| Samespraak:
13+ KARAKTERS
Willie - Hy is 68 jaar oud en toon die seisoene van harde plaasboer wees
op sy gesig. Hy is al amper heeltemal bles en dra 'n bril. Hy is (vanweë
'n finansiële penarie) omgekrap en ongeduldig. Hy dra 'n khaki-kortbroek
en hemp, rugbykouse en velskoene. Ella
- Sy is omtrent haar man se ouderdom en, alhoewel sy goed versorg is, lyk sy ook
afgeleef. Sy dra haar grys hare in 'n netjiese bolla en dra baie nederige klere.
Hulle is nederige mense wat ook deur die dekor uitgebeeld word. STEL
Die leefarea van die egpaar. Baie nederig (amper armsalig) met slegs 'n tafel
en rusbank sigbaar. Die agtergrond bevat 'n muurrak met foto's , 'n groot staanhorlosie
en 'n ruit wat na buite kan oopmaak. Daar is 'n ou, vuil mat waarop die tafel
staan en 'n gehekelde lap oor die tafel. Op die tafel brand 'n kers (die plaashuis
is dof belig), lê papiere en skryfgoed asook 'n telraam. Op die rusbank
lê 'n koerant. EFFEKTE
Die geluid van die horlosie wat een uur slaan asook water wat in die slottoneel
teen die ruit afsypel, byklanke van donderweer en 'n blitsstraal. 
|
|
Dankbaar
Man
sit by die tafel en maak ernstig berekeninge. Sug-kort-kort hardop en vryf moedeloos
oor sy grys kop en verrimpelde gesig. Kry koud. Klok slaan een- uur. Hy skrik,
kyk op en ontspan dan weer. Gaan weer aan. Vrou kom in en hang 'n kombers om sy
skouers en sit koffie neer. VROU:
Hier is 'n bietjie koffie. Die suiker is ongelukkig op. MAN: Mmm.
VROU: (Gaan staan agter hom, vryf sy skouers) Kom slaap tog
ou man. Dis koud en laat en môre moet jy weer vroeg op wees. MAN:
Amper, Ella. Nie meer lank nie. Vrou loop uit vertrek, kom oomblik later
weer terug met stopwerk. Gaan sit op stoel en begin. VROU: (Na 'n
hele ruk) Lyk dinge al beter, Willie? MAN: Alles behalwe. Soos
ek bereken kan ons die plaas vir 'n maand, dalk twee nog onderhou. Tensy dit binnekort
begin reën. VROU: (Staan op en loop na venster. Maak dit oop
en steek kop buite uit. Trek terug, maak venster toe en draai na man.) Nie
vanaand nie, my man. Kan elke laaste ster sien. Ons moet maar net aanhou bid.
MAN: Ek's moeg gesmeek (Haal bril af, gooi dit vererg neer, vryf oor
oë en neem koffiebeker.) 'n Man kan net soveel keer op sy knieë
gaan voordat hy ander planne moet maak. VROU: A nee a, Willie! Jy kan
nie so praat nie! (Loop na tafel, gaan staan en begin papiere bymekaar maak.)
Ons het soveel om voor dankbaar te wees. MAN: (Snak verontwaardig.)
Soos wat? VROU: Soos die plaas. En die huis! MAN: Waarvan
ons beide binnekort gaan verloor, Ella! VROU: (Kalmer, paaiend.)
Ou Man; 'n bietjie droogte tref almal maar hard. MAN: 'n Bietjie droogte!
(Ontstoke.) Ek kan nie eers meer onthou wanneer laas daar 'n ou nattigheidjie
geval het nie! VROU: Bedaar, Willie..! MAN: (Staan op,
slaan koppie hard neer.) Bedaar? Hoe moet ek bedaar wanneer ons alles wat
ons, ons lewens lank so hard voor gewerk het binnekort gaan moet opgee? (Loop
na gehoor met sy rug na Ella gekeer.) VROU: (Gaan staan agter
hom.) Die Here sal voorsien, Willie. MAN: Maar wanneer Ella? Wanneer?
(Loop en gaan sit op bank, maak koerant oop.) VROU: (Loop
na fotorak en vat versigtig aan foto's.) Ek verlang na die kinders. Wonder
hoe dit met hulle gaan. (Loop na man.) Dit is iets om voor dankbaar te
wees. Herinneringe wat ons lewens met geluk gevul het en wat niemand ooit van
ons kan wegneem nie. MAN: Vier herinneringe wat duisend myl hiervandaan
is, terwyl hul pa met sy gat in die skuld sit! (Steeds agter koerant.)
VROU: (Loop na ander tafel, tel kombers op en sit dit op die tafel neer.)
Ek hoor Bettie Haasbroek van Klipfontein is annerdag oorlede. MAN:
Mmm. (Steeds agter koerant.) VROU: Gesondheid, Willie. MAN:
(Laat sak koerant.) Hoe sê jy, Ella? VROU: Ons kan dankbaar
wees vir dit, ons gesondheid. Jy's 68 jaar oud, Willie! MAN: Gesondheid?
My rug is gedaan, my knieë het'n kwarteeu gelede al die gees gegee en my
tande val vinniger uit as die paar hare op my kop! VROU: Maar, Willie....
MAN: Nee, Ella! Dit alles terwyl ek dag na dag vir ure lank in die landerye
sweet om te red wat daar te redde is! (Gooi koerant neer en staan op.)
Vir wat Ella? Vir wat? VROU: Vir mekaar Willie, vir mekaar. (Kyk
na ringvinger met eenvoudige troupand.) In meer as 40 jaar het ek nog nooit
eers daaraan gedink om hierdie ring af te haal nie. Vir daardie voorreg is ek
dankbaar, Willie. Ek is dankbaar vir ons! (Draai met rug na hom.) MAN:
(Man laat sak kop en lyk ietwat skuldig/ongemaklik. Loop na waar kombers lê,
tel dit op en draai dit om haar. Draai haar gesig na hom toe.) Ek ook Ella,
Ek ook! Loop af terwyl donderweer brul en blits en reën teen ruite
afloop. Kopiereg:
Eduan Roos
|
|
As jy dié stuk wil
opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik. Kopiereg
behoort aan die skrywer. Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente
aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).
|