! Ek weier om nou dood te gaan. Ek wil nog trou, en kinders kry . . .en
. . .(gil skielik, slaan iemand baie hard, 'n paar keer, stoei met denkbeeldige
aanvaller). Los
my! Nee . . .eina! (Slaan nog een harde hou met hokkiestok, laat val dit dan
skielik. Buk verslae langs 'aanvaller'). De Wet! Ag jimmeltjie tog! Is
jy oraait? Nee, jy is nie - kyk hierdie knop! O genade, hy's lights out. Moenie
doodgaan nie, asseblief, ek smeek jou. Ek is sooo jammer! Wat het ek aangevang?
Hy gaan my rêrig vermoor! (Gaan sit langs hom, streel oor sy hare. Ruk
haar hand skielik terug). Hallo. Nee, jy's nie in die hemel nie! Hoe voel
. . . is jy oraait? (Luister) Ja, maar vir wat breek jy by jou eie
huis in elfuur in die aand? Uitgesluit? O . . . Hmmm. . . (giggel, en vat
aan die knop op sy kop). Jy lyk nogal weird. Kom, ek help jou bank toe. (Stut
hom tot by kussing. Gaan sit 'langs' hom). ('n
Rukkie lank ongemaklik stil. Kyk rond, orals op verhoog). Nee (lag
half) . . . sê jy maar eerste. Ja, dit reën nou erg. Hoor hier,
ek's rêrig jammer, oor jou kop bedoel ek. Ek het nie geweet . . . (luister)
Ag! (lyk skaam). Wat bedoel jy, as ek jou nie so hard geslaan het nie,
sou jy nooit geweet het my oë is so groen nie? Wel, nou weet jy . . . (Sug,
staan op, draai eers haar rug na die gehoor toe, en kyk dan vir hulle).
Hierdie naweek wás 'n nagmerrie. (Buk en tel 'n pienk roos op. Draai
dit tussen haar vingers). Maar toe verander dit in 'n droom, en toe word die
droom 'n sprokie . . . De Wet het dit vir my gegee (ruik aan die roos, lag
skielik). Wat sal die mense sê as hulle hoor ek het my prins van
sy perd afgeslaan met 'n hokkiestok?! (Lag.) En as hulle hoor ek gaan saam
met 'n ou matriekafskeid toe wat 'n reënboogkleur-knop op sy kop het - so
groot soos 'n tennisbal! (Draai 'n paar keer in die rondte, maak of sy
dans.) Ek weet nie. Maar ek weet wat ék sal sê: And they
lived happily . . . ever after. The end. (Dans stadig in die rondte, so
of met 'n balrok, van die verhoog af.)
Kopiereg:
Anneretha Combrink
|