|
Uban
Hero (JOHHNY SIT OP `N STOEL EN STAAN DAN OP GEREED OM TE
BEGIN. VRYF DEURENTYD SY HANDE TEEN MEKAAR WANT HY IS ONGEMAKLIK) Haai,
haai julle ouens. Eks nie eintlik die tipe ou wat speeches en dinge gee nie. Maar
die anties hier by julle het mooi gevra en dis vir `n goeie cause. (LAG,
NOG EFFE SENUAGTIG) Anyway,
hulle het gevra ek moet julle my storie kom vertel. Dalk weet julle daarvan, as
julle die koerant lees en so, maar ek sal maar voor begin vir die wat nie weet
nie. (STOP
`N OOMBLIK, TREK SY BAADJIE UIT. NOU MEER SELFVERTROUE) Okay,
so hier was ek, in hierdie einste weeshuis. Nes julle. En nes julle - kom ons
wees nou maar straight - weggegooi deur my mense. Maar whatever, ek was beter
af hier. Ek was nie stupid nie, het standerd agt gemaak en als. Toe gaan leer
vir mechanic, maar dit het nie gewerk nie. Ek het bietjie wel, te veel op die
job gedrink. (BEDUIE
MET SY HAND ASOF DIT `N BOTTEL IS) Toe
fire hulle my. Hulle doen dit as mens te veel drink terwyl jy eintlik gearboxes
moet change. Want dan change jy dinge bietjie verkeerd. Ek't een antie se kar
helemal opgeneuk. Ek moes pay vir die skade en toe my goed vat en loop. (RAAK
MOEG VIR STAAN EN GAAN SIT OP DIE STOEL, RUGLEUNING NA VOOR) Ek't
niks gehad om te doen nie en ek en paar tjomme het so oral rond gebly. Baie van
die tyd was ons maar lekker op `n trip. (DINK
`N OOMBLIK NA, KYK NA DIE GEHOOR, WYS `N WAARSKUWENDE VINGER) Julle
laaities moet wegbly van drugs, hoor? Daai goed is sleg vir jou. Ek't ook gesteel
en so. Later maar gebedel. Maar elke mens kry mos maar sy turning point. Een dag
klop ek aan `n voordeur
(VOER
NOU DIE BEWEGINGS UIT SOOS HY VERTEL, bv KLOP AAN DENKBEELDIGE DEUR)
en
`n anner snotneus outjie maak oop. Hy sê "Yes?" Ek sê
"Hoezit laaitie het jy nie geld of iets vir `n honger ou nie?" Hy
sê "Gaan jy drank koop?" Ek dog toe hy`s een van daais. Die
holy's. Ek sê toe "Nee, promise." En daai laaitie sê
vir my "Sorrie, ek gee net geld vir drank." En hy lag en klap die
deur toe. Dink dis moerse snaaks. Toe dag ek: "Jislaaik, Johnny as `n laaitie
al met jou joke dan flippen weet jy dis nou verby." (STAAN WEER
OP EN BEGIN OOR VERHOOG LOOP. HY VERTEL NOU LEKKER) So
toe kry ek `n job. As karwag. Niks grênd nie, maar darem. Ek het altyd as
die mense geld gegee gesê: "Dankie, mevrou, die Here seën jou."
Mense laaik dit om te hoor hulle is ge-bless. Ander kere het ek gevra dat as hulle
bid, moet hulle bid vir Johnnie vir beter werk. Hulle prayers moes gehelp het
want ek was nogal `n goeie watch en na `n jaar is ek ge-upgrade tot mall security.
Baie nagskof. Paar maande so gewerk, die lewe was fine en ek was happy. Wou niks
meer hê nie. Dis nogal `n job met responsibility, hoor. Die mense se lewens
is in jou hande. Hulle trust jou. (STAP
OP EN AF ASOF HY IN DIE SENTRUM IS, HOU `N DENKBEELDIGE GEWEER IN SY BELT VAS) Anyway,
so een aand was ek besig om te patrol in die mall. Dit was laat, so twee uur die
oggend. Toe ek om die hoek by die apteek kom, sien ek ouens wat bietjie scaly
lyk daar by die bank se kant. Ek staan toe so dat hulle my nie sien nie en check
dinge uit. (BEWEEG
AGTER DENKBEELDIGE VOORWERP IN EN LOER AGTER DIT UIT) Ek
sien toe dinge is nie lekker nie: hierdie ouens is op `n mission. En dit lyk nie
goed nie. Hulle gooi heeltyd vir mekaar sulke signals en so. Ek move oor na die
ander kant
(BEWEEG
OOR DIE VERHOOG, DENKBEELDIGE GEWEER TEEN SY BORS) Ek
dog toe, for sure sal ek hulle kan handle. Maar ek bel toe maar die polisie, net
om veilig te wees, jy weet. Hulle kom toe en hel, ek was reg, hulle wou die bank
rob. Die polisie het al glo `n ruk hierdie ouens ge-suspect. Hulle het nooit die
kans gehad om hulle vas te trek nie. Darie aand was hulle caught red-handed, soos
die Engelsman sou sê. (ONTHOU
SKIELIK WEER VAN DIE GEHOOR, DRAAI NA HULLE) En
julle laaities moet nou onthou dis gevaarlike criminals die, né? Hulle
was al in die bank toe ons hulle betrap. Ek het die deur bewaak om seker te maak
nemand kan weghol nie. So, ek het `n key role gespeel. (STAAN
TROTS REGOP, HAK SY DUIME BY SY SAKKE IN) Van
daar af was ek seker wat jy kan noem `n local celebrity. The talk of the town.
Ek't `n sertifikaat van dankbaarheid by die SAPD gekry en alles. Die koerant het
selfs my foto kom vat en `n berig geskryf: (TREK
INGENOME `N DENKBEELDIGE LYN IN DIE LUG OM DIE OPSKRIF VOOR TE STEL) "Wag
se flink optrede fnuik boewe." (GAAN
STAAN VOOR OP VERHOOG, PRAAT ERNSTIG MET GEHOOR) Maar
hoor nou, ten spyte van dit als is ek nog die selfde ou. Fame het my nie verander
nie. Maar dit moet net vir julle laaities wys jou circumstances bepaal nie wat
jy gaan wees nie. Jy kan beter wees as dit. Ek was daar
(WYS
NA HULLE) En
nou's ek hier. (WYS
NA HOMSELF, DIE VERHOOG VERDOF BEHALWE VIR HOM, NIE `N BESONDERS INDRUKWEKKENDE
FIGUUR NIE, WAT IN DIE LIG STAAN)
`n
Urban hero. Kopiereg:
Daniëlla du Plooy
|