2002-12-01

jongklomp
kollig


 

Kollig ... gedramatiseerde prosa
Vat dit of vat dit
Pieter Jordaan

Gedramatiseerde prosa: Graad 10-12
Karakters:
Karel oor sy agtiende verjaarsdag

Vriende kan jy kies. Maar familie kry jy net so. Soos 'n geskenk wat jou liewe ouma vir jou op Kersfees sal gee tussen al jou ander familielede, en as jy dit oopmaak is dit skryfpapier. En dan moet jy dit maar vat. Nee, ek stry nie. Dit kom nie diep vanuit haar hart uit nie. Beslis nie baie diep uit haar beursie nie. Maar kom nou - wie wil nou skryfpapier vir 'n Kersgeskenk kry? Mooi gewone, wit papier miskien. Maar as jy agtien is, is 'n seilskippie daarop iets wat jy eerder wil wegsteek as gebruik.
Nou so is familie mos. Jy kry familie, jy het familie, jy hou familie vir ewig, jy bly deel van jou familie tot in lente van dae. Sommige van ons se familie is heel gangbaar en sommiges s'n selfs oraait. Myne was ook, tot op my agtiende verjaarsdag.

"Christina, al wat ek sê is: wees voorbereid," pleit ek by my nuwe nooi. Ma het haar genooi om my verjaardagete mee te maak.
"Hoe erg kan dit wees? Hou op om so 'n bohaai to maak oor jou familie. Ek het ook familie en ek weet hoe dit gaan. Jy skop nou net 'n bohaai op oor niks," skerts sy terug asof sy 'n ander kêrel het. "En buitendien, is dit nie tyd dat jy nou meer volwasse begin optree nie. Jy is mos nou agtien, en as ek en jy wil ernstig raak sal ek hulle moet leer ken."
"Ek is jammer my bokkie, en ek sal nie 'n woord verder daaroor sê nie, maar al wat ek sê is dat hulle nie enige familie is nie … en ... en ek is net bang dat jy dalk nie meer lief vir my sal wees as jy hulle eers leer ken nie. Jammer, kom ons los dit net. Maar onthou net …"
Ek sluk hard toe sy my dubbel en dwars in die rede val: "Ag toe nou man, Karel! Hulle is grootmense. Ons is grootmense. Wat kan so erg wees?" Christina stap haastig uit my kamer om die aankomende familielede te gaan ontvang.
Ek sit my hande vir 'n oomblik voor my oë en onthou net hoe my vriend Blokkies vir my eendag gesê het dat die dag wanneer jy agtien word "life never weer die same" sal wees nie. En hierdie onheilspellende situasie sit vir my genoeg betekenis in Blokkies se woorde om sommer byvoorbaat in trane uit te bars.

"Karoolsie!" kom die verpletterende skril geskrou vanuit die voorportaal. Die oomblik van waarheid het aangebreek. Dit kon nie 'n erger eerste gas wees as Tannie Trudie en haar drie dogters nie. My broer sê Tannie Trudie weeg meer as 'n honderd-en-twintig kilogram. En sy is definitief beter gebou as die mooiste van haar drie dogters.
Soos blits plak ek my glimlag aan en wikkel by my kamerdeur uit. Ten aanskoue van my nuwe liefde omhels Tannie Trudie my.
"Tannie Trudie!! Anna ! En Hanna! Ek is so bly om jou ook te sien! En jy ook nog, Sanna!"
"Dis Ester," sê die bonkige dogter.
"Ester … reg," stotter ek voort.
Al vier vroumense gee my 'n hewige kus en kom klou aan my soos 'n klomp moeder-koalabere om vir 'n foto te poseer!
Alles te aanskoue van Christina.

Die kamera het skaars geflits of ek hoor die voordeurklokkie lui. 'n Bulderende gelag laat almal hul ore beskerm. My pa se oudste broer, Klaas. 'n Man wie se hande al vergelyk is met twee massiewe tropiese piesangtrosse, en 'n man met 'n kerrie-baard wat vir menige voëls 'n vesting sou kon bied. Oom Klaas se voetstappe vibreer oor ons teëls op pad na die kombuis waarheen ons intussen verskuif het om van ouma se nuwe resep - 'n olyf-blamaansj - te proe. Ek draai om om Oom Klaas tegemoet te kom. Nadat sy maag die kombuis binnegekom het … kom hy met 'n breë glimlag binne.
"Waar is daardie blouwildebees van 'n jakkals en 'n wildevy-en-sonneblom-pes van Oom Klaas?" bulder hy weer oorverdowend en steek die een piesangtros na my toe uit.
"Dag Oom, nee goed dankie, Oom," sê ek plegtig.
"Maggies," brul hy voort. "Wat voer julle die kind? Toe ek veertien geword het, was ek ten minste twee keer sy grootte!"
Ek lag onderlangs maar weier om hom te herinner dat ek eintlik agtien word. Ek sou in elk geval nie nog 'n geluid kon uiter nie, want sy handdruk was besig om my oë laat traan en my sonder asem te laat staan.
Ten aanskoue van Christina.

Die gaste begin aan te stroom. As my ma sê die familie gaan kom kuier, dan gaan die hele familie kom kuier.
Ouma Bessie was al met Christina aan die gesels voor ek kon keer. "Haai my liefie, maar het jy al gehoor hoe mooi Katoolsie kan sing? Tog so mooi veral daai 'Al was ek nie daar nie ek weet dit is so'-liedjie. Katoolsie … ag, kom sing gou-gou hier vir ouma ietsie!"
Maar Oupa Sybrand red die dag … tot 'n mate. "Veels geluk, ou Karolus man. Maar sê my, wat is daardie in jou hare?"
"Dis jel, Oupa - vir my hare."
"Jel? Jou ou rakker! Ek dag dis die dames wat deesdae die brilcream dra."

So het dit aangegaan die hele dag lank. Die gastelys was nog lank. Oom Sampie en tannie Smartie van Henneman en Oom Bles en tannie Bok van Sabie. Hul seuns het hul .22-gewere gebring en my konyne laat hardloop vir hul lewe in 'n twee by twee meter hok. 'n Klomp name sal ek met opset nie onthou nie. Maar ek moet net noem dat Jason en Ronald ook daar was. Hand aan hand.

Na die hele gegroetery en alles was dit tyd om die koek te sny. Dan sou alles oor en verby wees. Ek was seker dat die "Happy Birthday"-liedjie en 'n verjaardagkoek darem nie vir Christina vreemd sou wees nie. Bygesê … hulle het nie net "Happy Birthday" gesing nie, maar ook elke ander liedjie wat as tradisioneel Afrikaans gesien word en niks later dateer as uit die 19de eeu nie. Van tranetrekkers tot boere-opskop-makietie en enigiets wat 'n man se hart begeer … of liewer, 'n seun se hart beseer.

Christina het saamgespeel en goed haar goeie voetjie voorgesit, en sy het heelpad gelyk of sy dit geniet het.

Ek het my geskenke gekry en my koek gesny en ek was net van plan om Christina se hand te gryp sodat ons my verjaarsdag op ons eie manier kan gaan vier, toe my ma skielik almal stilmaak en vir my vra om net 'n oomblik op die klavier se stoeltjie te gaan staan. Ek wil eers protesteer, maar Christina pen haar lang naels in my ribbekas in. Ek neem aan dit beteken: "Gaan tog net na die klavierstoel toe!"

Ek klim toe maar op die stoel en voel half verleë dat ek soos 'n koninklike behandel word. En juis toe dink ek aan hoe my vriend Blokkies eendag vir my gesê het: "Ja Karel, onder die blindes is eenoog koning." My gedagtes kom weer terug na die werklikheid toe my pa opstaan met 'n papier in sy hand.
Dis hier waar ek nie meer na Christina kon kyk nie.

"Karolus Engelbertus Titus Claasen,
"Op 18 is 'n man nie mondig nie maar hy is bekkig -
"Bekkig genoeg vir 'n bestuurderslisensie,
"Bekkig genoeg om jou bek te rek wanneer daar gestem word,
"Bekkig genoeg om 'n meisie skelmpies 'n soen te gee,
"Bekkig genoeg om jou mening in die matriekeksamen te lug,
"Bekkig genoeg om 'n "bek-up" vir jou pa te wees as hy weg van die huis af is,
"So bekkig dat jy nou weet wat verantwoordelikhede is en hoe om dit te dra.
"Veels geluk ou seun, met liefde van die hele familie."
My pa gee een tree vorentoe en oorhandig aan my 'n bossie sleutels.
"In die motorhuis - sit net jou veiligheidsgordel aan, jong!" sê hy met 'n glimlag.

Vir 'n oomblik staan ek stomgeslaan. Toe gryp ek Christina aan haar hand en hardloop buite toe.
Voor ek die motorhuis se deur oopmaak, bars ek en Christina uit van die lag.
"Bekkig genoeg om 'n meisie te soen!" roep sy laggend, en ek lag nie meer nie.
"Maar wag tot jy my familie ontmoet!" sê sy toe ons albei weer ons asem terugkry.
"Kan kwalik erger as myne wees."
"Wel, sal jou pa ons toelaat om gou 'n besoek af te lê aan die tronk?" vra sy met 'n glimlag.
"Ek sien," sê ek en ons lig die motorhuis se deur op.


Kopiereg: Pieter Jordaan

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005