|
Nag,
Lucy! Liewe Lucy
ek sit gisteraand saam met Willie op
sy patio en dop maak en hy sê, mag ons altwee se toekoms blink wees, en
ek weet hy dink net aan ryk word, maar ek sê, cheers en hy sê tjorts;
vee daai dêm frons van jou gevreet af, man; jy lyk soos 'n kat wat vrot
melk gesuip het; is jy nie bang jou gesig bly staan so nie? Toe maak hy ons glase
weer vol. Jy weet mos hoelank vat party ouens om 'n dop te skink - so of hulle
nie rêrig wil nie. Maar ek kan eerlik sê Willie wil; hy's
nie suinig nie, wat ook al sy anner foute is. Maar te veel is te veel,
daaraan glo ek. Ek hou my hand op en ek sê hard, sodat hy kan sien hoe ernstig
ek is, ek sê, "Sorry, Willie ou pêl, een is klaar te veel in
die omstandighede. Hy vra 'watter omstandighede?' en ek sê, ek het vanaand
uitgesit om te dink oor die lewe. MY lewe, oukei? Willie sê nog, jy weet
mos ek sal jou huis toe vat, maar toe's ek reeds by die deur uit, sonder om te
groet. Dis nie soos ek is nie, ek bedoel, om te loop sonder om tot siens te sê,
maar ek wou hê hy moet sien ek bedoel elke woord
Dit het gisteraand
gereën, Lucy. Jy ken mos die ou Karoo. As hy die dag op sy stukke is na 'n
lang droogte. Niks keer hom nie. Jy kan behoorlik sien hoe die karoobossies wakker
word en water suip; jy sal sweer dis 'n dier. Dit het my aan die dink
gesit, Girlie. Weet jy waaraan? Aan laas somer toe jy hier was. Toe was dit of
die aarde wou versuip; daar was nêrens 'n droë kol nie. Nie eers in
jou eie kamer nie. Dis seker hoekom ek gisteraand so eensaam gevoel het.
Ek weet nie hoelank ek so kop onderstebo gesit het nie. Ek het later nie eers
meer geweet dit reën nie. My kop was vol gedagtes oor jou. Maar ek wou nie
dink nie, Lucy. Nie oor die verlede nie en ook nie oor die toekoms nie. Ek
het jou brief gekry, Girlie. Laas week al. Ek weet nie hoekom jy my nie meer wil
hê nie. Ek dink my kop moeg, maar ek kan nie onthou wat ek verkeerd gedoen
het nie. Wat het ek gedoen, Girlie? Daar is mos niks wat nie vergewe kan word
nie. Ek is jammer ek hou so aan, Lucy, maar my kop wil niks anders dink
nie. Dat jy my wil drop. Jy moenie dit aan my doen nie, Girlie. Ek het al so baie
in die lewe gevat. Ek is al skoon vuisvoos van al die houe, ek kan nie meer vat
nie. ******
Toe ek gisteraand by Willie weg is, kon ek nie rus kry nie. Toe gaan ek maar
na oom Archie toe. Hy bly nog alyd in die huis langs die rivier. Die een met die
platdak en die groentetuin. Daar was eers 'n blomtuin ook, maar oom Archie sê,
blomme hoort nie meer daar nie. Ek kan verstaan hoekom hy so sê. Hy't verander
vandat sy vrou hom gelos het. Hy's nie meer dieselfde mens nie. Ek verstaan
dit, Lucy. Ek weet hoe voel dit as die lewe jou behandel of jy niks is nie. Jy
weet nie hoekom nie en dit maak seer. Dis of iets gebreek het in jou en jy kan
dit nie heelmaak nie. Oom Archie sê jy dink jy ken mense, maar as jy diep
daaraan dink, ken jy niemand nie. Jy ken nie eers jouself nie. Die ergste is,
jy ken nie eers die mense wat jy liefhet nie. Ek dink dis hoekom ek so eensaam
voel: omdat ek JOU nie ken nie. Nie rêrig nie. En omdat jy dink
jy ken my, maar jy ken my ook nie. Nie rêrig nie. Party mense sê
die lewe is nie regverdig nie. Hy staan partykeer met sy gatkant na jou toe en
jy kan daar niks aan doen nie. Maar Pa het altyd gesê, jy kry wat jy verdien.
Ek weet nie wat die waarheid is nie, Lucy. En dit maak my bang. As die lewe NIE
regverdig is nie, sal dit mos nie help jy baklei nie. Ek bedoel, as jy net kry
wat jy verdien
dan is EK mos verlore, Girlie. Want ek VERDIEN jou mos nie
Ek is lonely, Lucy. Weet jy hoe dit voel om lonely te wees? *****
Ek was netnou weer by oom Archie. Hy't nie oopgemaak toe ek aan die voordeur
klop nie, toe loop ek maar agterdeur toe. Hy't by die tafel gesit met 'n boks
vol foto's voor hom. Hy was so ingedagte, hy't my nie eers raakgesien nie. Ek
dog toe hy gaan die foto's vir my wys, maar toe sit hy als terug in die boks en
bêre dit bo-in die koskas. Toe eers kyk hy na my, maar dit was of hy my
nie sien nie. Miskien was sy gedagtes vêr. By sy vrou. Wat weggeloop het
saam met 'n traveller Durban toe. Die dag voor Kersfees. Dit kon nie lekker gewees
het nie
"Haait, oom Archie!" groet ek opgeruimd, om hom
op te beur. "Hoe's die lewe hierlangs?" Maar hy antwoord nie,
en ek dink, daar is seker niks om te sê nie. Woorde sê nooit rêrig
wat jy wil sê nie, so dis beter om stil te bly. Ek staan nog so
en wonder, toe gryp hy my aan die arm en sleep my die straat in. Ek weet eers
nie nie wa'entoe hy op pad is nie, maar toe ek sien, is ons voor Willie se huis,
en ons staan en kyk hoe hy sy seun, Sampie help om op die motorfiets te kom. Die
outjie is nog nie veertien nie en die ding is sweerlik 'n size of drie te groot
vir hom, maar hy's nie geworry daaroor nie; jy sal sê die mannetjie ry al
motor bike van sy doekdae af, so windmaker sit hy in die saal. Jy't nog
nie soiets gesien nie, Girlie. Ek bedoel, met Sampie wat probeer om ons te impress
en Billy, sy maat, wat lyk of hy vasgelym is op die passenger seat en vir lewe
en dood vasklou aan Sampie se lyf. Ek hoor oom Archie hyg soos hy lag vir die
spektakel en ek dink, dis hoekom hy vir Willie kom kuier het. Om te lag. Sodat
sy gedagtes kan weggaan. Ram-tatta, sê die stuk lawaai. Sampie
gooi 'n lekker es en die agterwiel skop styf. Ram-tatta, ram-tatta
ugh!.
Billy gryp na Sampie se skouers. Sy oë is soos pierings. "Hou
vas!" skree Sampie. "Wil jy jou vrek val?" Jy moes Billy
gesien het. Hy sluk of daar 'n heel turksvy met dorings en al in sy keelgat vassit.
"Ry jy maar," skree hy soos 'n maer vark. "Jy kan mos sien
ek voel nie lekker nie." Toe neuk hy af, gat oor kop. Die
enjin sluk 'n paar keer en kug en proes dat jy hom tot by die poelieskantoor kan
hoor. Toe spring die demmitse ding vorentoe. Hy ruk Sampie se kop amper van sy
lyf af. "Bliksem!" skree Billy. toe die bike oor die grasperk
skuur. Oom Archie lag sonder ophou en Willie trek ons by die agterdeur
in. Hy skink vir ons elkeen 'n double brandy en coke en oom Archie sê hy
soek 'n ysblokke, jy kan nie brandewyn drink sonder 'n ysblokkie nie. Sy gesig
is nog rooi van die lag, maar ek sien daar's trane in sy oë, dis hoekom hy
ander pad kyk. "Tjorts!" sê Willie. "Cheers!"
sê oom Archie, maar hy kyk nie na ons nie. Willie sal moet ophou
skink, dit sien ek gou. Netnou moet hy my huis toe vat omdat ek nie weet wat my
adres is nie. Jy weet mos ek kan nie meer as één dop vat nie, Lucy,
dan's ek pêreletiek
Luister, Willie, ek drink nie meer nie
los
dit vir volgende keer, oukei? 'n Man kan net soveel vat, dan moet hy briek aandraai.
"Op Anna," sê Willie ernstig. Ek en oom Archie lig
ook ons glase, maar dis nie eintlik iets om te celebrate nie. Ons weet Anna het
Willie gelos, want hy't altyd rondgeneuk met ander vroumense. So daar's niks om
te celebrate nie. Maar miskien dink hy ek en oom Archie het ook maar niks om oor
te brêg nie. As EK 'n ander man was wat IETS is, met geld en 'n hoë
job en pensioen en 'n medical aid en als, dan sou jy weer gedink het het oor my,
sou jy, Girlie? Ek bedoel, 'n ou wat IETS is, IS iets. Vroumense los nie sommer
'n ou wat IETS is nie! Luister, Willie, ou pêl, jy moet nou ophou
skink, man! Jy weet mos ek kan nie meer as één dop vat nie, dan's
ek pêreletiek, oukei?
Oukei, nog net énetjie, dan moet ek waai.
Ek moet gaan dink. Oor MY lewe! Toe begin Willie skielik praat en ek
en oom Archie luister sonder om 'n woord te sê. En hoe meer ek luister,
hoe meer besef ek ons stories, myne en oom Archie en Willie s'n
dis almal
dieselfde: Jy dink nog jy sit, dan val jy af en jy weet nie eers hoekom nie. Dis
seker maar soos die lewe is. "Het ek julle vertel hoe't ek my nuwe
girl ontmoet?" vra Willie, en ons sê nee, wat's haar naam?
"Lizzie," sê Willie. "Sy bly in George. By haar pa en ma.
Maar die storie gaan nie oor hulle nie. Dit gaan oor my broer. Watter broer?"
vra oom Archie en Willie sê, "Die een wat begin het om vir predikant
te leer. Hy nooi my een keer elke jaar vir 'n 'party' by sy huis. Altyd op ou-krismis.
Dan vertel hy vir die mense ek is sy broer wat deur Europa getoer het, ek gaan
een van die dae weer. Al sulke kak met strepe. Hy dink seker hy doen my 'n favour.
Nog 'n dop, oom Archie? Ek vra jou nie weer nie, Jamie, jy kan dit nie vat nie;
ek weet nie wat van jou gaan word nie
Willie skink vir hom en oom
Archie. "Het ek gesê hy gee my altyd 'n spiv suit?" vra
Willie vir ons. Ons sê nee, ons kan nie onthou van soiets nie. Toe vertel
Willie, "Boet wil nie hê ek moet uit voel nie, dis hoekom hy my elke
jaar 'n suit present gee vir Krismis. Hoe sal ek lyk, hu, met my jeans? Boet se
high-en-mighty vrou, Annelize, sal sê, "Sies, man, was jy dan nooit
jou klere nie?" Julle weet hoe party mense is: praat eers en dink agterna
"Nie almal het so 'n broer nie," sug oom Archie. Willie
skink weer en vra of ons weet sy broer nooi hom net om 'n preek af te steek omdat
hy - dis nou Willie - drink True as Bob. Dis sy manier om homself te vergewe,
sê Willie. Hy voel skuldig omdat hy nie klaargemaak het vir predikant nie.
Maar wat is 'n groter sonde:: om te drink, of op ander mense neer te sien, soos
Annelize of te lieg, soos hy? Ek vra julle. Ek en oom Archie sê
altwee neersien en lieg is die grootste sondes en Willie sê dit wys ons
twee is sy grootste pelle, weet ons hoekom hy uitsien na die toekoms?
Oom Archie sit in sy glas en kyk en ek sê nee, hoe sal ons weet? En toe
vertel hy ons. "Dis oor my nuwe girl," sê Willie. "Wat
ek op Boet se 'party' ontmoet het. Laas Krismis." Dit lyk my ons
mans ontmoet almal vroumense. Nie omdat jy daarna soek nie. Dit gebeur net, Lucy.
Agterna wonder jy hoekom dinge so uitgedraai het, maar jy weet nie. Net oor jou
het ek nooit gewonder nie, Lucy
ek wil hê jy moet dit weet
nooit!
Ek het jou van die eerste dag af liefgekry. "Sy's nie meer jonk
nie," vertel Willie en kyk in sy leë glas. "Amper so oud soos ek.
Ses-en-dertig. Maar sy is gaaf en haar pa het 'n restaurant op George en sy is
die enigste kind en sy gaan alles erf. En toe begin my kop werk en ek maar sommetjies
en ek sê, ek is ook alleen, hoekom trou ons nie en sy sê ja; dit was
vir haar love at first sight, was dit ook so met my? Wat sê 'n man, oom
Archie? Nou's haar mense haastig. Ons moet trou, want die oubaas is oud en soek
'n man wat na sy dogter kan kyk en vir haar kinders kan gee. Wat sê 'n man
in so 'n situasie, oom Archie?" Maar oom Archie se mond en oë
is bot toe. "Nog 'n dop, oom Archie? Jamie, wat van jou? Jy lyk
vrekdors, man. Vat nog een op my troue." Willie sal moet ophou skink!
Netnou moet hy my huis toe vat. Hy weet mos ek kan net een vat, dan's ek pêreletiek.
Nou neuk hy om aanmekaar te vra; het hy dan nie bleddie ore nie? Dankie, Willie,
tenks, man!. Dis hoekom ek nooit meer as een dop vat nie, Lucy. Van die
tweede een af kan jy my met 'n veertjie omtik. Maar dit sal nooit gebeur as JY
by my is nie. Dis 'n promise! Jy weet mos, net één kyk van jou en
ek weet ek neuk verkeerd. So jy hoef nie bang te wees nie; ek sal jou nie in die
skande steek nie. Dis 'n promise, oukei? Dis net
vanaand vier ons
Willie se geluk. Hoe sal dit lyk as ek my eenkant hou? Dit sal lyk of ek nie omgee
vir my pelle nie, en ek GEE OM! ****** Oom
Archie het my na sy huis toe gevat. Sodat ek kan rus na die drinkery. En kan DINK.
Dis soos oom Archie is, HY GEE OM. En dit sê iets van 'n man se karakter.
Het ek jou al gesê, hy's soos 'n Pa vir my? As jy vir my kom kuier,
kan ons by hom gaan inloer. Mens kan sien daar is nie 'n vrou nie. As dit nie
vir die potplante was nie, sou die plekkie ook maar dêm sêd gelyk
het. Maar ek dink hy's gelukkig daar. Met die plante wat die hele huis vol staatn.
Dis hoekom ek gevra het, waar kry jy al die plante, oom Archie? Ek het nog nie
soveel soorte bymekaar gesien nie. Ek dag toe ek kan vir jou ook 'n paar koop,
sien; jy's mos so lief daarvoor. Toe sê hy die meisie wat hy gehad het nadat
ant Lilly weg is
sy het dit vir hom gegee. Oom Archie het nooit
oor haar gepraat nie, maar almal in die dorp weet sy en oom Archie was nie lank
bymekaar nie, toe loop werk sy in die stad. Ek glo nie hy het weer van haar gehoor
nie. Nou's dit net die potplante wat hy oorgehou het. ****** Ek
verlang na jou, Lucy. Skemer saans, as die voëls mekaar nag sê in die
bome voor my kamervenster, dan
ek weet nie hoe om dit te sê nie, Girley.
Dis
dis of hulle net vir my sing. Of JY een van die tortelduiwe is, en jy
koer-koer, en jy sê dinge wat ek nog nooit gehoor het nie. Dinge wat ek
vir JOU wil sê, maar ek kan nie, dis te diep weggebêre in my hart
Weet jy hoe dit voel, Lucy? Jou kop sê vir jou jy het nie 'n kat se
kans nie. Maar jou hart WIL NIE DAARNA LUISTER NIE!. Weet jy wat sal
ek doen as jy terugvat? Ek sal 'n ander mens word. Jy sal my nie herken nie. My
gesig sal anders lyk. Jy sal wonder of jy gesigte sien. ******
Dis
al die soveelste keer vanaand dat oom Archie vir my nag sê. Miskien dink
hy aan ant Lilly en
miskien verlang hy soos ek. Ek het na hom geroep,
maar hy het my nie geantwoord nie. Toe klop ek aan sy kamerdeur en ek sê,
"Oom Archie, ek het gedink, miskien moet ek vir my 'n huis koop. Dit hoef
nie groot te wees nie. Ek kry een van die dae 'n verhoging by die werk, dan sal
ek 'n lening kan kry. Dink Oom ek moet? Ek reken so, as ek my eie blyplek het
ek
bedoel, dis miskien hoekom Lucy my gelos het. Omdat sy nie seker is van my toekoms
nie. As ek nou my eie plekkie aanskaf sal sy mos sien ek is ernstig oor haar.
Hoor jy wat ek sê, oom Archie? (POUSE) Oom Archie het nie geantwoord nie.
Miskien het hy geslaap. Of miskien
miskien wou hy net nie praat oor 'n toekoms
sonder 'ant Lilly nie. Ek wil ook nie praat oor die toekoms nie, Lucy. Nie as
jy my los nie
Ek sal nie kan praat nie. (POUSE) Nag, Lucy
Nag,
Lucy (Nuwe weergawe 2005) Kopiereg:
Jac. J. Brits
|