|
Pappa
(Sagte jazz musiek speel. Sy sit op 'n kroegstoeltjie reg voor
op die verhoog. Wanneer die kolligte volsterkte skyn, begin praat.)
Mens
sal dink dat dit na ses maande nie meer seer maak nie.
Dis waar jy die fout maak. Dit bly seer. Jare kan verby gaan, maar
daar bly altyd 'n stukkie onthou oor: reuke, plekke, stemme. . .
foto's.
(Blaai
deur die foto-album op haar skoot.)
Jy vergeet miskien, maar 'n stukkie seer bly altyd oor. Veral wanneeer
mens nie die dood verdien nie. Niemand verdien om in sy eie huis
vermoor te word nie!
Ek weet julle onthou hom! Ek sien as julle simpatiek die koppe knik
as ek verby loop!
Julle onthou sy stoute glimlag en die lig in sy groen oë, maar
julle onthou hom nie soos wat ek hom onthou nie!
(Kollig
1 verdof effens, gaan na 'n kort pouse weer aan.)
Dit was vroegwinter in ons eerste jaar toe ons deur vriende se vriende
ontmoet,
Hy was 'n arrogante jong plaasjapie wat kom swot het sodat hy onder
sy ouers se dak kon uitkom.
Om watter ander rede gaan swot 'n man met Vrystaat lug in sy longe
hoërskool onderwys?
Ek kon hom nie verdra nie. Hy het oor trekkers gepraat asof hulle
sy vriende was!
Maar, sy liefde vir die buitelug. . . daaroor kon ek saampraat.
Teen November was ons beste vriende. En dis waar dit gebly het.
Hy't graad gekry en is 'n ruk terug plaas toe om te gaan boer -
dis wat hy nog altyd wou doen.
"Afrika
is gemáák vir son en veld! Die Here het nie verniet
vir my twee hande gegee nie - dis sodat ek hulle in die grond kan
druk om te plant!"
Toe
ek hom Desember op Margate raakloop was my voete onder my uitgeslaan.
Kort daana is ons getroud en het ek, teen my verwagting, die plaaslewe
geniet.
Juis omdat ek dit met hom kon deel.
(Blaai
na 'n spesifieke bladsy in die album, vryf lieftallig oor die foto.)
Ek
het Dawie nog nooit so bang gesien soos die aand van ons dogtertjie
se geboorte nie.
Vier ure lank het ek my bes gedoen om my longe uit te gil.
Hy het my hand styf vasgehou terwyl hy my moed inpraat.
(Dink
so bietjie na, skud kop laggend)
Nou
dat ek daaraan dink - hy't my meer gepla as wat hy gehelp het!
"Haal
asem, skat! Ons kan dit doen! Dis amper verby! Haal asem!"
Later
het ek op HOM begin skreeu.
"As jy dink dis so maklik, hoekom doen jy dit nie self nie?
As dit nie vir jou was nie was ek nie nou in hierdie gemors nie!"
'n
Paar minute later het Amelie in my arms gelê. Dawie se oë
het trots geblink toe hy oor haar babahaartjies streel - hy sou
daar wees vir haar. Hy sou haar beskerm.
(Smyt
die album neer)
Iemand
het my dogtertjie van haar pappa ontneem!
Iemand het my man ontneem van die kans om sy prinses te sien groot
word!
Twee skote. . . dis al wat dit gevat het. . .
Twee skote later en my dogter het niemand om haar weg te gee op
haar troudag nie!
Twee skote later en oor twee jaar sal sy nie weet wie hy is nie!
Twe skote later en hy's net 'n gesig op 'n foto!
Twee skote. . .
Mens
sal vergeet, dit raak beter.
Dis wat hulle sê.
Raak dit beter?
Dit raak beter! Maar, Amelie huil nou nog vir pappa-Dawie!
Ek skrik in die middel van die nag wakker - sy roep:
"Pappa! Pappaaaaa! Amie bang!"
Mens
vergeet. . .
Sê
JY vir my hoe verduidelik ek vir my kind dat haar pappa nie daar
is nie; nooit weer gaan kom as sy roep nie!
(Maak
die album op die eerste bladsy oop.)
Ek het wonderlike kinderjare gehad.
Ek en my pa was speelmaats.
Hy het my in sy arms opgetel en hoog deur die lug geswaai.
Ons het saam boom geklim en tente gebou met lakens.
Hy kon my laat lag dat my tone krul.
Hy het my hand vasgehou wanneer ek bang was.
Ek word nou nog bang . . . omdat ek weet ek is alleen.
Dawie is nie hier nie.
My pappa is nie hier nie.
My Vader. . . my Vader is nog hier.
Here? Hoor U my?
Dis jou dogtertjie, Vader.
Pappa, ek is bang! Ek is alleen . . . so onseker. . . oor die toekoms.
. . ek weet nie hoe om Amelie alleen groot te maak nie.
Here, wat doen ek?
(Luister 'n rukkie. Hoor Amelie uit haar kamer roep.)
Ammie? Mamma kom, my skat!
Here? Is dit U antwoord?
Dat U ons pappa sal wees?
'n Pappa vir my en Ammelie?
(Hoor
weer Amelie roep.)
Mamma kom my skat!
(Maak die foto-album toe, staan op om die kind te gaan troos,
ligte doof uit.)
Kopiereg: Cornelia
van Biljon en Amni Honniball
|