|
Die
volgende riglyne is opgestel na aanleiding van redenaarsrepliek.
Dit is handig vir Ma wat moet gaan sit en toespraak skryf of wat
later die klein redenaar moet afrig. Die kommentaar geld veral vir
die ATKV se redenaarskompetisie, maar is natuurlik ook toepaslik
op ander redenaarsgeleenthede.
SENIORS
Alles
wat vir die juniors geld,
is ook ter sprake vir die senior sprekers. Hier volg net addisionele
raad en inligting.
- Redenaarskompetisies is in die eerste plek daar om jou vaardigheid
in taal uit te beeld. Die gemak waarmee jy praat is amper
die belangrikste eienskap van 'n goeie toespraak. 'n Ontspanne
spreker laat die gehoor ook ontspan.
- Redenaarskompetisies is ook leergeleenthede - 'n deel
van jou opvoeding. Neem kennis van kommentaar en kritiek op
jou terugvoer van die beoordelaars. Dis al hoe mens leer!
- Daar is nou maar eenvoudig iets soos persoonlike smaak.
Selfs die mees gesoute beoordelaar soek 'n X FAKTOR by 'n spreker,
daardie IETS wat die spreker doen of sê, wat vir hom/haar
spesiaal is. Weet dus dat die wenner van die aand dalk nie almal
se persoonlike gunsteling is nie, maar dié van die beoordelaar.
Daar is algemeen aanvaarde kriteria, bv
o Houding
o Spraakkwaliteit - intonasie, duidelikheid, tempo, uitspraak
o Inhoud van toespraak - uiteensetting, oorspronklikheid, ens
o Entoesiasme en oortuiging
o Bewyse van navorsing/logika
o Gehoorkontak
o Hantering van humor/ hulpmiddels
- Aangesien die wenners van die aand na die ATKV-kompetisie deurdring,
moet die spreker ook onvoorbereid kan praat. Die top drie
sprekers gaan teruggeroep word vir 'n onvoorbereide toespraak.
Lees asb die nota's betreffende die Geleentheidstoespraak.
- Hulpmiddels: kaartjies - netjies, nie groter as A5
nie. Ander hulpmiddels moet effektief deel wees van die toespraak
en nooit die aandag aflei van die woord nie. Geen plakkate of
oudiovisuele hulpmiddels nie, asb!
- Verwysings: vir senior redenaars, moet daar 'n verwysing
vir elke paragraaf wees. Dieselfde bron kan natuurlik meer as
een keer in 'n toespraak gebruik word. Oppas vir internet verwysings!
Dit raak ongelooflik irriterend om na 'n rits verwysings te
luister wat almal begin met: "Ek lees op die internet op
die webblad www.pietskietdiekat.co.za" of wat ookal. Varieer
die manier waarop jy verwys, bv:
- Die stigter van Microsoft, Bill Gates, sê is sy boek
The Road Ahead, dat rekenaars nog in hul babaskoene staan.
- Microsoft se tuisblad bevat interessante statistiek rakende
internetgebruikers
- 'n Artikel deur Charles Malan op die Litnet webwerf van 19
Mei, beweer dat...
- Ek stem saam met die dramaturg, William Shakespeare wat destyds
geskryf het, "All the world's a stage..."
Sterkte aan julle een en almal!
|