2010-11

jongklomp
kollig


 

Kollig ... redenaars
Skryf vir my 'n toespraak
Christien Neser

Ma, skryf vir my ‘n toespraak, Ma?  

Kan ek Redenaars doen, Ma?

Ons moet Maandag in die klas praat, Ma. Sal Ma my help?

Drie vrae wat ‘n ma gillend die strate in kan jaag!  Met die ATKV Redenaarskompetisie op hande, is baie ouers hande in die hare óf hande in die sakke: dis of  ses ure en sestien opgefrommelde papiere wat op jou wag, óf die makliker, duurder uitweg om ‘n toespraak te koop. Daar is talle onderwyseresse en skrywers wat hierdie diens lewer. Meer nog, daar is ‘n hele dosyn of meer webwerwe waar julle kan aanklop vir hulp. Byvoorbeeld,
www.redenaars.co.za
redenaars@gmail.com (Raakpraat Redenaars)
carolina@kansvatter.co.za (Kansvatter Redenaars)
Die webwerf van Radikale Redenaars kan ook besoek word.

Inteendeel: gaan op enige soekenjin en tik in: redenaars + toesprake, en jy is in besigheid. Vir die ouer met ‘n paar honderd rand in die agtersak, is dit ‘n maklike uitweg.

Maar wat daarvan as jy beginselbesware het of dalk finansieel nie vir al vier jou bloedjies kan toesprake koop nie?
Dan lê die sestien opgefrommelde papiere vir jou voor.

Hier is raad:

  • Jy is nie alleen nie. Kry ‘n vriendin of drie bymekaar, wat net soos jy wroeg. Gaan sit om ‘n tafel, met pen en papier en begin praat. En beter nog, kry die kinders se insette. Laat hulle saam met julle idees rondgooi. Moenie hulle kreatiwiteit onderskat nie! En uiteindelik gaan dit daarom dat die kind self ‘n opinie oor ‘n saak moet hê en dit self moet kan verdedig.
  • Analiseer die temas wat aan julle gegee is. Vanjaar se tema’s is byvoorbeeld Speelgoed/Kos/Familie vir die gr 1-3 fase. Hoe ouer die kinders, hoe meer insette moet hulle help lewer. Dis soms ondraaglik om alleen met ‘n toespraak te wroeg: maar sit ‘n paar ma’s en ‘n paar pelle om ‘n tafel, en dit raak vet pret.
  • Dis nou waar drie koppe beter as een is: hou ‘n breinstorm. Gooi idees op die tafel oor byvoorbeeld “Speelgoed.”  Gesels eers oor die kinders se gunsteling speelgoed, dan oor wat hulle begeer, oor ouma en oupa se speelgoed, die prys van speelgoed, elektroniese speelgoed, waar speel ek die lekkerste, waarom speel ons, waarmee speel ma en pa... Gooi die net wyd! Waarmee speel aliens?  Watter diere was die lekkerste speelgoed op die ark?
  • Begin nou ‘n argument formuleer. Onthou: in Redenaars gaan dit in die eerste plek oor die beredenering van ‘n stelling. Die argument moet ‘n kort en kragtige sin wees, wat in drie tot vier punte verdedig moet word.
  • Kom ons ruk ‘n paar argumente uit die hoed: Meisies se speelgoed is koeler as seuns s’n; Barbiepoppe is uit die Bose; Kinders speel te min; Van sit en speel kom niks gedaan; Omdat ons nie speel nie, kan ons nie wiskunde doen nie; al verskil tussen pappas en seuns is die prys van hulle speelgoed; boomklim en kleilat is weg saam met die ossewa; Tegnospeletjies maak van my ‘n IT-spesialis, “Slimfoon-...dom kind”. Hoe duurder die speelding, hoe korter die genot. Speelgoed vernietig ons planeet; Sofapokkels speel te min; Speel-speel raak ek slimmer; Lego is my paspoort na ‘n graad in ingenieurswese.; Popspeel gaan van my die beste mamma maak....
  • Sodra julle ‘n argument geformuleer het, is julle koppe deur!
  • Dink nou aan ‘n interessante manier om die toespraak in te lui. ‘n Grappie of rympie werk altyd goed, solank dit kort en toepaslik is. Gaan blaai deur die volgende rympieboeke vir idees:

Wurms met Tamatiesous – Jaco Jacobs; Die teddiebeerbus: Jaco Jacobs, Speels Verse, saamgestel deur Daniel Hugo; Onder die Reënboog,  saamgestel deur NJ Snyman; Mallemeueleman, deur Philip de Vos; Nuwe Kinderverseboek saamgestel deur Riana Scheepers en Suzette Kotze-Myburgh; Kleuterverseboek deur DJ Opperman; AG Visser se gediggies... die lys is lank. Gaan sit in die plaaslike biblioteek of boekwinkel en blaai deur kinder verseboeke. Jou oog vang dalk net ‘n gediggie wat perfek sal werk.  Probeer grappe soek uit: Lekker lawwe Lagboek of Grappe van A-Z deur Maritha Snyman (LAPA)

  • Jy kan jou toespraak ook met ‘n grappige of interessante gebeurtenis uit jul eie huis begin: soos bv “Die dag toe my oupa met die vark aan ‘n leiband  by die huis kom, het ek geleer hoe goed my ouma kan Frans praat. Ja, daar is baie maniere om ons  taal kreatief  te gebruik!”
  • Sodra jy nou ‘n inleiding het, is jy lekker aan die gang. Dan moet jy nog net ‘n paar standpunte kry om jou argument te verdedig en jy is by die wenpaal.
  • Die standpunte moet gestaaf word met verwysings, waar nodig. Kyk gerus op die ATKV Redenaars se webwerf, www.atkv.org., hoe die verwysings gedoen moet word. Vir heel jong kinders kan ma en pa, oom en tannie, juffrou of skoolhoof, gerus maar as bronne aangehaal word, soos bv:” My oupa sê, ‘n man sonder ‘n knipmes, is soos sop sonder sout.” “My ouma sê dat “Te” voor ‘n woord nooit ‘n goeie ding is nie, buiten in “te perd” .”
  • Ouer kinders se bronverwysing moet toepaslik en geloofwaardig en volledig wees.
    • BV: “........”, sê Piet Verdriet op die voorblad van Beeld, 22 September 2012
    • . “.....” raak Lance Armstrong op 17 Februarie 2013 kwyt, in sy onderhoud met Oprah Winfrey op die kanaal Entertainment.
    • So sê minster Justic Baloyi aan Justice Kennerly op 21 Maart 2012 op die rsg- program Spektrum.
    • Dr William Spock, bekende opvoedkundige skryf in sy boek, Taming Toddlers, op p 45, dat vloermoere normaal is.
    • Anet Schoeman skryf ‘n artikel getitel “Basta met Boelies”, in die rooi rose van 21 November 2012, dat kuberboelies ‘n groot probleem is.
  • Die slot moet weer by die inleiding aanpas. Probeer die toespraak as ‘n sirkel sien: begin en eindpunt moet mekaar aanvul. Jy kan selfs in jou slotparagraaf jou drie punte weer noem. BV  “Dames en here, julle moet saamstem: seuns se speelgoed is gevaarlik, vervelig en verbeeldingloos  Dis tyd dat seuns begin popspeel!”

Ter illlustrasie, ‘n paar toesprake se inleidings, net om julle gedagtes te prikkel.

 

lyn

Tema: TAAL

1.
“Hoezit my blaar?” tune die wolf vir Rooikappie.
“Zik, my pappie,” tune sy hom terug.
“En waan’toe rol jy?” Vra Wolf
“Ek gaan my bewekoppie check. Sy’s lippe teen die klippe,” se Rooikappie.

2.
Voorsitter, dames en here,
Hierdie storie is in zeftaal vertel. Vir baie mense is zeftaal ‘n tameletjie.
.
Is zeftaal koel of is dit nie? Laat zef ons taal vrot, of gee dit Afrikaans ‘n hupstoot?  Dis nou ‘n taai tameletjie dié. As ek hom so kou en kou, dan word hy al hoe lekkerder. Mmmm! Ek glo dat zeftaal ons taal smaak gee.

lyn

Tema: Speelgoed

Speelgoed is die beste medisyne vir ‘n dikbek! Daarvan kan ek getuig.
Voorsitter en maats
Dit gee nie om hóé oud ons word nie, speel bly lekker. Maar speel is nie net lekker nie, dis ook goed vir ons gesondheid. Dokters sê dat ons breine hormone  afskei as ons gelukkig is. Dis ‘n mengsel van dopamien en serotonien, sê Dr Piet Oosthuizen van die Tygerberg hospitaal,  in die Sarie van Februarie 2013. As ons speel, is ons propvol goedvoel-hormone. Dit is waarom almal in ons huis speel. Ons speelgoed plak ‘n glimlag op ons gesigte.

lyn

Tema: talente

Talente staan soms in ons pad na sukses.

Almal hou van talentvolle mense, nie waar nie? Maar ek wil vandag ‘n klip in die bos gooi, ‘n stok in die wiel steek en die leeu se snorbaard trek.  Talente is soms juis struikelblokke op ons pad na sukses. Klink dit na ’n paradoks? Wel, kom stap gerus saam met my op die snaakse, klipperige pad van talente. Dalk oortuig ek u: talente staan soms in die pad van sukses.

lyn

Tema: Sleutel

Die sleutel tot sukses? Dis eenvoudig. Jou sleutel is daardie een wat jou by die deur van die lewe laat inkom het.  Dié een wat jou uit die donkerte van vrugwater na die lig toe genooi het. Skielik was jy daar, pienk en skreeuend! Gereed om die volgende sleutel op jou skattejag van die lewe te ontvang. Wie is daardie sleutel?  Dis jou ma. Inderdaad! My ma is die sleutel tot my lewe!

lyn

Tema: Taal

O die blikkitaar en die uitkapwyn
Die rooi kalotjie en die tierlantyn
Vanaand se aand
As die misvuur brand
Trap ek al my worries op die misvloer fyn!
Heita! Maar hoe lekker klink Afrikaans as ‘n kapenaar hom gooi!  Mens wil sommer saam met Vincent vander Westhuizen op sy Oujaarsrympie begin dans. Kan so ‘n lekker taal dan doodgaan?  Nie as dit van my afhang nie. Dames en here, ontmoet een van die kragtigste wapens om die voortbestaan van ons taal te verseker: ek, moi en myself. ‘n Doodgewone graad agt snotkop. Noem my gerus agent 008. (blaas op sy vinger soos James Bond) : In diens van haar majesteit, Afrikaans. Want vriende, wette kan geen taal laat floreer nie.

lyn

Tema: Toeskouers

Die skone Helena van Troje
As meisiekind was sy ‘n mooie –
Maar toe, met die jare
Kom nare spatare
Plus plooie... en nou’s sy ‘n dooie.

Voorsitter.
Die lewe is kort. Dis wat hierdie limeriek van Philip de Vos eintlik sê. Van Helena van Troje se skoonheid sou ons vandag niks geweet het, as dit nie vir toeskouers was nie. Die getuies van haar lewe het haar legende voortgedra. En ek en jy dan? Wat van ons klein lewetjies? Het ons ook getuies? Gewis en seker! My toeskouers speel 'n lewensbelangrike rol in die spel van my lewe.

lyn

Tema: Kommunikasie

“Noudat ek 16 is, weet ek dat Kersvader en die Paashaas en al die freaky feëtjies net so werklik soos my eie lewe is,” skryf Jackie Nagtegaal in Daar’s Vis in die Punch.

En net so voel ek toe ek op 16 Januarie 2013 my toespraakonderwerp  tuis aankondig.
“Tienerkommunikasie”, sê-vra my ma ongelowig, “dis nou vir jou ‘n paradoks.  Vertel my net hóé mens met ‘n graad 10 seun praat - dis makliker om jellie teen ‘n muur vas te spyker.”   My pa snork net en sê: “Tienerkommunikasie is ‘n oksimoron. Dis soos polisie intelligensie; of Afrika Demokrasie. Die twee terme kan doodeenvoudig nie langs mekaar staan nie.”
 Dit is presies my punt! Moenie ons forseer om te praat nie. Nee. Luister na ons stiltes. 'n Tiener kommunikeer hard en duidelik as sy stilbly.

Kopiereg behoort aan die skrywer: Christien Neser

Februarie 2013

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013