|
Elke
aksie het 'n reaksie
TONEEL 1
Mia
sit op die tuinbankie en lees tydens pouse. Philip kom aangestap
met sy skooltas en rugbybal onder sy arm. Mia sit die leesboek neer
en Philip gaan sit langs haar.
Philip:
Môre, pop. (glimlag breed)
Mia: Môre, Philip. (glimlag skamerig en kyk skuins
af)
Philip: So, hoe was die redenaars gisteraand?
Mia: Dit het goed gegaan, dankie. Ek het... (Philip val
haar in die rede)
Philip: O! Weereens jammer dat ek dit nie kon maak nie. Jy
weet gisteraand se game was belangrik en after-all die laaste een
van die seisoen.
Mia: Ek verstaan. (verleë) Hoe het dit gegaan
met die rugbywedstryd?
Philip: Ag, jy weet mos. Niemand kan verby hierdie yster
kom nie. Ons het hulle getrap, 35-12.
Mia: Sjoe, ek het geweet julle sal wen. Wens ek kon julle
kom ondersteun het.
Philip: Ja, maar vir jou kom akademie mos eerste! (sarkasties)
Mia: (kyk verleë na hom) Ek is jamm... (Philip
val haar in die rede)
Philip:
Ek grap net met jou, pop. Maar dit is 'n jammerte dat jy my beste
drie van die seisoen gemis het. (staan op en beduie stap vir stap
sy drie wat hy gedruk het) Jy moes dit gesien het, JP het uit die
skram gevlieg en vir die beste vleuel gepass. Dit is nou ek. (sarkasties)
Ek het drie ouens van die opposisie geside-step, amper die een ou
afgeskryf en die wendrie onder die pale gaan druk.
Mia: Baie geluk. Ek is trots op jou. (glimlag vir Philip)
(Philip glimlag vir haar en soen haar op haar voorkop)
Philip: Hoe lyk jou vakansieplanne?
Mia: Ek het nog nie eintlik planne nie, hou maar my opsies
oop vir die drie weke wat voorlê. Hoekom vra jy?
Philip: Ek, JP en sy meisie gaan vir die eerste week Margate
toe. Ons het my ouers se vakansiehuis vir onsself. Het gedink jy
sal dalk wou saam kom?
Mia: Dankie vir die uitnodiging. Glo nie my ouers sal 'n
probleem hê nie, hulle gaan Engeland toe vir besigheid en
soos altyd is ek weer alleen by die huis.
Philip: Great! Almal slaap môre-aand oor by my huis,
dan ry ons Saterdagoggend.
Mia: Ek kan nie wag nie. Een vakansie sonder enige bekommernisse
en ek kan dit saam met jou geniet. (kyk vir Philip in sy oë
terwyl hy haar op haar hand soen)
(Die
ligte verdof en die liedjie van Taio Cruze: Break Your Heart begin
speel)
TONEEL
2
'n
Maand na die vakansie is verby. Philip sit op die tuinbankie tydens
2de pouse. Mia stap hartseer na Philip toe en konfronteer hom.
Philip:
(Sien vir Mia en staan op om weg te loop)
Mia: Nee, wag Philip. Ek moet met jou praat, dit is baie
belangrik.
Philip: Ek kan nie nou chat nie, ek is besig.
Mia: Soos die afgelope maand, nè? (ontsteld)
Philip: (vererg hom) Mia, kom oor dit! Wat gebeur
het die vakansie was lekker, maar dit is nou verby.
Mia: (Gaan sit op die tuinbankie en laat sak haar kop)
Dit is dalk verby, maar ek sit nou met die gevolge.
Philip: (ongeskik) Waarvan praat jy? (tel sy skooltas
op en loop)
Mia: (Spring op en skree ontsteld) Philip! Ek is swanger...
Philip: (Stop in sy spore, draai om en vra afgerammel)
Wat?! Hoe weet jy dit is my kind?
Mia: Jy was my eerste en enigste. (Sy haal 'n tissue uit
haar sak uit)
Philip: Hoe seker is jy, jy is swanger?
Mia: Ek is 'n week al oor my siklus en was gister toe by
die kliniek. Hulle het my getoets. (Kyk af na haar hande wat
vroetel met 'n tissue) Ek is swanger.
Philip: (Sug en vra moedeloos) Wat gaan jy doen?
Mia: (Kwaad en ontsteld met klem op die "ek")
Wat gaan ék doen? Nee, Philip! Wat gaan ons doen? Moet nie
vir een oomblik dink jy gaan my alleen los in hierdie situasie nie.
Philip: Ek is jammer...
Mia: Ja, ek ook. (Bly 'n rukkie stil) Ek is jammer
dat ek myself kon toelaat om vir jou mooi praatjies te val. (Sarkasties)
"Mia, jy is pragtig. Ek wil my lewe met jou deel. My liefde
aan jou bewys."
Philip: Mia, ek... (Mia val hom in die rede)
Mia: Moet nie eers daaraan dink om 'n aborsie voor te stel
nie. Ons gaan die baba hou. Ons kan dit maak werk... (Philip
val haar in die rede)
Philip: (Gryp Mia aan haar skouers en sê vererg)
Luister vir my! Jy was nie my eerste nie, al het ek so gesê.
Voor die vakansie op die rugbytoer het ek en die ouens gaan kuier.
Ek het dinge te ver gevat en saam 'n random meisie geslaap. (Bly
'n rukkie stil)
Ek was dronk en het nie geweet wat ek doen nie.
Mia: (praat vinnig) Dit maak nie saak nie, wat gebeur
het daardie aand is verby. Die probleem is nou!
Philip: (vererg) Mia, jy luister nie!
Mia: (begin huil)
Philip: (bewerige stem) Ek het my voor die vakansie
laat toets en die uitslae... (bly 'n rukkie stil en kyk af)
Ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie.
Mia: (ontsteld) Wat, Philip? Wat kan jy nie vir my
sê nie?
Philip: Ek is positief...
Mia: (kyk hom stip in sy oë) Positief?
Philip: (kyk af) Mia, ek het vigs...
(Skoolklok
lui)
(Ligte verdof en gordyne gaan toe)
Kopiereg: Chanette
Botha en Maretha Barnard
|