|
Die
wenspan se enigste ondersteuner
(...) Dui 'n pouse ("spreekbeurt") aan.
(Begin
agter blok praat, loop geleidelik om.) So daar sit ek, alleen verlede
Saterdagmiddag. Stokflippensiel alleen! Ek het gedink ALMAL gaan
daar wees. Klubrugby is nie klein nie, hoor! Die mense ruk vinnig
hand uit. Ek dink toe by myself, vir SEKER gaan ek nie alleen daar
opdaag nie. Ek meen, laas jaar het ons die cup gevat, en ek glo
mos in my span! Dis hoogverraad as jy jou trui vir 'n ander verruil!
(...)
Wat? Ek sal NOOIT in my LEWE 'n Poublou trui dra nie!
(...)
Verlede Saterdag in die Spar?
(...)
Moes iemand anders gewees het! Nie ekke nie. Nooit nie, ek sê.
In elk geval, daar sit ek toe, Strelitzia en man-alleen, teen maklik
150 Draadkar ondersteuners. Bekommer ek my? Nooit, nie, nie ek nie.
Nee wat.
(Sit op blok.)
Woes braaf, neem ek toe my plek op die Oos-Pawiljoen van Boland-Park
in. Ek kry net harige kyke van die opponerende skare, maar ek worry
mos nie. Ons weet wie is top of the log. Ons weet ook wie bly daar!
(...)
Ek's altyd vol vertroue. Wat noem hulle dit? BMT - "Big Match
Temperament". Ons Strelitzias het dit. Elke keer.
Maar so is dit die afskop, en 'n vrotte van hul kant af. Ons vleuel,
Blits Bester, raap die bal op beter as 'n netbalspeler, en hy flous
helfte van die opponerende voorspelers met 'n giftige systappie.
Die nommer veertien vleuel van die Draadkarre was wakkerder as wat
ou Blits verwag het, en die vleuel tackle Blits dat hy hard hik.
Gelukkig sien die ref hoe die vleueltjie Blits vuiste voer en hy
ken darem 'n strafskop toe. Ons losskakel het vir vier jaar na skool
klubrugby in Namibië gaan speel en sou saam Wêreldbeker
toe gegaan het in 2007, maar hy het sy enkel buite 'n bar na die
klubrugby finals daai selfde jaar lelik geswik.
(...)
Nee man, hy is 'n ordentlike ou. Designated driver tipe. Ieder geval,
hy sit die bal deur die pale sonder om twee keer te mik of sy hande
te vryf, terwyl die Draadkar ondersteuners hom en sy tokse uitjou.
(Pouseer, kyk of hy sy geselskap beïndruk het.)
Dié knaap het talent. Die keurders is net almal blind, want
vet alleen weet hoekom hy nie twee kontrakte maandeliks kry nie!
Na hierdie strafskoppie was die Draadkarre al klaar bietjie omgekrap,
maar ek is nie geworry nie. Ek weet hoe my span speel en hulle gebruik
meer as net hul spierkrag. Die eerste losgemaal is egter morsig.
Die bal het verdwyn, maklik vir 'n halfminuut, en die ref klim in
met sy fluitjie. Om een of ander rede het die bal gebars (onderlangs),
met 'n fiets speek gesteek as jy my vra, en die spel word tydelik
gestaak. Ons agtsteman en kaptein, Chris Venter, appelleer en word
voor hy 'n dooie woord sê weggewys. Die manne lyk omgekrap
en die Draadkarre lyk net plein moeg. Die spel word weer begin met
'n skrum en dis hier waar die Draadkar ondersteuners onsinnighede
begin kwyt raak het. Die Draadkarre stoot ons bietjie terug, maar
ons skrum hou.
Skielik
skree ons loskop dat mý ore begin sing en die skrum swaai
in die guns van die Draadkarre. Die bal is uit. Hy loop deur die
skrumskakel, na die binne senter, na die vleuel: moeilikheid. Dis
dieselfde vuil nommer veertien wat nou-nou Blits so benadeel het
en daai man is vinnig. So vinnig dat hy ons vleuel laat lyk of hy
draf! Die Draadkar ondersteuners begin sommer al klaar feesvier.
Ek haal my hoed af. (Staan op, haal hoed af, loop na die voorverhoog.)
Hierdie tipe ding gebeur nie al dag nie. Nes ek my hoed teen my
bors vasklem, sweef Blits Bester soos 'n arend en duik die veertien
by die kantlyn uit, net voor die vyf meter merk. (Beduie asof hy
Blits is.) Blits staan op, maak sy kraag reg en gee die hele Draadkar
span 'n lekker kyk terwyl hy liggies terug na sy posisie aan die
ander kant van die veld draf.
(...)
Dit was beter as ou Danie se tackle teen Engeland in die World Cup
Final, belowe! Soos wat Suid-Afrika verligting tóé
gevoel het, so het ek gevoel. Die lynstaan gaan na ons kant toe,
en ons heelagter lanseer die bal 'n goeie 60 meter veld af. 'n Netjiese
hoppie uit verseker ons ingooi by die lynstaan en vol vertroue dat
hier 'n drie oppad is, begin ek die pad snoepwinkel toe vat. (Stap
na die ander kant van die verhoog.)
Ek
kyk die wedstryd so veldlangs op pad daarna en ek sien dat die Draadkarre
meer rond lyk, hoe nader ek aan hulle beweeg. Toe ek my worsbroodjie
klaar bestel het, sien ek daar het nou wel nie punte gekom nie,
maar dis halftyd. Ek maak my worsbroodjie klaar en oppad terug na
my sitplek toe sien ek daar het tien Draadkar ondersteuners die
sitplekke rondom myne ingeneem. Ek ruik toe al moeilikheid kom.
Hoe
het hulle gelyk? (Beweeg na middel van verhoog, beduie.)
Wel, oor die algemeen lyk hulle maar lelik. Lekker olierige hare,
nie van die Brille Creme nie, en snorre wat verby hul dimpels gegroei
het. Hulle snorre doen eintlik die praatwerk. Die gemiddelde Draadkar
ondersteuner besit ook net twee broeke: 'n Denim en 'n PT-broek.
Hul hemde is óf die van politieke partye waarvan nie ek of
jy al gehoor het nie, óf uitgewasde knopieshemde, oopgeknoop
om tatoeëermerke of staalwol ten toon te stel.
Ek wou toe maar gaan kyk of enige mede ondersteuners al opgedaag
het.
(...)
(Verontwaardig.) Nee, ek was nie bang nie! Ek wou... Koos van Zyl
het my vroeër die week gebel om te hoor of ek die wedstryd
gaan kyk, toe neem ek aan hy het die tye verkeerd gekry. Jinne!
Bang. Tog! Toe ek niemand in die parkeerterrein sien nie, toe gaan
kry ek vir my nog 'n worsbroodjie - jy weet mos hoe is daardie worsbrode.
Die eerste een is net 'n lusmaker! Toe ek terug by die pawiljoen
kom, het die son bietjie gedraai, en ek gaan sit toe bietjie hoër
op die pawiljoen.
(...)
Ja, hulle het steeds daar gesit, maar dis hulle keuse om in die
son te sit! Ek moet maar begin kyk na my vel, jy weet. Ek wil nie
oor vyf jaar soos 'n leerhandsak lyk nie. Met die begin was dit
egter 'n ander Draadkar span wat uit die kleedkamer gekom het, Ek
kon hulle skaars herken! Daar was nuwe geesdrif onder die Draadkar
ondersteuners, en dit was nie omdat die kroeg halftyd oopgemaak
het nie. Maar die Strelitzias worry nie, want ons speel nie die
man nie, ons speel die span! Die afskop van die Strelitzias was
strategies perfek, maar die slotte van die Draadkarre was ewe skielik
langer as ons s'n. Ons flanke was darem Springbok kwaliteit, so
my kommer was nie te lank van duur nie. Toe ons ses flank egter
met die bal opstaan en deur 'n Draadkar platgetrek word, begin ek
wonder. Iets was nie pluis nie. Ons slotte staan op, een met 'n
gebreekte arm, en die ander met 'n hinkepink soos 'n afbeen volstruis.
Die Draadkar ondersteuners is op hul voete, en drie van hulle mik-mik
na my kant toe. Dis nou wat my bloed begin kook het, want Strelitzias
en hul ondersteuners is manne van eer. Ons staan nie vir onreg,
of vuilspel nie.
(...)
Ek is ernstig! As 'n Strelitzia vuil speel, kry hy dit in die kleedkamer,
en dan moet hy maar probeer sit op die bankie, as jy volg wat ek
sê.
(...)
Braaiboud, slimmes. Bakoond braaiboud. Daai drie Draadkarre wat
so na my kant toe gemik het, was nou oppad na my toe, en voor ek
my kon kry, sit hulle langs my. Ek het nie 'n woord vir hulle te
sê gehad nie, maar hulle was soos radio-omroepers! 'n Bye-korf!
Ek was nou goed omgekrap, maar ek het besef ek is deeglik in die
moeilikheid. Toe die Strelitzias vir 'n slag die skrum wen, maak
ek keel skoon, en klap hande ter ondersteuning van die voorloper
span. My handeklappery word egter verdoof deur die geskreeu van
die nuwe "vriende" rondom my. Ek begin wonder of ek nie
moet skuif nie, aangesien hierdie situasie op 'n slegter een afstuur.
Ek weeg my opsies teen mekaar op, want hierdie een lyk by die oomblik
meer gevaarlik.
Uit
die bloute kom daar 'n Draadkar ondersteuner na my en gee my een
van die grootste lemoene wat ek in my lewe al gewaar het. Ek kon
toe nou nie vir die vyf vente in die gesig vat nie en begin toe
maar skil. Laggend kry ek 'n paar klappe op die rug. Ek wonder al
hoe meer hoe hierdie scenario gaan uitdraai. Dis die vreemdste ding
- al wat ek wel kan onthou is dat die telling gelykop geëindig
het en dat ons daarna toe nogal lekker saam gebraai het by die plaaslike
hoërskool se lapa.
(Lang pouse volg.)
(...)
Was jy...? Was jy daar? Was jy een van... hulle? Was jy... ag nee
man!
Kopiereg: Jacques
Cilliers en Joanie
Liversage
|