|
Oupa
noem my Toffie (MEISIE SIT OP 'N STOEL IN DIE WAGKAMER VAN
'N DOKTER.) 'n
Dokter se wagkamer is 'n simpel plek. (KYK ROND OF STAP VAN EEN PLAKKAAT NA DIE
VOLGENDE) Al wat hier is is vaal skilderye, en plakkate oor siektes en medisynes,
(MAAK OF JY 'N TYDSKRIF OPTEL EN DAARIN BLAAI.) en vervelige tydskrifte. Oú
vervelige tydskrifte. (SKUD
KOP MOEDELOOS.) Gewoonlik is hier darem mense ook. Mense wat wag en vervelige
tydskrifte lees. Siek mense - maar darem mense. Gewoonlik is die suster ook hier,
maar sy's al nétnou weg. Ma is al só lank by die dokter. Dis eintlik
vir my wat hy moet sien, maar nou is Ma daar in! (WYS NA 'N DEUR EENKANT.) Dis
oor die toetse se uitslae, dis daarom dat ons dié tyd van die dag moes
inkom as almal al huis toe is. Jaaaa,
(SUG MOEDELOOS) ek sal maar my kaartjies lees. (HAAL KAARTJIES UIT SAK EN BLAAI
DAARDEUR.) "Word
gou beter. Ons mis jou. ... 0/12 Netbalspan." "Liefkind,
een van die dae is jy heeltemal gesond. Pappa." "Ons
is lief vir jou Toffie - van Oupa en Ouma." (GLIMLAG EN DRAAI NA DIE GEHOOR
OM MET HULLE TE GESELS.) My
oupa noem my Toffie. Nee,
dis nou nie daai taai toffies wat mens by die snoepwinkel koop nie. Toffie
kom van op-tof. Dis ook net Oupa's wat so 'n woord ken. Oupa sê ek tof my
altyd op. Ek
dink nie hy is reg nie (SKUD KOP). Ek
dra mos nie grimering nie, en ek het nie lang naels nie (GRIL). Juffrou (voeg
naam in) sal in alle geval raas, en wie wil nou by háár raas
kry? Dalk
is dit wat ek aantrek? (TREK AAN KLERE, DRAAI IN DIE RONDTE) Maar dis tog
nie optof nie? (TREK SKOUERS OP) Ek trek maar net aan wat in my kas is. En wat
kan ek nou maak as ek 'n niggie het wat gou met haar klere verveeld raak, en 'n
ouer sussie wat uit haar klere uitREK (WYS HOE IEMAND LANGER WORD). Wat kan ek
help as ek nie eintlik groei nie? (HARTSEERDERIG) (MAAK
PONIESTERT ONGEMERK LOS.) Ek
dink nie ek tof op nie! (SKUD HARE SODAT PONIESTERT LOSGAAN EN VLEGSELTJIES RONDOM
KOP SWAAI.) Ouma
sê dis oor my háre wat Oupa sê ek tof op. Ek
hou van my hare! (LAAT VINGERS DEUR VLEGSELS GLY) Ek hou van hare opmaak. (GESELS
MET DIE GEHOOR) Ek dink ek was so twee jaar oud toe ek en 'n maatjie 'n skêr
in die hande gekry en mekaar se hare geknip het! Sulke happe in. (WYS) Gelukkig
het ons nie mekaar se oë uitgesteek nie! My ma het toe my hare kort gesny
om al die snaakse happe weg te steek. Maar
kan jy glo, die hare het skaars uitgegroei toe het ek weer die skêr beetgekry!
(VIR GEHOOR.) Dink julle nie grootmense moet skêre beter wegsteek nie? Hóékom
ek my hare gesny het, weet ek nie. Kort hare is tog vir my ááklig! Maar
ek dink dis daar waar my ding met hare begin het. Ek het al allerhande dinge met
my hare gedoen. Ek hou van knippies en strikkies en snaakse bobbeltjies en haarbande
en... (OPGEWONDE)
Ek hou van vlegsels en poniesterte en bollas. Ek
hou van honderde klein vlegseltjies wat as mens dit uitkam, so krrrittss (WYS)
langs my kop staan. Mens vleg URE aan sulke vlegseltjies. (INGEDAGTE) Eers was
dit maklik, maar nou word my arms lam daarvan... (GAAN EFFENS UITASEM EN MOEG
OP STOEL) (TREK
SKOUERS REGOP ASOF SY NUWE MOED SKEP EN STAAN WEER OP.) Maar
moenie dink dat ek net van gewone vlegsels en poniesterte hou nie. O nee, ek is
'n meisie vir kombinasies (SPREEK MET KLEM UIT: KOM-BI-NA-SIES). Partykeer maak
ek 'n poniestert aan die een kant, en 'n vlegsel aan die ander kant... My nuutste
is om my hare in klein vlegseltjies te vleg, 'n bolla te draai, én allerhande
interessante dinge in die bolla te steek. (DEMONSTREER). (REAGEER
AS DIE MA UIT DIE DOKTER SE SPREEKKAMER KOM. HULLE KRY HAAR BESIG OM HAAR HARE
IN 'N BOLLA TE DRAAI.) Ma?
Ma was lank ... Hoekom huil Ma? Kom
Ma, sit nou eers. (MAAK OF SY IEMAND OP DIE STOEL LAAT SIT.) (PRAAT
MET DIE DOKTER) Hoekom huil my ma, dokter? (BEKOMMERD) (SY
LUISTER AS DOKTER PRAAT.) (PRAAT
MET HOM.) Leu... Leukemia? Wat beteken dit, dokter? (LUISTER)
Ek kan
gesond word, dokter, nê. En dan sal ek groei en groot word en weer netbal
kan speel en... (LUISTER) As
ek die behandeling kry? Ek drink mos dan al pille? (LUISTER) Ander
behandeling? Bestraling en che-mo-tera-pie. Is dit erg? (LUISTER)
Behandeling
wat my eers sieker gaan maak voordat ek gesond word. (LUISTER). En wat? (LUISTER
EN GRYP NA KOP) Gaan my hare uitval, dokter? Gaan ek... gaan ek... heeltemal kaalkop
word? (LUISTER) (SPEEL
MET HAAR HARE.) Eers kort sny... en later dalk heeltemal niks hare nie... Vir
'n ruk, vir 'n paar maande... Maar ek sal gesond word, nê dokter? (LUISTER
EN KNIK HAAR KOP. DRAAI DAN NA HAAR MA.) Kom
Mamma, kom ons gaan huis toe. (WANNEER
HULLE AMPER VAN DIE VERHOOG AF IS, KOM SY TERUG EN PRAAT MET DIE GEHOOR.) (LIG
KOP EN SKOUERS - KYK NA GEHOOR MET NUWE MOED.) Ek is Toffie. Ek tof nie net op
nie... ek is ook so taai soos 'n toffie. Ek
sál gesond word! Vir
MM Kopiereg: Franci
Greyling
|