|
Monoloog:
Gr 3-4 dogter Karakter: Katrien
is `n lewendige tienjarige wat kort is teen die ander kinders van haar ouderdom.
Sy het `n ouer sussie, Jana (12), en `n ouer boetie, Pieter (15), en hulle en
hul ouers spandeer die dag by die pretpark. Dekor:
Slegs 'n stoel word benodig wat kan dien as die karsitplek of ritte by die pretpark.
Hier is ruimte vir improvisasie.

|
|
Mallemeule-dag
(Katrien
neul by haar pa)
Pappa, Pappa, wanneer ry ons? (Luister) Maar dit was nou-nou al
nou-nou! (Luister) Jippie! (Trippel oor die verhoog na die
kar en gaan sit ongeduldig) Ouch, Pieter! Moenie my stamp nie! (Kyk
by die venster uit terwyl hulle ry) (Wip opgewonde op haar sitplek
rond) Ek sien die mallemeule! Ek sien hom! (Stry met haar sussie)
Is nie - ek het hom eerste gesien! Jy jok, Jana! (Spring uit die kar uit
en is dadelik weer opgewonde) Pappa, Pappa, kan ek op die mallemeule ry?
Eers kaartjies kry? Agge nee! (Staan ongeduldig in die ry) Pappa,
maak gou, asseblief, Pappa. (Glimlag breed en begin aanstap na die verskeie
ritte) Oe, Pappa! Stampkarretjies! Asseblief, asseblief kan ek daar gaan
ry? So boem-boem, brrrrrrr, eeeeuuh, doef! (Maak of karretjies ry)
(Trippel na die karretjies en meet haarself by die lengtemeter) Wat?
Nie lank genoeg nie? (Frons en steek lip uit, vou arms baie ontevrede)
Maar hoekom mag Pieter en Jana dan ry? Dis onregverdig! (Gaan sit moedeloos
op die grond en kyk) (Mompel by haarself) Dis onregverdig
ek wil ook! Ek is oud genoeg, net nie lank genoeg nie! (Kyk op na broer
en suster asof hulle klaar is) Moenie vir my sê hoe lekker dit was nie!
(Steek tong uit) (Staan op en loop na die volgende rit) (Spring
opgewonde op en af) Kyk die boot! Kyk die boot! Ag asseblief, Pappa, kan
ek op hom gaan ry? (Gaan staan opgewonde voor die lengtemeter - staan op
tone) Nie lank genoeg nie? Wat! (Doen weer dieselfde - ontevrede)
Hoekom mag Pieter en Jana alles doen? Dis onregverdig! (Kyk op na Ma)
Ja, ek wil op iets anders gaan ry waar Pieter en Jana nie mag nie! (Trippel
agter Ma aan en gaan staan voor die rit) Mamma, ek wil nie perdjies ry
nie. Dis vir babatjies! (Klim ongewillig op `n perd se rug) (Mompel
ontevrede) Ja, al wat ek mag ry is die baba-perdjies! (Praat eentonig)
Al in die rondte, al in die rondte
kyk hoe opgewonde is ek! Die perdjies
is baie lekker! Lekker, lekker! (Klim van die perdjies af) (Glimlag
sarkasties) Ja, dit was lekker. Maar ek wil eerder op daai ding gaan!
(Loop opgewonde soontoe, meet) Alweer te kort? Ek sal liewer in die kar
gaan sit en wag! (Kyk na Ma) Goed. Ek sal op iets anders gaan ry.
(Loop na `n rit) Dis die baba-treintjie. (Nie in haar skik)
Mamma, kan ek nie op iets anders ry nie? (Luister) Goed dan. (Sug)
(Klim op die treintjie en lyk verveeld) Treintjie-ry, treintjie ry,
hoera
Lekker, lekker. (Sing verveeld) Tjoeke-tjoeke-paf, tjoeke-tjoeke-paf-paf,
kyk hoe ry ons in die babatrein
(Klim van die treintjie af)
Mamma, kan ons nou huistoe gaan? (Luister) (Sug) Okay, as
ek dan rêrig moet
(Stap na `n rit) Dis dan die mallemeule!
Hulle gaan seker hier ook sê ek is te kort! (Skop die sand)
Vir enige iemand? Rêrig? So ek kan ry? Jippee! (Klim met nuwe
energie in die mandjie saaam met die res van die gesin) Wheee! Uiteindelik
is daar een rit wat ons almal saam kan ry! Ek, Pappa, Mamma, Pieter en Jana!
(Glimlag tevrede) DIE
EINDE Kopiereg:
Luisé Louw
|