|
Wil
jy nie koeksisters koop nie?
(MANDA STAAN, KYK VIR DIE MENSE,
HEELTYD BESIG OM MENSE TE NADER OM KOEKSISTERS TE KOOP. SY HOU ELKE KEER 'N SAKKIE
OP EN GLIMLAG VRIENDELIK.) Tannie
... ek wil nie pla nie ... (DIE SIN RAAK BIETJIE WEG, OMDAT DIE VROU NIE
AAN HAAR AANDAG GEE NIE. MANDA KYK DADELIK ROND OM TE SIEN WIE SY NOU KAN VRA.)
(PRAAT
MET 'N HOND OP DIE SYPAADJIE.) Hallo Hond! Waar loop jy rond, jong? (NADER
WEER DIE VOLGENDE PERSOON.) Wil
tannie nie koeksisters koop nie? (SY LOOP 'N ENTJIE SAAM MET DIE VROU. DIE VROU
IS HAASTIG EN KYK NIE EINTLIK NA MANDA NIE.) Dis net tien rand 'n pakkie. (LUISTER)
Tannie eet nie koeksisters nie? Sal tannie se man nie ... (KRY 'N AFJAK.) 'Skuus
tannie ... (GLIMLAG.)
Lekker koeksisters, oom. Dis net tien rand 'n pakkie. (LUISTER.) O, het oom nie
nou soveel geld nie. Dis reg, Oom, ek sal môre ook hier wees. (ARM
WORD MOEG. RUIL DIE MANDJIE OM NA HAAR ANDER HAND.) (GLIMLAG.)
Lekker koeksisters. Dis net tien rand 'n pakkie. (LUISTER.) Nee... dis vars gebak.
Gister. (LUISTER.) Bietjie klein? (MAAK 'N PLAN:) Jy kan dit kry vir agt rand.
(LUISTER.) Ja, ek het kleingeld. (NEEM NOOT EN SOEK KLEINGELD IN HAAR SAK, KEER
KLEINGELD UIT EN OORHANDIG 'N PAKKIE KOEKSISTERS.) (TEL
DIE PAKKIES IN DIE MANDJIE.) Twee, vier, vyf, sewe, agt, nege, tien. Nog tien
pakkies oor. Honderd rand - as ek alles verkoop kry. Ma sal bly wees. (STAAN
NOG EN RONDKYK - SPRING DAN VINNIG UIT DIE PAD UIT.) Simpel! (KYK AGTERNA.)
Mens ry nie fiets op 'n sypaadjie nie! (ROEP AGTERNA.) Dis ook net jy, André!
Weet nie van beter nie, nê! Simpel! (PROBEER
HAAR ORE TOEDRUK, MAAR DIS MOEILIK MET DIE MANDJIE WAS SY VASHOU) Ek hoor jou
nie! Ek hoor jou nie! Sussie met die koeksisters, Sussie met die koeksisters!
(SY
SKUD HAAR HARE AGTERTOE.) Maak of jy hulle nie hoor nie, sê Ma. (WORD DRIFTIGER.)
Dis nie so maklik nie! Hulle hou so aan en aan. Pouses en in die klas en op die
stoepe - altyd as die onderwysers weg is. Altyd waar net die kinders hulle kan
hoor: Sussie met die koeksisters, Sussie met die koeksisters! (SY
RUK HAAR REG AS DIE VOLGENDE MENS NADER KOM.) Wil tannie nie koeksisters koop
nie? (LUISTER.) Tannie het ook kinders in die skool? Dis nie vir die skool nie...
(NADER
VOLGENDE PERSOON.) Oom
... ek wil nie pla nie ... (DIE SIN RAAK BIETJIE WEG, OMDAT DIE MAN NIE AAN HAAR
AANDAG GEE NIE. LAAT SAK DIE MANDJIE WAT SWAAR GEWORD HET. SY GAAN SIT MOEGERIG
MET DIE MANDJIE LANGS HAAR.) (PRAAT
NA DIE GEHOOR TOE.) Nee, dis nie vir die skool nie. Dis vir onsself... dat Ma
die huur kan betaal. Die hele karavaan ruik al na koeksisters - na olie en suikerstroop.
(SY PRAAT ASOF SY ANTWOORDE VIR DIE VERSKILLENDE MENSE GEE.) Dis
vars oom, regtig. Ma het dit self gebak. As ek en Bennie wakker word, dan het
Ma klaar die deeg geknie en gesny - reg dat ek die koeksisters kan vleg. (MAAK
DIE BEWEGING SOOS MENS KOEKSISTERS VLEG EN VASDRUK.) Maar sy wag met die olie
tot ons skool toe is. Sy's bang Bennie brand. En as dit gebeur, sê Ma, is
daar groot probleme. (TREK HAAR SKOUERS OP.) Ma is nog erger nadat die tannie
van die welsyn by ons was. Hulle
het agter in die jaart gestaan en gesels, sy en Ma, toe ons van die skool af gekom
het. Dis mevrou Conradie, het Ma gesê. Sy kom net kyk hoe dit met ons gaan. (JAAG
'N HOND WEG.) Sjoe! Voertsek hond. Jy kan nie die koeksisters eet nie! Gaan bedel
op 'n ander plek! (PRAAT
WEER MET DIE GEHOOR - Opmerking: Sy kan dalk ook met die hond praat - besluit
self.) Sy wou alles weet, die vrou met haar lêer en deftige hare. (BEDUIE)
Of ons die oggend geëet het, of ons 'n broodjie skool toe kry, waar ek my
huiswerk doen. (SKUD HAAR KOP.) Waar anders! By die tafeltjie in die karavaan
- nadat ons Ma gehelp het om die sakkies te pak. Mens se hande word so taai. (LEK
VINGERS AF.) Eers het ons daarvan geëet ook, maar nou nie meer nie. Naderhand
eet mens dit nie meer nie. Maar ek weet dis lekker. (KNIK KOP) Ma
het haar 'n sakkie koeksisters gegee - vir die vrou van die Welsyn. "Dis
tien rand, Ma!" het ek nog gesê toe die tannie in haar kar klim, "en
Ma sê altyd suiker en olie en meel is so duur. En ons moet nog die gas ook
betaal!" (SKUD
HAAR KOP.) Ma het net haar kop geskud en ons styf vasgehou. Sy het nie gepraat
nie. Sy het eenkant toe gekyk, sodat ons nie kan sien dat daar trane in haar oë
is nie. Ma
probeer wegsteek dat sy huil. Sy het gehuil toe Pa sy werk by die myn verloor
het en omdat hy so baie gedrink het en ... en toe hy eendag net weggeraak het.
Sy't gehuil toe ons uit die huis getrek het. (SIT BIETJIE EN DINK - TREK DAN HAAR
SKOUERS REGOP.) Maar toe het sy nie meer gehuil nie. Sy sê ons sal regkom.
Ons sal mekaar help. Sy maak mos staat op ons, sê sy. (SY SNUIF. STAAN OP
EN VAT WEER DIE MANDJIE ASOF SY NUWE MOED HET.) (GLIMLAG.)
Lekker koeksisters, oom. Lekker koeksisters, tannie. Lekker
koeksisters, oom. Dis net tien rand 'n pakkie. Tannie
... ek wil nie pla nie ... (KYK
BY DIE VROU VERBY.) Agge nee! Daar kom André weer. (PROBEER UIT DIE PAD
UIT STAAN, MAAR ANDRé GRYP NA DIE MANDJIE. DIT PLUK HAAR VORENTOE EN DIE
SAKKIES VAL UIT OP DIE SYPAADJIE.) Haai!
(SKRIK.) Simpel! Simpel, André! Kyk wat het jy nou gedoen! Al die pakkies
het uitgeval. (NABY
AAN TRANE. KNIEL OP SYPAADJIE OM DIE PAKKIES KOEKSISTERS WAT VERSPREID OP DIE
SYPAADJIE Lê OP TE TEL. VAN DIE PAKKIES HET OOPGEBARS.) Kyk hoe stukkend
is die sakkies! Die koeksisters is almal pap! (RAAS
MET 'N HOND WAT NADERKOM.) Voertsek hond, jy kan nie hiervan eet nie! (GOOI 'N
KOEKSISTER EENKANT TOE.) Nou goed, gaan vreet dan maar! Niemand kan dit tog nou
eet nie. (TEL
AL DIE PAKKIES OP EN SIT DIT IN DIE MANDJIE TERUG. SIT 'N OOMBLIK SO EN LOOP DAN
MOEDELOOS VAN DIE VERHOOG AF.) (NET
VOOR SY VAN DIE VERHOOG AF IS, STOP SY AS IEMAND MET HAAR PRAAT.) Oom?
Was dit lekker koeksisters, oom? Dis reg, Oom. (KYK NA DIE GEHOOR, TREK HAAR SKOUERS
REGOP) Ek sal môre ook hier wees. Vir
MM Kopiereg: Franci
Greyling
|