|
'n
Tyd om te gaan (Die
man sit by die tafeltjie en tik rusteloos met die pen op die tafel se blad. Sug
'n keer of wat senuwee-agtig, en haal dan 'n pakkie sigarette uit sy sak. Hy haal
een uit, steek dit aan en neem 'n paar diep trekke. Kyk op sy goedkoop horlosie.)
Tien voor vyf. Nog tien minute. Tien minute om my lewe te verduidelik. Ha! Ek
kon in agt-en-twintig blêddie jaar nie my lewe uitfigure nie!
(Gee 'n verontwaardige snork, trek weer aan sy sigaret en krap dan met sy nael
tussen sy tande.)
Tien minute!
(Hy trek aan die sigaret, blaas oudergewoonte die rook in kringe uit en trek
'n papier en die pen nader.)
Moet seker maar êrens begin. (Begin skryf.)
Pa. Hierdie brief skryf ek vir jou. Jy wat my alleen gelos het toe ek 'n snotneus
laaitie was. Nege flippen jaar oud en jy hol weg. (Kyk op in die rigting
van die gehoor. Vergeet vir eers van skryf.) Ek dog jy kom my haal. Elke
aand pak ek my bruin leather suitcase en sit op my bed en wag vir die flat se
voordeurklokkie. (Trek aan sigaret.) Elke oggend word ek wakker en sê
vir myself vandag's die dag. Ha! Ek wag nou nog, Pa! Waar de hel was jy, hê?
Waar?
(Hy staan vinnig op, gryp die papier, verfrommel dit in sy een hand en gooi
dit op die vloer. Loop na die bed terwyl hy steeds rook. Laat dan die sigaret
op die vloer val en trap dit dood. Hy val op die bed neer en lê hande-agter-die-kop
vir 'n ruk.)
Shame. Arme, stupid, klein laaitie. (Harder.) Arme, stupid, klein criminal!
Watse kans het hy ooit gehad? So sonder 'n bleddie pa. Daarom dat hy gedoen het
wat hy gedoen het. Nonsens, man! Ek het dit gedoen omdat ek wou. Omdat ek dit
gelike het!
(Sit regop op die bed en kyk na sy hande.)
Dit gelike en nou's dit sulke tyd. Tyd om te betaal.
(Kyk op sy horlosie, stap terug na tafel en gaan sit. Hy begin weer met die
pen op 'n papier krap.)
Liefste Ma. Liefste, slegste, losste Ma. Jammer vir wat ek aan jou gedoen het.
Jammer dat ek nooit teruggeslaan het as jy 'n slegte dag op "office"
gehad het nie. Jammer dat ek die halfvol bottel elke aand weggesteek het. Elke
aand op 'n nuwe plek. Jammer dat ek getjank het elke keer as jy uitgepass op die
vloer gelê, en ek jou met 'n kombers toegegooi het!
(Vat aan sy oë, voel dit is nat en bly vir 'n oomblik so sit.)
Jammer dat ek lewens verwoes het, soos jy myne weggeneuk het!
(Vee die papiere van die tafel af. Staan op en loop na die tamatiekissie waar
sy skoene staan. Hy gaan sit op die kissie, maak die blik met politoer oop en
begin met 'n lap blink vryf.)
Ek soek nie pity nie. Ek verdien nie pity nie. 'n Hond verdien meer pity as ek.
(Vryf vir 'n ruk in stilte.)
Anyway, dis nou te laat. Ek kan sorry sê tot ek dood neer slaat, 'n galg
bly 'n galg. (Praat in regter se stem.) Die vonnis is gelewer. Teregstelling.
Ha! Teregstelling? Dis moord man, moord!
(Laat val die goed in sy hande en loop terug na die tafel.) Aan
die ander kant, hoe sê hulle? 'n Appel vir 'n appel, 'n banana vir 'n banana.
(Tel papiere op en gaan sit kruisbeen op die vloer. Probeer weer skryf.)
Babes. Sweetcakes. Jy met jou sparkplug oë en lyf soos 'n reisiesperd. Jy
kon my level met jou smile. Nog meer met jou lyf. (Glimlag skalks.) Vyf
jaar is 'n lang tyd. Ek't alles van jou geweet. En jy alles van my. Ons het good
times gehad. Blêddie goeie tye. En jy was myne. Myne alleen. (Skryf nog
heeltyd.) Ek het niks suspect nie. Nie eers toe jy elke aand met die reuk
van sy aftershave by my kom lê het nie. Tot jy confess. Dié dag.
Jy's nie meer lief vir my nie, het jy gesê. Jy soek hom. (Sê die
woorde baie stadig en duidelik.) Nou goed. As ek jou nie kan hê nie,
sal niemand nie! (Herhaal
stadig.) As ek jou nie kan hê nie...
(Gooi die papier moedeloos neer en druk die pen agter sy oor in. Loop na die
bord kos toe, tel dit op en begin aan 'n stuk brood kou.)
Drie minute oor. Net drie.
(Loop vir 'n oomblik sonder 'n plan rond terwyl hy eet. Stap dan na die bed
en gaan sit daarop. Hy sit die bord neer en kyk senuagtig om hom rond. Haal dan,
met groot moeite, 'n Bybel onder sy kussing uit.)
En dan is daar jy. (Vryf oor die Bybel en versorg versigtig met sy mou.)
My companion deur dit als. Die hartseer nagte, die onseker dae. Die tye van hoop;
om dan net weer tot die mislike werklikheid terug geruk te word.
(Staan op en loop met die Bybel na die tafel toe. Tel papier op en begin weer
skryf.)
Here, my laaste brief skryf ek vir Jou. Waantoe ek na dié gaan, weet ek
nie; maar ek wil anyway dankie sê. En jammer. Jammer vir hoe en wat ek geword
het. Jammer vir die mense wat ek seergemaak het en wat elke dag nog seer het.
Here, ek weet ek het niks meer rights nie, en laat met my gebeur wat moet! Maar
as ek daar bo kom, of warmplek toe gaan; have mercy asseblief!
(Laat sak sy kop in sy hande en kyk stadig voor hom uit. Trane rol oor sy wange
terwyl hy die brief opvou en in sy Bybel sit. Hy staan op, loop na sy bed en sit
die Bybel terug onder sy kussing. Kyk meteens skielik om in die rigting van 'n
geluid by die sel se hek. Staan verstar in daardie rigting vir 'n oomblik, kyk
op horlosie en kan nie glo die tyd is reeds verby nie. Laat sak sy kop stadig
tot op sy bors en loop huiwerig na die tamatiekissie toe. Gaan sit daarop en trek
sy skoene langsaam aan. Terwyl hy sit, kyk hy op na die gehoor.)
Nou ja. Soos hulle sê: 'n tyd om te kom... (Staan
op, loop na hek en stop dan. Kyk na mense en haal diep, bang asem. Blaas stadig
uit. Hy sit sy hande in sy oorpak se sakke en glimlag moeg.)
En 'n tyd om te gaan.
(Loop van verhoog af. Gordyne toe.) Kopiereg:
Eduan Roos
|